Ek was nog altyd ’n beroepsmens. Ongetroud, woon alleen, geen sosiale lewe nie.

Als in my werk in die sakebedryf ingesit. Sukses behaal.

En toe, verlede jaar, tref die grootste terugslag van my hele lewe my. Ek verloor my goeie werk by die maatskappy waarvoor ek 15 jaar van my lewe opgeoffer het.

Hierdie slegte nuus het my wêreld in duie laat stort; my loopbaan was immers al waaruit my wêreld vir my bestaan het.

My sukses, my aansien, my luukse leefstyl – alles het oornag verdwyn.

Maar weens hierdie terugslag het ek eindelik ook tot een groot besef gekom, en dit is wat ek vandag graag met ander lesers van Huisgenoot wil deel: Dit is nie wat oor jou pad kom wat belangrik is nie, maar hoe jy dit hanteer.

Jou omstandighede bepaal nie jou waarde nie.

Aanvanklik het ek moedeloos in ’n hopie gaan sit en my dae in my kamer deurgebring. Sonder om te eet, slaap of glimlag.

Eers toe ek ophou om myself te bejammer en aansoeke vir werk indien, het ek ’n deurbraak bereik.

Wat saak maak, is hoe sterk ek – en jy – opstaan.

Ek werk nou vir ’n firma waar ek my waarde, kennis en beroep ten volle kan uitleef.

Met vandag se ekonomie maak suksesvolle maatskappye hul deure toe, wat meebring dat mense hul werk verloor. Maar die uitdagings wat oor jou pad kom, bepaal nie jou waarde nie.

Hou dus jou kop hoog en spits jou aandag toe op hoe jy die probleem gaan aanpak. Verskuif jou fokus weg van die hoekoms en waaroms na die moontlike oplossings.

My omstandighede omskryf nie wie ek is nie, maar wel my vasberadenheid, geloof en uithouvermoë.

Hoe hard ek val, is nie wat saak maak nie. Wat saak maak, is hoe sterk ek – en jy – opstaan. - Johanna, Op-die-berg

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.