Dit was onlangs so wonderlik om drie aande ná mekaar ’n vuurvliegie in ons tuin te gewaar.

Kinderlik opgewonde het ek lank na hom gestaar en foto’s geneem om die kosbare oomblikke vas te vang.

Dit het my teruggevoer na my kinderjare toe ek ure oor die dam se wal gehang het met my gesig by die water om na die paddavissies te kyk.

Op ander dae het ek op my maag gelê en die miere se bedrywighede dopgehou.

Ook lekker was om op jou rug op die gras te lê en diere en ander vorms in die wolke te probeer uitken.

Ons het hoog in die bome geklim, deel gevoel van die natuur om ons en na die wind se geritsel in die blare geluister.

Tot vandag toe bekoor die wind se fluisterstem my.

Die vinkies wat so besig en vernaam nessies bou, die formasies waarin die swaeltjies vlieg – alles net so mooi.

Saans het ons gesin buite gesit om na die sterre te kyk, met die krieke en paddatjies wat vir agtergrondmusiek sorg.

Ek kry vandag se kinders jammer wat ure lank na skermpies staar.

- Emil

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.