Sowat vier jaar gelede het my man ’n operasie ondergaan.

Vier dae ná die operasie, terwyl hy in die hoësorgeenheid was, het hy in die nag ’n beroerte gehad. Hy was byna ses weke lank in ’n koma.

Deur genade het hy daaruit gekom. Sy korttermyngeheue was beskadig, maar ek en my kinders was in vervoering met die wete dat dit soveel erger kon gewees het.

Ná twee maande is hy na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas, maar weens ’n bakterie en ’n virus wat hy opgedoen het, wou hulle hom nie opneem nie.

Hy moes huis toe kom. By die huis het ek met die grootste liefde na hom omgesien – wat by tye baie uitdagend was.

Ná sy herstel was daar geweldige gemoedskommelings. Hy kan binne minute heeltemal onredelik woedend word en al wat leef en beef wat oor sy pad kom, vloek – en ’n uur daarna is hy weer die vriendelikheid self.

Ek leef in angs, want ek weet nie wanneer wat gaan gebeur nie.

Hy het mense op straat al aangerand. Hy wissel tussen ’n nar wees in winkels en om regtig soos ’n vark op te tree.

Ek word heeldag óf gevloek óf met drukkies en soentjies oorweldig. Ons is al meer as 40 jaar getroud, maar die vet weet, ek kan nie so aangaan nie.

My senuwees is aan flarde.

Ek drink elke dag twee pille net om kalm te bly. Nie my kinders of iemand in ons vriendekring weet wat ek elke dag moet deurmaak nie.

Aan die een kant kry ek hom bitter jammer; aan die ander kant wil ek hom iets aandoen. Ek kan net vir krag bid om deur te druk.

Sterkte aan al die mense daar buite wat deur dieselfde situasie moet worstel. Moedeloos, Pretoria

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.