Gemengde gevoelens spoel oor my.

Ek mag nie haat nie, maar hierdie man het soveel hartseer gebring. Soveel weelde gesmaak terwyl ander so gely het.

Ons sukkel steeds ná agt jaar.

Ons makelaar, vriend en vertroueling van 25 jaar, “Schalk”, het ons destyds oortuig om al ons polisse af te koop en te “herbelê”.

So ook die geld wat ons uit die verkoop van ons plaas gekry het.

“As die nuwe beleggingskema verkeerd loop,” het Schalk selfversekerd aan ons gesê, “kan julle by my kom woon.”

Natuurlik vertrou ons hom toe ná 25 jaar. En toe verdwyn Schalk, nes Herman. Nie eens ’n oproep aan ons nie. Net weg.

Die afgelope agt jaar het ons geleer wat dit beteken om op die broodlyn te leef. Geen kuiers nie, geen nuwe dit of dat nie.

Niks ekstra vir Kersfees, verjaardae of die nederigste vakansie nie. Net leef, een dag op ’n slag, en hoop daar sal ietsie wees vir die volgende dag.

Geen toekomsbeplanning is moontlik nie.

Ek wou al so baie vir jou vra: Schalk, het jy geweet? Hoekom ál ons geld?

Ons is twee ou mense wat rustig moes gewees het, maar nou moet ons werk.

Ek is trots op my man wat so hard werk. Ek is so jammer vir hom; hy verdien dit nie.

Herman en Schalk, ek moet julle vryspreek. Die Here sorg en ek moet vergewe.

Ek kan nie dat julle my Ewige Lewe ook steel nie. Ek voel skuldig wanneer ek met woede aan julle dink.

Maar ek word nog so kwaad wanneer ek sukkel om basiese goedjies te bekostig.

– Soekie

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.