Pappie, jy is nie vandag meer met ons nie. Ek wens ek kon so baie dinge self vir jou gesê het; dit met jou uitgepraat het. Maar dis nou te laat.

Daarom skryf ek hierdie brief aan jou en deel dit met almal wat dit wil lees.

As kind het ek nooit verstaan hoekom jy so na die bottel gegryp het nie.

Was dit dalk al troos wat jy gehad het, die rede waarom jy met ons baklei het oor sommer niks of goed teen die mure stukkend gegooi het?

Ons was so bang vir jou. Saans het ons gewag dat jy van die werk af kom, maar dan kom jy glad nie – of bitter laat.

Dan het ons gehoor hoe jy die huis instrompel en op mammie skree, wat maar soos altyd geduldig op jou gewag het.

Hoe het jy gevoel toe jy vir die eerste keer iemand moet skiet? Jy was seker so alleen.

Die seer, die skaam, die bang . . . hoe kon ek as kind dit verstaan?

Nou verstaan ek. Pappie, jy was maar ’n kind van 16 – ’n kind met sy lewe voor hom; ’n kind wat nog nie reg was vir dit wat van hom verwag is nie – toe jy oorlog toe moes gaan.

Weg van die beskerming van jou ouers is jy blootgestel aan die wreedheid van oorlog en die blywende seer wat dit bring. Het jy destyds ooit geweet waar en hoe ver Egipte is? Ek twyfel.

Hoe moes jy staande bly en waar moes jy heen toe jy nie verstaan het wat om jou aangaan nie?

Hoe het jy gevoel toe jy vir die eerste keer iemand moet skiet? Jy was seker so alleen.

Pappie, ek dink ek verstaan nou, noudat dit te laat is om dit vir jou te sê.

Ek weet jy sou alles anders wou gehad het.

Daar was ook goeie dinge wat ek onthou. Dankie daarvoor. Pa, ek is lief vir jou.

Jou dogter, Laetitia

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.