Clinton Frans (25),  IT-administrateur  

As kind het ek een van daai swart plastiek-scooters gehad. Daai tipe waarvoor jou ouers altyd sê: “Hou op geraas maak.”

Ek het ’n oom gehad wat by ons gebly het, en hy het ’n bike gehad. Daar is een foto van my op sy bike met ’n helmet. Ek was nog klein. Ná skool het ek IT gaan studeer.

In daardie drie jaar, vanaf 2013 tot 2015, het ek ook ’n werk by ’n internet-cafe gehad. Ek het my salaris vir my eerste bike gespaar. Ek was 19 jaar oud toe ek my eerste bike, ’n Suzuki GSXR400, vir R8 000 gekoop het.

Hy was stukkend, maar ek het dit reggemaak en wou dit nie laat gaan nie. Maar ek moes dit laat gaan en het jare later vir my ’n Honda CBR600RR vir R30 000 gekoop. Dit was ’n pragtige bike.

Verlede jaar het ek my vyfde bike gekoop. ’n Kawasaki ZX-10R. Dit was die duurste nog.

 Clinton Frans (25), IT-administrateur
Clinton poseer 15 minute voor sy ongeluk vir ’n foto. Foto: Verskaf

Dit was R155 000, gefinansier, natuurlik. Dit was baie vinnig. Dit was geen grap nie. Nie dat ek ’n adrenalien-junkie was nie. Ek was ’n harde werker en het altyd van nice dinge gehou. En dié een was groen, my gunstelingkleur.

Toe ek dit die eerste keer gery het, dink ek kon mense seker deur my helmet sien hoe ek glimlag. Ek wou nog altyd so ’n bike gehad het. Maar toe kon ek dit net vir twee weke ervaar.

10 April 2019

Op albei my arms het ek tatoes gekry om my te herinner aan daardie dag toe my lewe ’n dramatiese nadraai gevat het. Dit was kwart voor vier die middag op 10 April 2019 toe ek op pad huis toe was.

Ek het ’n goeie dag by die werk gehad. My bestuurder het daai middag vir my gesê ek doen goed by die werk. Buite was dit ’n sonnige dag, soos vandag. Dit het later die ergste dag van my lewe geword.

Vyftien minute voor als gebeur het, het ek by die petrolstasie gestop en die werker daar gevra om met my selfoon ’n foto van my op my nuwe groen bike te neem. Ek het dit toe nog net twee weke gehad.

Ek het teen 50 km per uur in Jakes Gerwel-rylaan af gery toe ’n kar uit Zenithstraat kom en my van die linkerkant af teen my been stamp. Ek het gevlieg tot by ’n bakkie in die ander kant van die pad, die aankomende verkeer.

Die bike was middeldeur en ek het op die teerpad beland en gehoop niemand stamp my nie. Gelukkig was daar ’n polisievrou in die verkeer wat als gesien het en die pad vinnig afgesper het.

Die pyn

Alles het so vinnig gebeur. Daar was adrenalien, en ek het niks pyn gevoel nie. Totdat ek afgekyk het en my been gesien het. Dit was ’n grusame prentjie. Ek het geskree en gegil. Dit het gevoel of my wêreld tot ’n einde kom. Ek het onmiddellik erge pyn gevoel.

Die pyn het gevoel asof ek, wel, ’n been verloor het. In die ambulans is ek onder narkose gesit. Die laaste wat ek onthou, was ek in die ambulans.

Ek het toe al geweet hulle sou nie my been kon red nie. Daardie aand is my been afgesit. Ek het twee dae later in die hospitaal wakker geword. ’n Maatskaplike werker het aan my kom verduidelik wat gebeur het en dat my been afgesit is.

‘My been was duur, maar ek loop weer, en dit het nie ’n prys nie’

Ek’t onmiddellik gevoel waar my been is en net begin huil. Ek was stukkend. Ek is jonk en sonder een been. My ma het dit moeilik gevat. Sy het my altyd gewaarsku om veilig op die pad te wees.

Dit was hartseer vir haar om haar seun so te sien. Maar sy was gelukkig dat ek nog lewe. ’n Week later het ek in die hospitaal besluit dat ek my meisie van ses jaar gaan vra om te trou.

Ek het uit my hospitaalbed ons verlowing beplan en haar in die hospitaal gevra om met my te trou. Sy was nog altyd daar vir my en my ongeluk het my laat besef hoe kort die lewe regtig is.

 Clinton Frans (25), IT-administrateur
Toe Clinton in die hospitaal wakker word, was sy been af. Foto: Verskaf

Nuwe ‘been’

Ons het nog nie ’n troudatum nie; ons is nou eers in die proses om huis te koop. Twee maande later is ek uit die hospitaal ontslaan. Dit was so net meer as R200 000 vir ’n prostetiese been. My nuwe been kos meer as my bike, maar ek loop weer, en dit het nie ’n prys nie.

Dit het ’n rukkie gevat om aan die nuwe “been” gewoond te raak. Deesdae kyk ek nie meer na ou foto’s van myself waar ek twee bene gehad het nie. Ek hou van my nuwe been wat ek nou het. Ek kry baie aandag oor dit.

Ek’t aan die begin ’n hele paar keer daarmee geval. Nou is dit vir my normaal. Ek sit en dink nie terug aan toe ek twee bene gehad het nie. Ek lewe nou asof my eerste 24 jaar nie bestaan het nie.

Al waarop ek nou fokus, is die toekoms. Ek het myself al in die hospitaal reggeruk. Om my lewe weer op dreef te kry was al wat getel het.

Die hospitaal-dagboek

Dié situasie sou my nie terughou nie. Maar ek het my af dae gehad. Dan skryf ek in die hospitaal in my dagboek. Ek het geskryf hoe pynlik dit was, hoekom dit met my moes gebeur het en hoe onregverdig dit was.

Later het ek teruggegaan en dit gelees en besef dat ek onnodig gekla het. Dinge kon veel erger gewees het. Ek voel nie ek’s gestremd nie. Ek is steeds aktief en gym sowat vier keer per week.

Dinge vat deesdae net ’n bietjie langer. Soos om soggens myself vir werk reg te maak vat ’n bietjie langer, maar ek kry dit steeds gedoen. Niks, nie eens ek, gaan myself beperk nie. Ek moes net leer om aan te pas.

Alhoewel dit nog nie ’n jaar ná my ongeluk is nie, voel als weer normaal. Toe ek op daai teerpad in pyn gelê en gil het, het ek gewens ek is dood. Ek wou nie sonder ’n been lewe nie. Dit het so groot gevoel. Nou het ek dit als aanvaar en aangepas. Voor die ongeluk het ek in my eie bubble gelewe.

Ek het gedink ek is in beheer van alles in my lewe. Maar dit was God se manier om my te sê om teen sy spoed te lewe. Deesdae waardeer ek mense om my baie meer. Ek het nou vir my ’n kar gekry.

Gelukkig kan ek met die nuwe been ry. Die kar is gemaklik en dit het darem airbags. Daar is deesdae geen begeerte in my om ’n bike te kry nie. Daai hoofstuk van my lewe is verby.

‘Blades’

Dit was omtrént ’n reis, maar dinge het uitgewerk soos dit moet wees. Ek hoop net ek kan eendag hardloop. Ek sal dit graag wil doen. Maar miskien moet ek my een van daai blades kry om op te hardloop.

Dit lyk baie cool. Maar ek het nie meer ’n knie nie, so dit maak dinge ’n bietjie moeilik. As ek eendag wil hardloop, sal ek beter toerusting, soos ’n ander model prostetiese knie en been, moet kry.

Om te dink destyds het ek op Google gesoek na bikes om te koop. Nou google ek prostetiese knieë en wat dit als kan doen. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.