Die Boer soek ’n vrou-windpomp begin draai en ek wys vir my man, CJ, hy moet harder sit toe die kenwysie van die kykNET-maatsoekprogram begin speel. Vanaand kan ons níks mis nie. Die eerste vroue word dan vanaand huis toe gestuur. En dit is vir my altyd die ergste en die interessantste gedeelte van die program.

“So, ek dink Jacques moet die donkerkop met die krulhare kies,” begin ek vir CJ gou ’n opsomming van verlede week se episode aframmel aangesien hy dit misgeloop het. Dit was seker meer my mening as ’n opsomming, as ek nou terugdink.

“Sy is vreeslik oulik en lyk of sy op die plaas sal pas,” verduidelik ek toe die kamera’s op boer Jacques se plaas naby Loeriesfontein in die Noord-Kaap fokus.

“Ek het haar nou amper nie raakgesien met al daardie kamoeflering nie,” laat hoor CJ ’n oomblik later.

Die program maak ’n draai by Boer Adriaan en sy meisies. Ons sukkel nog om die boere se name te onthou. “Wie is Ruan nou weer?” vra ons mekaar voor die kameras by hom en die meisies in die spa kuier.

Ons loer ook in by Braam, waar dinge na my mening nog nie so goed gaan nie want dit lyk of twee van die drie nie meer lus is om op die plaas te kuier nie. Hulle is doodverveeld en doodstil. (Ek kry skoon terugflitse van boer Johannes, wat verlede jaar deelgeneem het, se rampspoedige plaaskuier.)

“Yola is baie verlief op hom,” sê ek en vra dan: “Dink jy Yola is kort vir Yolandie of Yolanda of is dit net Yola?”

“Nee ek dink Yola is net Yola. Mooi so Yola!” moedig CJ hier van die kantlyn af aan, vurk in die lug.

En dan is ons terug op boer Jacques se plaas toe hy sommer al vroeg in die program sy besluit moet maak.

“Neeeeeee...” sê ek, glas in die hand toe Melandri met ’n “scatter cushion” huis toe gestuur word.

“Ai Melandri,” sê CJ, en skud sy kop.

“Maar is Johan nou nie meer in die program nie?” vra my man aangesien ons nog nie weer gesien het wat daar op sy plaas naby Carolina in Mpumalanga gebeur nie. En ná hy kykers sommer vroeg in die reeks al ontstoke gehad het, is ons natuurlik die nuuskierigste oor wat hy volgende gaan sê.

Ons woorde is skaars koud toe staan boer Johan en die veel jonger Marilyn agter die bakkie en gesels duidelik diep-dinge in die veld. Dit lyk amper soos die geheime gesprekke in ’n episode van die werklikheidsreeks Survivor. (Nog een van ons gunsteling-programme.)

“Almal dink hy gaan vir Marita kies want hy praat heeltyd met haar. Hy het mos klaar gesê hy weet wie hy gaan kies,” bring ek hom gou op datum.

“Is dit Marita wat die wortelkoek moet bak,” vra CJ.

“Nee Marinda,” antwoord ek. “Hy gaan haar vanaand huis toe stuur,” meen ek. Marilyn en Marinda bieg albei voor die kamera dat hulle seker is Marita is die een wat gaan bly.

Maar daar verras boer Johan ons albei toe hy vir Marita hier in die laaste minute van die program huis toe stuur. Nee, verras is nie die regte woord nie. Ek was skoon geskok. En as ek die sosiale media dophou, sien ek ons was nie die enigstes wat amper aan ons wyn verstik het nie.

Een ding is seker, volgende week skuif ons weer met ons borde kos voor die kassie in om saam te kyk en lukrake kommentaar te lewer. Want wie weet wat volgende gaan gebeur?!

O nee wag, volgende week vlieg ons Johannesburg toe wanneer Boer soek ’n vrou se kenwysie begin speel.

Ai! Ek wonder of die lughawe kykNET het?