Maar Siposetu Mbuli (24) kan. Sy is ’n chemiestudent in haar finale jaar aan die Universiteit van Kaapstad wat die organisasie sonder winsbejag Love, This Skin – ter bewusmaking van albinisme – begin het.

Sethu, soos sy onder haar vriende bekendstaan, wat self albinisme het, het boonop tydens haar besoek kans gekry om kennis te maak met Harry en Meghan, die hertog en hertogin van Sussex.

“Ek was beslis in verwondering toe ek Meghan Markle ontmoet,” vertel Sethu oor haar ervaring op ’n spoggeleentheid in die Buckingham-Paleis waar sy haar prys ontvang het.


“Die eerste keer dat ek met haar gesels het, was toe ons almal saam met die koningin ’n foto geneem het. Sy (Meghan) het na my gekyk en gesê: ‘Baie geluk, julle doen wonderlike werk.” Sethu was uit die veld geslaan en het skaars geweet wat om vir die nuutste lid van die koninklike familie te sê, vertel sy.

“Ek het toe net dankie gesê,” vertel Sethu opgewonde. “Ek het aanvanklik, toe sy inkom, gedink ek sal vir haar wil sê hoe ongelooflik sy lyk, maar toe wonder ek of dit ’n gepaste ding sou wees om te sê.”

Sy sê Harry en Meghan is “plat op die aarde” en het met haar en van die ander pryswenners gesels oor hul projekte en ook die werk wat hulle (Meghan en Harry) met hul betrokkenheid by die Statebond se jeug wil doen.

“Hulle was baie ondersteunend en wil graag saam met ons saamwerk, wat wonderlik is,” vertel sy opgewonde. Die MFM-omroeper wat in Stellenbosch woon, kan skaars genoeg benadruk hoe dankbaar sy vir die geleentheid is.

Sethu het verlede jaar by ’n vorige wenner van dié leierskapsprogram gehoor en besluit om in te skryf. “Ek het in Augustus aansoek gedoen en eers in Desember gehoor dat ek ’n prys sou kry,” vertel sy. “Ek was baie opgewonde.”

Sy is een van twee Suid-Afrikaners wat vereer is. Thamsanqa Hoza, 'n entrepreneur van Kaapstad, het ook 'n leierskapsprys ontvang.

As deel van die program doen Sethu vanjaar ’n leierskapskursus aan die Universiteit van Cambridge. En vanaf 15 Junie was sy een van die 60 ander wenners van Statebondlande wat 10 dae in Londen deurgebring het.

“Dit was my eerste keer in Engeland, eintlik ook my eerste keer buite Suid-Afrika,” vertel Sethu, ’n boorling van King William's Town naby Oos-Londen in die Oos-Kaap.

“Dit het nogal my oë oopgemaak. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om dit te beleef.”

Tydens die besoek het hulle verskillende organisasies besoek en ook werksessies bygewoon wat hulle kan help om hul vaardighede vir hul verskillende projekte te slyp.


“Maar die hoogtepunt was beslis ons besoek aan Buckingham-paleis. Ek het nooit in my wildste drome gedink so iets sou met my gebeur nie.”

Sy vertel die oomblik toe sy koningin Elizabeth ontmoet, het heeltemal onwerklik gevoel.

“Dit het soos 30 sekondes gevoel. En ek was so op my senuwees. Ek was bang ek kniebuig verkeerd voor haar, of dat ek iets verkeerds sal sê. Ek was sommer bang ek struikel en val. Maar op die ou end het alles glad verloop. Sy luister baie aandagtig en kyk ’n mens reg in die oë terwyl jy praat. Maar sy ís nogal intimiderend,” vertel Sethu verder.

Sethu meen die prys is ’n reuse-eer. “As jong leiers weet ’n mens nie aldag of wat jy doen, ooit regtig saak maak en watter verskil dit sal maak nie.

"Maar iets soos dié prys gee my meer selfvertroue om groter kanse te waag en aan te hou met my werk en aan te hou met bewusmaking.

"Dit gee my beslis ’n platform, ’n groter verhoog om oor my eie toestand te praat en raakgesien te word.”