NAZIER BENJAMIN (60), SNOEKVERKOPER  

Ek loop omtrent oral kaalvoet. Ek los altyd my skoene in die bakkie. Ek wil die aarde onder my voete voel.

Ek was nog net een keer uit op ’n boot die see in, maar ek voel veiliger as my voete vas op die aarde geanker is.

Ek het al drie my kinders deur skool en universiteit gesit met snoekgeld. Vis is my lewe.

Om kinders groot te maak was nie maklik nie; dit was tough. Ek raak elke keer emosioneel wanneer ek aan daardie jare dink. Dit was swaar aan die begin.

Ná skool het ek getrou en toe gewerk as ’n general worker by die munisipa­liteit. Ek het net R60 ’n week verdien.

Toe los ek die werk, want ek moes op ’n manier meer geld maak. Ons kon nie so aanhou lewe nie.

Toe begin ek vrugte smous langs die pad. Maar die gewone vrugte het nie verkoop nie.

Eendag toe loop ek langs die pad en ek sien ’n rasta met ’n boksie pere. En ek koop toe die pere by hom, en ek en my vrou beginne toe toffiepere maak. Maar die pere was te sag om die stokkies te hou, toe maak ons toffieappels en verkoop dit.

Daarna het ek ’n worswaentjie gehad. Ek en my vrou. Haar naam is Rabia. Ons het elke dag met die trein Kaap toe gery, daar wors gekoop en hier in die Paarl kom verkoop.

Vrydae, Saterdae en Sondae het Rabia koesisters gebak en dit verkoop. My vrou. Sy het my met alles gehelp. Ons is nou forty years getroud; dit vertel alles.

Ek het al drie my kinders deur skool en universiteit gesit met snoekgeld. Vis is my lewe.

Maar ek moes steeds meer geld maak, want ek het drie kinders gehad wat ek deur die skool moes sit, en kos en klere was duur. Daar was aande wat ons net rys en uie kon geëet het. 

Toe begin die vis.

Almal in die visbedryf het vir Boetie Bellie geken. Hy het vis op die dorp verkoop, en ek het beginne opkyk na hom, kan jy maar sê. Hy is nou dood, God troos sy siel.

Die wonderlikste iets wat ek kan onthou, was die eerste keer toe Boetie my gewys het om ’n vis te vlek. Hy het ’n wit suit aangehad, wit sakdoek, wit broek, wit sokkies, wit skoene.

Nou, jy’t gesien – om ’n vis te vlek is ’n bloederige spul. Maar Boetie was ’n professional. Daar was nie ’n druppel bloed op sy wit klere nie. 

Hulle noem ons “langunas”. Dis die ouens wat na die hawens gaan en die vis in groot maat by die skepe koop.

Die skepe kom so tussen twaalf en een elke dag in die hawe, dan begin ons bie op die vis. Een languna sê R30, dan sê ek R35, ander een sê R50. 

Dan kom die Portugees – hy is die een met die meeste geld – en hy sê maak dit R60.

So bie ons tot die hoogste prys. Op die oomblik gaan ’n lekker snoek R160 uit die boot uit. Dit was gister daar op Yzerfontein. 

Dis dan ’n vars snoek met ’n kop aan. Mense in die Kaap is baie mal daarvoor om te betaal vir vars, várs vis.

Nou, jy’t gesien – om ’n vis te vlek is ’n bloederige spul. Maar Boetie was ’n professional. Daar was nie ’n druppel bloed op sy wit klere nie.

Maar die kopseer van daai om in die hawe te wees kom so in: As jy 10 visse koop wat pap is, dan verloor jy R1 600 op daai vis en jy verloor daai geld. 

Want ons kan mos nie deur die vis sien nie. Jy weet eers die vis is pap wanneer jy hom oopmaak om te vlek.

’n Pap vis is wanneer die tekstuur pap is – dis ’n pappery en jy kan dit nie eet nie. So dis ’n geloof-game. 

Terwyl jy terugry, bid en glo jy maar dat die vis agterop jou bakkie nie pap is nie en dat die bakkie nie te warm word nie. Want ons ys kan ook net so lank hou. 

Ons ry elke dag na enige hawe wat vis het, en dis ver ente. Doringbaai, Elandsbaai, Lambertsbaai, St. Helenabaai, Struisbaai en Gansbaai. Soms is daar niks vis nie; dit het nou weer oor Easter gebeur. 

Toe moes ons al die pad Port Nolloth toe ry, want daar is áltyd vis. Dit is so 10 ure se ry.

Dan kom ons so vyf- of sesuur terug in die Paarl aan, ons vlek die vis op die hoek, en die mense beginne stop.

Die vis wat daai dag nie verkoop nie, sout ons en droog dit. Ons noem dit oliesnoek of droë snoek. Mens eet dit so op brood.

Ek en my seun staan elke oggend ses­uur op, dan maak ons die bakkie en die seil reg, dan ry ons eers Kaap toe om so ton en ’n half se droë ys te gaan koop. 

Ons werk baie hard, meer as agt dae in ’n week. Soms slaap ons nie, want dis ry vir ys, ry na ’n hawe, koep vis, ry terug, vlek en verkoop.

Terwyl jy terugry, bid en glo jy maar dat die vis agterop jou bakkie nie pap is nie en dat die bakkie nie te warm word nie. Want ons ys kan ook net so lank hou.

Ek en my seun werk 24/7 saam. Ons ken alles van mekaar. In die bakkie sal ons praat oor wat als nog daardie dag gedoen moet word, oor geloof en oor wie die grootste vis gevang het – ek of hy.

Ons ry so met ons visstokke na die hawe. Wanneer ons baie vroeg by die hawe kom, dan maak ons self lyn nat langs die pad en ons kyk wie kan die grootste vis vang. Ons try elke dag om mekaar te wen.

Elke dag is hengeldag, maar elke dag is nie visvangdag nie. My seun het gister dit reggekry om ’n stompneusvis te vang. Hy is darem lekker. Galjoen ook. 

Ons verkoop nooit die vis wat ons self vang nie; ons eet dit ook nie. Ons gee dit weg vir ons bure – mense wat naby ons bly. 

My kinders sê ek gaan nooit geld maak nie, want ek gee al my profit weg.

Soos wat ons by die hawe wag vir die bote om in te kom, is daar altyd tyd om met die ander langunas te praat oor ditjies en datjies.

Die langunas is baie close, want ons weet ons almal se inkomste kom van die see. As ons hoor iemand het op ’n boot gesterf, dan maak ons geld bymekaar om vir daai ou se familie te gee. 

En as ’n visbakkie langs die pad staan, al ken jy hom nie, sal die visserman stop en jou help. 

Nou die dag gaan staan my bakkie anderkant Malmesbury. Die visserman het my seil gesien en geweet ek het vis agter­op. 

Binne minute toe sê hy ek moet my bakkie haak en hy het my, met my vrag, én sy vrag op sy bakkie huis toe getrek.

Ons ry so met ons visstokke na die hawe. Wanneer ons baie vroeg by die hawe kom, dan maak ons self lyn nat langs die pad en ons kyk wie kan die grootste vis vang. Ons try elke dag om mekaar te wen.

Ek het hom van geen kant geken nie. Maar sy naam was Boet en ek het sy phone number. 

Ek is nou al meer as 30 jaar in die bedryf en staan al vir 15 jaar op dié corner. Hierdie is die béste corner, want dit is langs ’n baie besige pad wat na Wellington, Ceres en Worcester gaan.

Ons het soms geelstert, hadders, silwervis en hotties ook. Ons staan in alle weer. In die reënt ook. Vandag is dit 43 grade buite. Dis Bolandse hitte dié. 

In die ou dae toe ons nog met koerantpapier gewerk het, voor plastiek, het alles natgereën. 

Jy is nat, jou koerante is nat, jou geld is nat, jou phone is dood. En jy moet met die oorskietvis by die huis kom.

Mense glo die smaak van vars vis is different van frozen vis in ’n winkel. 

Ja, frozen vis kan tot 12 maande in die freezer hang, maar dan trek die smaak uit hoe langer hy lê.

My pa was ’n polisieman – ’n speurder actually – en my ma ’n bloemiste. Ons kinderjare was baie different en ook moeilik gewees. 

Mense het nie vir jou geld gegee om ’n taak te verrig nie. Mense het ’n koeldrankie of ’n vrug gegee as betaling. Koeldrank was luuks gewees; koffie was régtig luuks. 

En kinders het baie respek vir hul ouers gehad. Ons sou nooit voor ons ouers gerook het nie. 

Ja, frozen vis kan tot 12 maande in die freezer hang, maar dan trek die smaak uit hoe langer hy lê.

Jy sal nie kom kla by die huis as juffrou jou ’n pak slae gegee het nie.

Almal het respek vir my pa gehad. Maar toe kry hy ’n stroke, en hy raak toe verlam aan die een kant van sy lyf. Hy kon toe nie meer werk nie. 

Ná sy dood toe sit my ma my in die weeshuis, want sy kon nie na my kyk nie. Daar het ek grootgeword en skoolgegaan tot st. 8. Ek kon darem elke naweek die trein vat huis toe.

Ná skool toe ontmoet ek my vrou. Weet jy, ek sal nooit weer iemand in my lewe aanvaar behalwe daai vrou nie. Ons is saam deur dik en dun. 

Ons het ons kinders op universiteit gehou en in die beste skole gesit deur die snoekgeld.

My oudste is vandag ’n dominee; die middelste seun het ’n graad in business science, maar hy het sy werk gelos en wou ons snoekstalletjie elke dag bedryf. En my jongste dogter is ’n educational psychologist. 

Ons het baie swaar gekry en moes baie spaar. Soms het my ma en my vrou ook by die stalletjie gestaan en help. 

Sekere tye was daar geld, mooi geld. Ander tye gaan dit sleg en jy gaan huis toe met minder geld as wat jy gehad het. 

Die volgende oggend staan jy maar weer op om ys in die Kaap te gaan koop en vis op die hawe. Dis maar ’n game van vertrou.

Jy weet nooit of jy gaan geld inbring nie, so as daar is, moet jy dit wegsit vir môre. 

Ons het ons kinders op universiteit gehou en in die beste skole gesit deur die snoekgeld.

Al is daar 10 koeldranke se geld, en dis so warm soos dit nou is, kan jy nie ’n koeldrank koop nie, want jy weet nie wat môre gaan gebeur nie. 

Ek voel ek het ’n paar goed in my kinders se lewe misgeloop omdat ek heeldag by die stand moes staan. 

Soos hulle gradeplegtighede. My seun het ook laat vir sy matriekafskeid gekom omdat hy my daardie dag moes help.

Maar ek het vir hulle gegee wat ek kon. Ek het vir hulle die bakstene gepak; hulle kan net aanhou bou. 

Kom neem deel aan die gesprek.
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.