Deesdae weet Louise hoe om haar toestand te bestuu
Deesdae weet Louise hoe om haar toestand te bestuur. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

“Ek het gedink ek is bietjie weird. Vir die grootste deel van my lewe was my interne monoloog: Wat is fout met my?” sê Louise (33).

“Ek het die eerste paar jaar van laerskool nie regtig maatjies gehad nie. Daar was kinders met wie ek gespeel het, maar hulle was nooit regtig maats nie. Ek het gesukkel om met ander kinders te kliek.”

Sosiale interaksie was ’n uitdaging, en ook romanse was moeilik.

“Ek is ’n groot deel van my volwasse lewe enkellopend, nie noodwendig uit vrye keuse nie. Ek het nog altyd gedink ek is vriendelik, slim en nice. Selfs my vriende op universiteit kon nie verstaan hoekom ek nie iemand kon kry nie.”

En toe, sowat ’n maand gelede, kry sy die nuus wat alles opeens vir haar laat sin maak het: ’n Sielkundige het haar vertel sy het outisme.

In Louise se skoene sal baie mense kop krap om dié diagnose te verstaan. Outisme word tog gewoonlik by kinders gediagnoseer. Maar Louise het dit 33 jaar lank reggekry om sonder professionele hulp te funksioneer, selfs ’n suksesvolle loopbaan as joernalis te bedryf tot waar sy vandag ’n bulletinredakteur van eNuus is.

Al is dit verstommend dat haar toestand so lank nie gediagnoseer was nie, vertel Louise baie dinge in haar lewe maak nou die eerste keer sin.

“Ek besef nou ek is nie ’n mislukking nie, maar dat my brein anders bedraad is. Ek het nou perspektief. Ek verstaan nou my grootwordjare beter en ek verstaan hoekom ek in sekere situasies angstig of bedreig voel.”

Terugskouend was daar eienskappe van haar persoonlikheid wat op die oog af na luiheid of karakterprobleme sou kon lyk wat nou vir haar verklaarbaar is. ’n Eienskap van outistiese mense is dat hulle dikwels nie op dieselfde sosiale vereistes as ander mense gesteld is nie.

Louise vertel een van die praktiese goed wat haar altyd in haarself laat twyfel het, is die feit dat sy nooit stiptelik kon wees nie.

“Ek is altyd laat vir werk. Dit is nou beter. Deesdae is ek net 10 minute laat en nie meer ’n halfuur nie. Ek kan glad nie betyds wees nie en baie mense sal dink ek is ongeskik of respekteer nie hul tyd nie, maar ek kan dit regtig nie aan iemand verduidelik nie.

“Ek is ook nie daarop ingestel om my plek netjies te hou nie. Ek kan my plek leefbaar hou, maar my brein sê nie vir my om my bord na die kombuis te vat nie.”

Oor die jare het sy wel geleer om die skyn voor te hou dat sy soos ander mense is om vriende te maak.

“Ek het op hoërskool agtergekom as ek mense laat lag, hou hulle van my.”

'Ek verstaan nou my grootwordjare beter en ek vers
'Ek verstaan nou my grootwordjare beter en ek verstaan hoekom ek in sekere situasies angstig of bedreig voel.' Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

In 2016 het sy ’n liefdesteleurstelling beleef. Die skok het die ander dinge waarmee sy gesukkel het, laat vererger.

“Dit het vir my gevoel of my wêreld tot stilstand geruk is. As ek ’n vriendin vir koffie moes ontmoet, was daar geen sprake dat ek betyds sou wees nie.

“Ek het baie meer gesukkel om goed skoon te maak en skoon te hou. Ek was toe nog ’n vryskutjoernalis en het spertye begin mis.

“Dit was vir my skrikwekkend om skielik nie my werk te kon doen nie. Ek was ook baie meer impulsief. Ek het baie aanlyn inkopies begin doen, en skielik het ek gesit met ’n klomp kredietkaartskuld wat ek nou nog afbetaal.”

Sy sê sy het twee jaar lank “aangesleep soos ’n gewonde dier” voordat sy in 2018 besluit het om op te hou werk.

“Ek het gedink dis net uitbranding. Ek het besluit óf ek kan aanhou werk en heeltyd angstig en skuldig voel, óf ek kan ophou werk en probeer genees. Gelukkig kon my ouers my finansieel uithelp in hierdie tyd.”

Agt maande lank het Louise nie gewerk nie.

“My liggaam en brein was uitgeput. Ek het heeltyd geslaap. Ek was depressief, maar ek het gedink dit is gewone uitbranding.

“Ek sou eers later uitvind dat daar so iets soos outistiese uitbranding is wat weens traumatiese gebeure plaasvind – dan verloor jy al jou lewensvaardighede. Party mense kry dit so erg dat hulle moet terugtrek na hul ouers of families toe, want hulle kan nie meer onafhanklik funksioneer nie.”

“Ek het gedink ek is bietjie weird. Vir die groots
“Ek het gedink ek is bietjie weird. Vir die grootste deel van my lewe was my interne monoloog: ‘wat is fout met my?’ ” erken Louise (33). Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

Louise het in ’n stadium begin vermoed sy ly aan aandagafleibaarheidsindroom.

In Mei vanjaar het sy kontak met die Neurodiversity Centre in Kaapstad gemaak, ’n instelling wat bystand aan kinders en volwassenes met outisme verskaf.

Sy het ’n paar sessies met ’n kliniese sielkundige gehad en haar vertel van haar uitdagings.

“Die eerste ding wat sy vir my gesê het, was dat sy dink ek is eerder outisties. Ek was uit die veld geslaan.”

Tog het dit beteken dat ’n groot deel van haar lewe nou vir haar sin maak.

“Dit verduidelik my hele lewe. Ek het ná my diagnose my lewe in oënskou geneem en ek verstaan sekere goed nou beter. Die uitbranding was nie omdat ek nie ’n behoorlike volwassene kon wees nie, maar my brein se manier om te reageer op situasies en gevoelens wat my bedreig.

“Selfs die sosiale aspek maak vir my sin. Die feit dat ek gesukkel het om vriende te maak en van een groepie vriende na die ander gespring het.”

'Dit was vir my skrikwekkend om skielik nie my wer
'Dit was vir my skrikwekkend om skielik nie my werk te kon doen nie.' vertel Louise. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

Deesdae weet Louise hoe om haar toestand te bestuur.

“Ek het stimulante wat my help om my toestand in sekere situasies te bestuur. Ek sal my vingers teen mekaar klap as ek by die werk is en ek het ook speelgoedslym waarmee ek speel om my aandag af te lei.”

Dié tipe optrede word dikwels as wenke aan mense met outisme voorgeskryf om onder meer hul stres te hanteer.

“Ek luister ook na baie kalmerende musiek en podsendings by die werk en as ek winkels toe gaan. ’n Uitstappie winkels toe was nog altyd vir my ’n nagmerrie.

“Ek het al baie nagelees oor my toestand, en nou weet ek dat ek anders is, maar dit definieer my nie. Ek weet hoe om met dit saam te leef.”

Wat sê haar sielkundige?

Volgens Karin Huyssen, die kliniese sielkundige wat outisme by Louise gediagnoseer het, is outisme ’n neuro-ontwikkelings- of neuropsigiatriese versteuring wat hoofsaaklik geneties is.

“Kinders word met outisme gebore en hulle kan agterstande hê in mylpaalontwikkeling of besonder vroeg begin loop of praat.”

Sy sê dit gebeur gereeld dat outisme eers later in mense se lewe by hulle gediagnoseer word.

“Sulke mense voldoen aan dieselfde kriteria as ’n kind wat aan outisme ly. Hulle is gewoonlik hoogs sensitief vir ander mense se emosies, wat tot uitputting lei.” Hulle leer ook sosiale reëls aan deur dit te bestudeer en na te doen, eerder as op die sorgelose manier wat ander mense dit optel.

Soos in Louise se geval word die diagnose meestal eers gemaak as hulle deur ’n moeilike tyd gaan. “Dit kan insluit puberteit, as hulle hoërskool toe gaan, druk by die werk ervaar of ’n liefdesteleurstelling het.”

Volgens Karin is daar baie mense wat outisties is en dit nie eens weet nie.

“Hulle ly in stilte. Hulle dink daar is fout met hulle en hulle verstaan nie hoekom hulle sukkel om vriendskappe te maak nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe