So volg ek elke dag die Jason Rohde-verhoor. En elke dag voel dit asof dit my eie storie is wat ek volg en ek wonder: Hoe weet julle alles van my af sonder dat julle my eens ken?

Die een verskil tussen my en Susan Rohde is egter ek leef nog.

Ek onthou die oomblik toe ek bevestiging kry van my man se buite-egtelike verhouding.

My lewe stort in duie. Ek eet nie; ek slaap nie. Niks wat ek doen, maak sin nie.

Ek smeek en soebat: “Vat my terug . . . Kies my; vertel my ek is mooier en slimmer. Maak my heel. Ek is tog die ma van jou kind.”

My kind word my ma, my oppasser.

Ek word ’n speurder, krap in jou e-posse, lees jul briewe, kyk na die foto’s en probeer soos sy lyk en praat. Ek wil net wees wat jy wil hê.

Ek druk haar foto’s uit; bestudeer elke haartjie, haar grimering, haar klere en elke stukkie inligting. Vra oor en oor dieselfde vrae.

Elke keer hoop ek op die waarheid, maar dis elke keer net nog ’n leuen.

My kind word my ma, my oppasser. Op ’n Sondagoggend gryp sy die bottel pille uit my hand en hou my vas, so styf ek dink sy probeer my stukkies weer aanmekaarsit.

En nou speel die minnares weer salig huis-huis met haar eie man en kinders, want sien, ek het hom nooit gekonfronteer en hom die waarheid vertel nie.

Haar dogter dink haar ma se hande is skoon. Myne stap elke dag stadig dié pad saam met my, jubel oor klein dingetjies wat ek vir my self doen en vier fees wanneer ek nie al weer my arms of bene sny nie.

Sien, jy het kom vernietig, maar ek staan op. Ja, dit is stadig, maar dit is vorentoe.

Jy, minnares. Jy, verkuller. Julle vernietig sonder om te dink. Anoniem

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.