Ludwig Taschner (77), rooskweker

Elke dag van my lewe is ek omring met rose. Ek bly hier op die plaas en loop daagliks deur die rose. Daar is oor die 800 verskillende variëteite. Jan van Riebeeck het saam met hom rose van die skip af gebring.

Dit het hom herinner aan die huis. Rose het hierdie bekoring wat jou laat verlang, maar dit bring ook vreugde. Ek het so te sê tussen die blomme grootgeword.

Ek het in Oos-Duitsland grootgeword en skoolgegaan. My ouers het ’n kwekery gehad. Ek het hulle van kleins af in die kwekery gehelp. Daar was baie plante. Veral vrugtebome.

Vrugtebome was toe nog belangriker as roosbome. Ek sou help om die plante nat te maak, die bome se takke te snoei en die kompos te bewerk. Ek het altyd geweet ek wil met plante werk. Ná skool het ek ’n ambag in boomkweek gedoen.

Ek was gefassineer oor waar plante en bome vandaan kom en het uitgevind baie is oorspronklik van die Kaap. Toe ek 17 jaar oud was, is ek Wes-Duitsland toe, waar ek by ’n boomkwekery begin werk het.

Ek het veral van appelbome geleer. Maar ek wou Kaap toe. Tog was ek nog te jonk. Toe besluit ek om aansoek te doen vir werk in Engeland.

Ek het nooit geweet die pad van Johannesburg na die Kaap was so lank nie.

Dit was omtrent in 1961. Daar was ’n groot rooskwekery wat vir my ’n werk aangebied het en ek het soontoe ge-hitchhike. Die roos was toe baie gewild onder die Engelse.

Ek het van appelbome vergeet en in rose begin spesialiseer. ’n Jaar later kry ek ’n brief van ’n kwekery in Suid-Afrika wat vra of ek nie vir hulle wil kom werk nie. Ek was toe 20. Ek het Johannesburg toe gevlieg.

Ek het nooit geweet die pad van Johannesburg na die Kaap was so lank nie.

In die Kaap eindig ek op by ’n kwekery wat in rose spesialiseer. Die volgende jaar is ek Pretoria toe. My destydse baas het ’n plaas in Kameeldrift gehad wat hy in ’n kwekery wou omskep.

Ek onthou nog dit was in Oktober. Die jakarandabome het geblom en die sonskyn was heerlik. Ek kon dit nie glo nie. Hier is ’n Duitser wat skaars aan sonskyn gewoond was wat in die middel van Afrika rondloop.

Ek het agt jaar lank op die plaas in Kameeldrift gewerk. Tye het begin verander en skielik was daar oral tuinsentrums.

My baas wou nie byt aan die idee om sakkies te gebruik nie. Dis toe dat ek besluit om te bedank.

Die tuinsentrums wil rose by verskaffers aankoop en rooskwekers het begin om rose in sakkies te verkoop. In die verlede kon jy net rose in Juliemaand koop. Jy het hom net so uit die grond uitgehaal en verkoop.

My baas wou nie byt aan die idee om sakkies te gebruik nie. Dis toe dat ek besluit om te bedank. Ek was vir drie maande Amerika toe om te kyk of die gras groener was, maar dit was helaas nie.

Ek het gesukkel om werk te kry. Ek het teruggekom Suid-Afrika toe. Suid-Afrika het my, vandat ek my voete hier gesit het, bekoor. Ek het van Pretoria gehou met sy jakarandabome.

Die feit dat dit nie so baie ryp in Pretoria nie, het dit gunstig gemaak om rose te kweek. Dis ook hier waar ek my vrou ontmoet het.

My vrou, Pamela, is van Upington. Sy het vir ’n ruk in Parys in Frankryk gaan werk, maar het teruggetrek Pretoria toe en vir Krygkor begin werk.

Ek het gehou van dans en het haar toevallig raak gedans by die Arthur Murray-dansakademie. The rest was history. In 1972 het ek in Pretoria begin soek vir ’n stuk grond.

Dit is toe dat ek afkom op die plaas wat vandag Ludwig’s Roses is. Hier was niks gewees nie. Dit was wild. Daar was nie elektrisiteit of ’n telefoonlyn nie, maar dit was al wat ek kon bekostig.

Daarby was die helling reg. Die snelweg was klaar gemeet en ek het gehoor dat daar ’n afrit na my stuk grond sou wees. Ek het die grond gekoop, maar daar was nie regtig geld om rose te begin kweek nie.

Ek het toe een van die eerste mense in Pretoria geword wat tuindienste gelewer het. Ons was baie besig. Ons het in een maand 50 tuine gedoen, en die kontant het begin invloei.

Dit was belaglike bedrae daardie tyd van R50 of R60 ’n maand, maar dit was agt sent vir ’n liter petrol. Ek het toe begin om die plaas se grond voor te berei, om te spit en rose te kweek.

Elke maand het ons meer en meer rose gekweek en dit aan die tuinsentrums verkoop. Ek het nog kontak met van die rooskwekers in Engeland gehad wat vir my nuwe variëteite kon stuur.

Die variëteite van rose kan verskil ten opsigte van die kleur, die reuk, die grootte van die blom en die manier hoe hy groei. Kort daarna het die regering die patentregte op plante bekendgestel.

As jy ’n nuwe variëteit gekweek het, kon jy patentreg op die roos by die departement van landbou kry, en dit het nou weer vir my tantieme ingebring as mense dit wou kweek. My eerste roos wat ek gekweek het, was ’n ‘Peace’-roos. Dit is ’n geel-en-romerige roos met groot blomblare.

Elke jaar moet jy ’n nuwe variëteit roos hê. Dis soos ’n mode. Ons het vir publisiteit begin om rose na mense te vernoem. Rina Hugo en Bles Bridges het hier kom optree en ons het rose na hulle vernoem.

Hulle variëteite is van die gewildstes in Amerika, al het die Amerikaners geen idee wie Rina Hugo of Bles Bridges is nie.

‘Toe sy hoor die roos se naam was “Naas Botha”, wou sy niks weet nie. Sy was immers van Natal!’

Die ‘Rina Hugo’-roos is ’n klassieke roos met purperrooi blomme, terwyl die ‘Bles Bridges’-roos bloedrooi is soos die rose wat hy altyd vir sy aanhangers sou gee.

Toe Nelson Mandela president geword het, wou ons ’n roos na hom vernoem, maar die presidensie wou niks weet nie. Toe doop ons die roos sommer ‘Madiba’. No problem !

Dieselfde met prinses Diana se dood. Ons moes toestemming by die Britse koninklikes kry. Dit was byna onmoontlik. Ons het besluit op ‘People’s Princess’, en daardie roos is steeds baie gewild. So sagte pienk roos met ’n lekker reuk.

Ons bly weg van sportmanne. Een van die ander rooskwekers het ’n roos na Naas Botha vernoem. Ons het hom ook gekweek en ’n vrou het hier aangekom en gevra vir ’n spesifieke soort roos.

Ek het haar hierdie roos gaan wys en sy was mal oor hom, maar toe sy hoor die roos se naam was ‘Naas Botha’, wou sy niks weet nie. Sy was immers van Natal! Ek het nie ’n gunstelingroos nie.

 Ludwig Taschner
Ludwig het in Oos-Duitsland grootgeword en sê rose het ’n bekoring wat jou laat verlang, maar bring ook vreugde. Foto: Fani Mahuntsi

Ek bly maar diplomaties as dit by rose kom, want anders gaan mense my gunstelingroos begin koop, en as hy nie goed vaar in hulle tuine nie, gaan hulle nie baie gelukkig met my wees nie.

My droom is nog om ’n bruin roos te kweek wat ook geurig is. Dis nog nie gedoen nie. Ek sal dit baie graag wil doen voor ek doodgaan.

Ludwig se gesin

Ek en Pamela het drie kinders. My seun, Halmar, het nou die onderneming oorgeneem. My dogter Anja behartig die takke in die Kaap.

Dan is daar Heike ook. Hulle het net soos ek tussen die rose en die blomme grootgeword en sit die tradisie voort. In die oggende is ek voor sonsopkoms al op.

Dan ry ek my draaie op die plaas om snoeiwerk te doen en om te kyk hoe die nuwe variëteite aankom. Ek is nou maar net nog ’n rooskweker. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.