Op Aardklop 2002 staan “standbeelde” op ’n hoek, met ’n blik wat lui: “Die klingel van jou nikkel sal my laat wikkel.” Die mense loop draaie om die “standbeelde”.

Meteens hoor Gesiggie: “Wat sal jy doen as ek jou soen?” Sy kyk vas in die ondeunde oë wat saggies vir haar lag. Net haar “standbeeldgesig” ontvries terwyl sy verder leweloos bly staan.

’n Les moet hy leer, dink sy. Versigtig word elkeen van sy silwer munte gebruik om die “standbeelde” te laat leef.

“Gou, Gesiggie, skud my hand terwyl die lense vir ons loer.”

Wie is hy? Wie is sy? In die dae wat volg, duur die speletjie voort. Om mekaar elke dag weer te vind word ’n avontuur.

Eindelik word nommers uitgeruil. “Net ’n oomblik naamloos hoewel jy in my boer.”

Wat is die kans? Potch is ver en Gesiggie, sonder haar masker, is gebroke.

’n Week later begin die SMS’e vlieg. “Leg die kaart van liefde, al neem dit jou ’n jaar, tot die mal maak van ons briewe en die oë op ons bedaar.”

En al wat Gesiggie van die ondeunde man skei, is die Magaliesberg. So het sielsgenote mekaar ontmoet en eers oor ’n afstand leer ken.

Danksy hom het Gesiggie weer die mansgeslag leer vertrou, want seerkry was al wat sy voorheen geken het.

“Sloop, sloop die mure, die mure wat ek bou. En alles, alles binne, Gesiggie, hoort aan jou.”

Met hul eerste weersiens was hy verstom. Die swart hare is ’n blonde kapsel en haar oë die kamers van haar siel.

– ELLA STEINMANN