My pa, 'n suksesvolle sakeman, was dikwels weg van die huis om transaksies te beklink. Ons het op Brakpan gewoon en was agt kinders. My pa het min aandag aan ons gegee omdat hy so besig was, maar hy het ons finansieel baie goed versorg. My jonger suster is beeldskoon en sy het altyd al die komplimente gekry. Sy was baie gewild onder die seuns. My selfbeeld het skade gely.

Dit is baie verantwoordelike werk, want een foutjie kan die ma en baba se lewe kos

In my st. 7 (gr. 9)-jaar het ons op Hermanus gaan woon omdat my pa 'n hotel daar gekoop het. Ons ouer kinders is na die koshuis in die Paarl waar ek matriek goed geslaag het. Ek het ekstra hard geleer om my pa se goedkeuring te kry. Ek het my ouers baie bewonder en wou hulle nie teleurstel nie.

Van ons agt kinders was ek die enigste wat universiteit toe is om verder medies te studeer. Ek wou almal wys dat ek ook iets beteken. Ek het self vir my agt jaar se studie betaal en het 'n ginekoloog geword. My kollegas het my altyd geprys en gesê ek is een van die beste ginekoloë. Ek het hard gewerk en is gou in 'n senior pos by 'n staatshospitaal aangestel. Dit is baie verantwoordelike werk, want een foutjie kan die ma en baba se lewe kos.

Ek is op 21 met 'n baie goeie man getroud en ons was baie gelukkig. Ons het sosiaal gedrink en twee pragtige kinders is uit ons huwelik gebore. My wonderlike man is agt jaar ná ons troue in 'n motorongeluk dood. Dit was baie moeilik, want ek was toe weer swanger. Dit is nou 22 jaar gelede.

Om my hartseer te help verwerk, het ek by 'n skubaduikklub op Simonstad aangesluit. Dit was baie lekker en ontspannend. Ongelukkig het die instrukteur persoonlik in my begin belangstel, want hy het gedink ek het skatryk geërf. Ons is dikwels see toe om te gaan duik en ek het my kinders begin afskeep. Ons is getroud en kort daarna geskei.

Daarna het ek 'n mansvriend agt jaar jonger as ek gehad en ons was 15 jaar saam. Ek het hom saam met my kinders opgevoed en gedissiplineer.
Kort ná my man se dood is my ma en pa ook oorlede. Ek het meer begin drink.

Ek is 'n week lank in die waakeenheid met dialise en longmasjiene aan die lewe gehou

Deur dit alles het ek steeds as ginekoloog gewerk. Later het ek soggens erg begin bewe en 'n regmaker begin neem. Ek het soms na drank geruik en is twee keer na 'n duur kliniek gestuur vir behandeling. My vriend het my verlaat. Op 'n kongres in Durban het ek groot skandes gemaak. By die werk het ek alkohol in die teater se plafon en in die pasiënte se toilette weggesteek vir 'n vinnige sluk.

Alkohol is baie slim. Dit neem jou hele lewe oor en jy verloor beheer. Dit is nie ander mense of gebeure se skuld nie. Ek is weer kliniek toe vir behandeling en was daarna vir ses maande sober. Ek was trots daarop en het gedink ek kan myself leer om sosiaal te drink. Onmoontlik. Spoedig was my hele pensioenuitbetaling uitgedrink. Ek het rondgeval vir werk, selfs in 'n gastehuis.

Ek was vir twee maande werkloos toe ek uit die bloute 'n aanbod kry om as dokter te werk. Ek was so dankbaar en het my voorgeneem om nooit weer te drink nie. Ongelukkig kan ek nie sosiaal drink nie en het weer my werk verloor. Ek is nog drie keer kliniek toe vir behandeling. My kinders, van 28, 26 en 22, was keelvol vir my, ek kon nie my woonstel betaal nie, ek was in 'n pikdonker gat, dronk, werkloos, eensaam, hopeloos, 'n mislukking. Jammer dat ek nou huil.

Toe vat ek 'n bottel wyn en vrieswering (antifreeze) en drink dit. My dogter het 'n uur later opgedaag en gedink ek is dood. Ek was bewusteloos en is deur 'n ambulans na 'n hospitaal gebring. My maag is uitgepomp, maar my niere en longe het platgeval. Ek is 'n week lank in die waakeenheid met dialise en longmasjiene aan die lewe gehou. 

Toe ek wakker word, sit 'n dokter langs my bed. Ek kon hom slegs deur 'n waas sien. Dit was asof hy 'n engel was. Hy sê toe vir my God het my lewe gered, want ek was amper dood. God het 'n plan met my lewe. Ek was daarna weer vir twee dae bewusteloos. Dieselfde dokter was weer langs my bed toe ek wakker word. Sy woorde was die keerpunt in my lewe. 

Leef as aktiewe, vrolike, nederige Christen en help ander

Ek weet jy kan nie sonder God se hulp verslawing oorwin nie. Ek weet ek kan nie sosiaal drink nie. Ek is nou 628 dae sonder alkohol, my kinders is baie lief vir my, ek het 'n baie goeie werk en lekker woonstel, daar is geen man in my lewe nie. My lus vir drank is weg. Ek skuif my skoene diep onder die bed in saans sodat ek soggens op my knieë moet wees om die dag te begin. Daar is hoop vir my en ek vat dit een dag op 'n slag.

Ek woon soms partytjies by, maar maak seker dat ek self my koeldrank skink. Ek en my kinders was onlangs op 'n bootrit van vier dae en dit was fantasties. Jy moet die lewe op 'n gesonde manier geniet, dan is dit die moeite werd om te leef. Daar is geen drank in my woonstel nie en my kinders drink niks.

Ek merk elke sober dag af op die teëls in my badkamer. Ek praat openlik oor my drankprobleem en mense respekteer my daarvoor. Daar is baie versoekings soos skemerkelkies, uitstappies na die wynroetes, werkpartytjies en advertensies. Ek hanteer elke versoeking soos dit kom.

Raak ontslae van jou bagasie en verskonings, al is dit ook hoe moeilik. Beveg eensaamheid en selfbejammering. Leef as aktiewe, vrolike, nederige Christen en help ander.