Cornell Swart het drie jaar gelede haar eerste met
Cornell Swart het drie jaar gelede haar eerste metaalverklikker as ’n geskenk gekry. Vandag is sy ’n ywerige skattejagter. Foto: Misha Jordaan

“Die beste tyd om te jag is wanneer dit laaggety is. Sodra dit lig is, pak ek ’n fles met yswater, soms iets om aan te peusel, my selfoon, waterskoene en ’n paar handskoene en ry dan af see toe.  

Ek besluit op die dag waar ek gaan jag. Dis gewoonlik Gordonsbaai of in die Strand. Ek spandeer maklik vier tot vyf ure op die strand. As die gety inkom, is ek eers klaar vir die dag.

Gelukkig werk my man van die huis af, so as ek vroeg uitgaan, sal hy sorg dat die kinders by die skool kom. Die kinders is nou elf en vyf jaar oud. Hulle is soos hul pa en stel nie baie in skattejag belang nie. Hulle vind dit vreeslik vervelig. Maar ek is totally hooked. Ek is ’n tuisbly-ma; dit maak dit makliker om my stokperdjie te beoefen.

Skattejag is nie iets wat ek ooit gedink het ek sou in belangstel nie.

Ons was een dag in 2017 op die strand toe ek iemand met ’n metaalverklikker sien. Ek was dadelik nuuskierig. Toe ek by die huis kom, het ek begin navorsing doen oor mense wat met metaalverklikkers skattejag. Ek het half ’n obsessie daarmee ontwikkel en die heeltyd YouTube-video’s daaroor gekyk.

Eendag het ek vir my man, Gerhard, gesê ek sal hiervan hou. Ek het geweet die toerusting is duur, maar ek het aanhou laat val hoe graag ek dit wil doen.

Toe sit Gerhard, my ouers, Marie en Sias Fourie, en my broers, Stefan en Tian, geld bymekaar en koop vir my verjaardag vir my ’n verklikker. Gerhard het ná die eerste jaar, toe hy sien dat ek die stokperdjie eintlik baie geniet en dit nie net ’n wit olifant gaan word nie, vir my ’n nuwe, beter masjien gekoop.

Ek gaan jag ’n paar keer ’n week.

Afhangend van hoe die wind die vorige paar dae gewaai het en die getye, kyk ek na waar die sand oop gewaai is en waar ek tussen die klippe kan sien. 

Baie mense dink jy moet op die droë en nat sand op die strand loop en dat dit is waar mense juwele en ander goed verloor. Maar die beste plek om te soek, is reg in die water, want dís waar goed maklik af val. Dink so daaraan: jou hande krimp in die water, dit raak koud of jy het sonblok aan. Dis maklik vir goed om dan af te glip. Hangertjies breek los, ringe gly af. 

Dít is waar ek soek. Partykeer is dit ’n klein area, net ’n paar meter wyd. 

Cornell sê sy verkies dit om by die see na skatte
Cornell sê sy verkies dit om by die see na skatte te soek eerder as op land. Foto: Misha Jordaan

’n Mens kan natuurlik op land, soos langs riviere en in oop parke, ook jag. Jy kan ook, as jy toestemming kry, op iemand se plaas gaan jag. Maar dit word meestal in die winter gedoen. Gedurende die ander seisoene van die jaar is die grond te hard en sukkel jy om te grawe. Dis net makliker as dit gereën het. 

Dis belangrik om te onthou dat jy so min as moontlik skade moet doen in die omgewing waar jy jag. Ons gebruik ’n skerp graaf om ’n gat in die grond te maak, sodat ons dit net so weer toe kan maak.

Ek verkies die see bo die land. Daar is soveel minder opsies op land. Jy kan nie op iemand se privaat grond gaan jag sonder toestemming nie. Dis deel van die metaalverklikkers-erekode. Ons jag ook nooit op erfenisterreine of in begraafplase nie. Daarby bly ek ook net ’n hanetree van die strand in Gordonsbaai.

Deel van die erekode is ook om enige gemors wat ons vind, uit die see te haal. Ek het ’n sak wat ek om my lyf vasmaak waarin ek al die rommel sit terwyl ek jag. Ek gooi dit dan by die huis weg. Op dié manier voel ek ek dra by tot die bewaring van die see en ek maak skoon terwyl ek dit geniet. 

Daar is dae wat ek niks op die strand vind nie. Maar dan het ek ook al vreeslike interessante goed gevind.

Een van die ringe wat ek dra, is 130 jaar oud en 15 karaat goud.

Ek en my vriend Henk, wat ook metaalverklikking doen, het dié dag saam uitgegaan strand toe. Ons was ongeveer twee ure in die jag in, toe Henk dit vind. Ek het so baie van die ring gehou dat hy ingestem het dat ons uitruil en toe gee ek hom ’n ring van dieselfde waarde.

Tydens een van haar skattejag-uitstappies het sy e
Tydens een van haar skattejag-uitstappies het sy en haar vriend op hierdie ring afgekom. Die ring is 130 jaar oud en van 15 karaat goud. Sy vertel wanneer sy iets ontdek wat relatief nuut lyk, probeer sy die eienaars daarvan opspoor. Foto: Misha Jordaan

Ek sê nie graag spesifiek waar ek sekere items vind nie, want anders is daar môre ’n klomp ander mense met verklikkers wat daar soek.

Daar is munte wat ek gekry het wat teruggaan na die 1800’s, maar dit lyk asof dit gister laat val is. Ou munte soos pennies, sikspense, tiekies en sjielings. Enigiets waaraan jy kan dink.

Tog het ek een van my grootste vondse op ’n plaas in Stellenbosch gekry. 

Die eienaar het my eintlik gevra om my gereedskap te gebruik om lemme te soek wat in sy wingerd beland het, omdat hy nie wou hê dit moes sy trekkers se bande beskadig nie.

'Daar is dae wat ek niks op die strand vind nie. Maar dan het ons ook al vreeslik interessante goed gevind.'

Ek het ’n munt gevind wat uit 1707 dateer. Dis ’n klein, Hollandse muntjie en een van die eerste geldeenhede wat in die Kaap van Goeie Hoop gebruik is. 

Nog ’n unieke vonds was só ’n groot, dik pennie uit die 1700’s. Afrikaanse mense noem dit die duiwelspennie, want dit het ’n hibernia op. Die plant lyk soos waar die duiwel met ’n vurk uitgebeeld word. Ek het dit in ’n parkie gevind. Mense moes daar gaan stap of piekniek gehou het en die pennie moes toe uit iemand se broeksak of iets geval het.

In die meeste gevalle hou ek die skatte wat ek vind. Ek het boksies waarin ek my skatte bewaar. Op die oomblik staan dit bo-op my klavier. Ek het nog nie aan ’n ander manier gedink om dit uit te stal op ’n manier wat ek aanloklik vind nie.

Wanneer ek sien iets wat ek gevind het is relatief nuut, probeer ek die eienaars opspoor. Een keer het ek ’n baie unieke trouring op die strand in Gordonsbaai gevind.

Ek het op Facebook en ons plaaslike Whatsapp-groepe vir hulp gevra om die eienaar op te spoor. Toe antwoord ’n vrou haar kleinniggie het drie maande vroeër haar ring op die strand daar verloor. Die kleinniggie het baie gewig verloor en hulle het in die water gespeel, toe val haar ring af.

Hulle stuur toe vir my ’n foto van die ring, en dis toe inderdaad hare wat ek opgetel het. Sy het al die pad van Durbanville af gery om dit te kom haal. 

My pa het intussen ook ’n liefde vir skattejag ontwikkel. Hy sal soms tot twee of drie keer ’n week saam met my kom. Dis ons spesiale tyd saam.

Gerhard, aan die ander kant, verkies eerder om te gaan hardloop of ’n moeilike staproete in die berge of oor die klippe by die see te doen. Dis vir hom lekker dat skattejag my gelukkig maak. 

Dit maak my só gelukkig dat – as ek kon – ek heeldag met my metaalverklikker sou wou uitgaan en skatte jag.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.