Lizelle Theron (26), onderwyseres

Ek het by die klas ingestap en gegroet en die kinders het terrified gelyk. Elkeen het ’n masker opgehad; ek kon in hulle oë sien hulle is bang en onseker.

Kan jy dink hoe erg dit vir ’n kind moet wees om terug te gaan skool toe tydens hierdie pandemie?

Vir my as onderwyser is dit net so erg. Die verhouding wat jy voorheen met die kinders gehad het, is nie meer moontlik nie.

Dit is so moeilik om hulle emosies van agter ’n masker te lees – jy sien net al hierdie gesiggies se oë wat vir jou staar.

Daar is baie, baie streng reëls in die skool om seker te maak die kinders en die onderwysers bly veilig.

Skielik moet jy twee keer dink voor jy iets doen. Ons mag nie meer tussen die banke loop en langs die kind gaan sit om hom te help of iets te verduidelik nie.

Ons kan nie meer op ’n interaktiewe manier klas gee nie, want niemand mag naby mekaar kom nie.

En dit is regtig baie moeilik, want vir só lank gee jy klas op ’n sekere manier, en vir só lank engage die kinders met hulle onderwyser op ’n sekere manier – nou kan jy nie meer nie.

Net wanneer jy iets wil doen, dan besef jy jy mag nie.

Dan moet jy twee tree terug gee. Die kinders moet ten alle tye 1,5 m van mekaar af wees; daarom het ons die klasse veel kleiner gemaak.

Waar ons altyd vyf gr. 7-klasse gehad het, het ons nou 10.

Maar nou kort daardie ekstra klasse ook onderwysers. Ek is ’n gr. 5-juffrou en gee nou klas vir die gr. 7’s.

Lizelle in die klaskamer. Foto: Verskaf
Lizelle in die klaskamer. Foto: Verskaf

Maar dit is moeilik vir hulle, want hulle ken my nie en ek ken hulle nie. Hulle het my nog nooit tevore in ’n klas gesien nie, en boonop moet ek van agter ’n masker vir hulle klas gee.

Ek is ’n ekstrovert. Vir my is dit ekstra moeilik, want ek glo dit is ongelooflik belangrik om met elke kind ’n verhouding te bou.

Kinders leer nie by ’n onderwyser met wie hulle nie oor die weg kom nie.

 Ek is in die onderwys, want ek wil kinders se lewens verander. Nie noodwendig deur vakinhoud nie, maar met waardes en maniere.

My ma is ’n kleuterskoolonderwyseres, en ek wou van kleins af ook ’n onderwyser wees. Ek het met my poppe klas-klas gespeel en lesse opgestel vir hulle.

Ek moes hierdie jaar my graad gevang het, maar weens covid is my gradeplegtigheid uitgestel. Dit is baie hartseer vir my. My ouers bly in Nieu-Seeland; hulle sou hierheen kom en ons sou dit saam gevier het.

Ek en my man is al drie jaar getroud. Ek is ongelooflik geduldig met kinders, maar my man is die teenoorgestelde. Hy is nou weer goed met rekenaars.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Hoewel ek lief is vir kinders, wil ons nie in hierdie stadium ons eie hê nie. Dit is my passie om kinders te help, maar dis ook vir my lekker om hulle terug te stuur huis toe.

Laat Mamma en Pappa vir hulle kos gee en in die bed sit.

Ons het twee honde en ’n kat, en hulle is soos ons kinders. Hulle kom weg met alles.

Die paartjie by hul hondekinders. Foto: Verskaf
Die paartjie by hul hondekinders. Foto: Verskaf

As ek my kinders moet grootmaak soos my diere, sal daar groot moeilikheid in ons huis wees. Maar hierdie virus het alles verander. Dis moeilik om die kinders te help as jy nie met hulle kan connect nie.

 En hulle is regtig bang. Hulle is nie altyd seker hoe om op te tree nie. Mamma en Pappa by die huis is dalk ook angstig oor die virus.

Die laaste ding wat jy wil hê, is dat hulle skool toe kom en sien hulle onderwyser is ook angstig.

Alles het verander sedert die pandemie uitgebreek
Alles het verander sedert die pandemie uitgebreek het. Lizelle sê klasgee het nuwe uitdagings wat dit moeilik maak. Foto: Verskaf

Hoe dinge in die verlede was, is nie meer nie.  Die kinders het byna geen interaksie met die onderwyser nie. Hulle is bangerig om te gesels en iets te vra.

In die verlede was hulle nie bang om te praat nie – jy weet mos hoe kinders is?

Hulle het deelgeneem in die klas, grappies gemaak, teruggepraat met jou en hulle hande opgesteek, want hulle wil ook iets sê.

Maar nou is dinge anders.

Ek weet nie of dit is oor covid, omdat die klasse kleiner is of omdat hulle ’n masker moet dra nie.

Maar, vandag weer: Ek sal ’n vraag vra en dis doodstil.  Ek was soos: “Hallo?”  Nie ’n hand het opgekom nie.

Dis asof hulle bang is hulle doen iets verkeerd. Maar ons probeer ons beste om almal veilig en gerus te laat voel. 

Ons het onderwysers wat by spesiale punte by die ingange van die badkamers sit en kyk dat daar nie meer as drie kinders op ’n slag daar ingaan nie.

Daar is groot wit kolle, stickers, op die vloer buite die badkamers geplak. Die kolle is 1,5 m uitmekaar. Die kinders moet daarop staan en wag vir hulle beurt.

Elke kind se hande word ge-sanitize voor hulle ingaan, weer wanneer hulle daar uitstap en ook voor hulle weer terug by die klas ingaan. 

Daar is ’n spuitbottel by elke klas se ingang, en op elke deur is ’n papier geplak wat hulle aan die vyf stappe herinner:

Was jou hande. Hoes of nies in jou elmboog.

Moenie aan jou gesig raak nie. Bly altyd 1,5 m van mekaar af. As jy siek is, bly by die huis.

‘Dis moeilik om die kinders te help as jy nie met hulle kan connect nie. En hulle is regtig bang’ 

Almal moet elke middag teen 14:45 van die skoolterrein af wees, want dan kom die skoonmaakpersoneel en sanitize elke klaskamer; of daar iemand deur die dag in die klas was of nie, dit maak nie saak nie.

Al die banke, die stoele en die vloere word skoongemaak. Voor die virus sou ek altyd in die oggende spesiaal vroeër by die skool aankom net om in die personeelkamer vinnig met ’n paar onderwysers op te vang oor ’n lekker koppie koffie.

Maar nou mag ons dit nie meer doen nie. Daar mag nie meer as drie personeellede in die personeelkamer wees nie. Ons mag nie rondstaan en gesels nie.

Van die tafels en stoele is uitgedra. Daar staan net een stoel by elke tafel.

Ons mag nie meer die yskas gebruik om ons kos in te sit nie; ons mag nie meer die mikrogolf gebruik om iets warm te maak nie.

Ek het my eie ketel, beker, melk en sommer drie bokse beskuit skool toe gebring om gedurende pouse gou vir my ’n koffie in my eie klas te maak.

Daar mag ook nie meer as twee onderwysers in ’n klas saam wees nie, so ons is nou meeste van die tyd in ons klasse. Ons almal behoort aan ’n WhatsApp-groepie, en ons kommunikeer maar so met mekaar as daar iets belangriks is.

Ja, daar is onderwysers wat bang is, nie net by my skool nie. Oral.

Maar ons skool se bestuur is fantasties. Hulle kyk regtig mooi na ons, en ek voel veilig.

Ek is versigtig, ja, maar ek is nie bang as ek klas gee nie.

Ons almal is bewus van wat aangaan, maar dit gaan ons nie keer om ons werk te doen nie.

Mense moenie onderwysers onderskat nie. Ons verstaan ouers is angstig, maar ons is gebore om onderwysers te wees.

Ons kan juis die kinders meer leer van covid of social distancing.

Ons is die perfekte mense om deur te dring tot kinders. Ons werk baie hard. Gun ons ’n kans om julle te wys wat ons kan doen. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.