Alida se deurbraak was toe sy Haas Das van 'Haas D
Alida se deurbraak was toe sy Haas Das van 'Haas Das se nuuskas' gemaak het. Foto: Fani Mahuntsi

“Die kuns van marionette raak al hoe skaarser. Dis dalk omdat dit so moeilik is om te maak en te vervoer. Maar baie mense het nog ’n liefde vir marionette. 

Ek maak al marionette vandat ek 11 jaar oud is. Ek sou akkerdoppies in die tuin optel en slangetjies en wurmpies daarvan maak en garing aan hulle vasmaak. 

As kind het ’n onderwyser vir ons gewys hoe om papierpap te maak. Ek was baie opgewonde daaroor.

Ek het altyd daarvan gehou om iets met my hande te maak. My eerste pop was ’n handpop. Dit was ’n hanswors. Ek het gou marionette bo handpoppe begin verkies.

Alida van Deventer maak al sedert sy 11 is haar ei
Alida van Deventer maak al sedert sy 11 is haar eie marionette. Foto: Fani Mahutsi

Een van die hoofredes was die wete dat ’n marionet bene het. Dis ’n volledige figuur wat heeltemal uit die verhoog kan spring.

Dit was vir my ’n meer bevredigende gedagte as handpoppe, wat normaalweg net halwe lywe het, en destyds tot die opening van ’n poppekas beperk was. 

Vandat ek begin het, moes ek altyd al my marionette self maak. Daar was nie juis marionette in die plaaslike winkels beskikbaar nie.

Die enigstes wat ek in my kinderdae te siene gekry het, was in ’n opvoering by Jan Celliers Laerskool toe (die internasionaal bekende poppemeester) Jan Bussell van Engeland in 1952 in Suid-Afrika getoer het. En ’n bietjie later, in 1957, was John Wright en sy marionette uit Londen te sien in die Johannesburg Library Theatre in die middestad van Johannesburg. 

Maar marionette was my lewe lank my passie; handewerk was vir my altyd lekker.

Ek is as kind ‘die een wat altyd iets maak’ gedoop.

Daar was altyd kuns in die huis. My ma het geskilder en my suster het beeldhouwerk gedoen.

Ek was een van vyf kinders en ons almal het geverf of iets kunstig gedoen. Dit was vir my altyd lekker om mense te vermaak en mense te maak lag. 

Ná skool was daar nêrens ’n kursus oor poppeteater nie. Ek het besluit om by Grahamstad musiek en kuns te gaan studeer. Nadat ek graad gevang het, het ek vir ’n ruk in Engeland gaan werk om meer ondervinding in die kuns van marionette te kry.

Sy het 'n werkwinkel waar sy hulle aanmekaarsit.
Sy het 'n werkwinkel waar sy hulle aanmekaarsit. Foto: Fani Mahutsi

Daar was nie in Suid-Afrika ’n plek waar jy regtig die kuns kon leer nie. Ek het vir so ses maande by die Little Angel Marionette Theatre in Londen onder John Wright gewerk. Ek het verskriklik baie by hom geleer. 

Ek het ook deur Europa getoer en gaan kyk wat verskillende marionetkunstenaars doen en hoe hulle marionette maak. 

Ek het daarna saam met die Salzburgse Marionetteteater in Suid-Afrika getoer en my daarna gevestig by die marionettegeselskap van die Johannesburgse Stadskouburg en daar gewerk as hoof-marionettekunstenaar.

Alida (links) het vroeër jare as die hoof-marionettekunstenaar van die Johannesburgse Stadskouburg gewerk. Foto: Verskaf

Een van my grootste hoogtepunte was om die karakter Haas Das vir Haas Das se Nuuskas te maak.

Dit was vir Suid-Afrika ’n nuwe ding, want televisie het toe net begin. Daar was net een kanaal. Dit was die eerste program op die eerste dag van televisie op die eerste kanaal. Dit was ’n groot deurbraak vir my. 

Ek het egter nie regtig so baie televisiewerk gedoen nie. Dit was net Haas Das, en dan het ek so twee karakters vir die televisieprogram Pumpkin Patch gedoen. 

Ek het vir so vyf jaar vir die Civic-teater gewerk en baie marionette gemaak. Elke skoolvakansie het ons opvoerings gedoen – meestal feëverhale soos Jannie en die boontjierank

Ek het ook kerke gekry wat my genader het om vir hulle vertonings te doen, maar ek het besef dit is moeilik om ’n klomp marionette te maak vir een storie. Dit vat lank om hom te kerf en garings aan te sit en kostuums te maak. 

Ek het toe besluit om skaduweeteater te probeer. Dit is silhoeëtte wat jy teen wit papier hou met ’n lig agter. Dit is ’n ou tradisie wat uit die Ooste kom.

Dit was vir my wonderlik. Jy kan ook kleur gebruik as jy deurskynende transparante gebruik. Dit is ’n heel ander atmosfeer wat jy daaruit kry. Dit is baie gepas vir Bybelverhale; jy kan simboliese goed maak.Ek het die hele verhaal van Jona en die walvis gedoen. Dit was nogal ’n gedoente.

Ek het later die hele kruisiging ook gedoen.

Een van haar Bybeltonele
Een van haar Bybeltonele. Foto: Fani Mahutsi

Ek het ’n teater by die huis waar ek klein opvoerings doen. Ek doen dit nie meer so baie soos toe ek jonk was nie, maar ek doen dit nog van tyd tot tyd.

Dis gewoonlik verskeie marionette wat verskillende toertjies doen met vrolike musiek daarby. Daar is ’n seekat en vissies wat swem. ’n Dirigent wat musiek dirigeer of ’n apie wat met ’n besem vee.

Behalwe vir die opvoerings is dit ook vir my lekker om hulle te maak. Dit is nogal ’n lang proses. 

Jy kry ’n ontwerp en maak klein sketsies op ’n papier wanneer jy daaroor dink. Jy beplan waar hy ’n garing nodig het vir sekere bewegings. Dan moet jy dit op groot papier op skaal teken. Dan moet jy hom stuk-vir-stuk aanmekaar sit. Jy kan die hande van draad maak of uit hout kerf. Jy kan papierpap gebruik vir die kop en dan moet jy hom mooi verf en ’n kostuum vir hom maak.

Jy moet ook ’n kontrole vir hom maak. Dit is die kruisstokkie wat bo kom om hom te beheer.

Ek het besluit om ’n boek, Marionette Ontstrengel, te skryf oor hoe om marionette te maak sodat my kennis nie verlore gaan nie. Oor baie jare het ek begin skryf daaraan.

Beskikbaar by Groep 7 Drukkers
Beskikbaar by Groep 7 Drukkers

Baie mense vra my vir lesse of ’n boek. Ek het besef ek het nou die kennis en die ervaring om ’n boek te skryf.

Ek verduidelik in die boek wat vir my gewerk het, van klein beginpogings tot saamwerk met groter teaters. Hopelik kan hierdie boek aspirantkunstenaars help.

Elke nuwe kunstenaar ontwikkel sy eie kuns en styl. Dis opwindend om te sien hoe nuwe kunstenaars opduik en iets heeltemal nuut en verrassend maak.

Ek het al mense ontmoet uit alle vlakke van die lewe wat droom daarvan om tog net eenkeer self ’n marionet te maak, en hopelik sal my boek hulle help om dit te doen. 

Marionette is ’n wonderlike meganisme om ’n storie te vertel. Hulle is vry van swaartekrag. Hulle kan spring, vlieg en selfs swem.

Hulle doen ’n eiesoortige mimiek wanneer poppespelers alternatiewe bewegings gebruik om emosies uit te druk. En dit vorm als deel van die besonderse bekoring van die marionet."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe