My suster het op ’n dag, sonder enige waarskuwing, besluit sy wil niks verder met haar eie bloedfamilie te doen hê nie.

Dis amper asof sy besluit het haar vriende is nou haar familie, en ons is niks.

Sy het my uit die bloute oor allerhande dinge uit die verlede begin verwyt. Goed waarvan ek nie eens bewus was nie.

Sy het my belet om ooit weer met haar, haar gesin of haar skoonfamilie kontak te maak. My kinders mag nie eens hul neefs kontak nie.

Elke dag bid ek sy sal tot haar sinne kom; dat sy sal besef wat sy doen – voor dit te laat is. My arme ma ly die ergste hieronder, want sy het my suster nog nooit sleg behandel of te na gekom nie.

Sy was nog altyd net daar vir haar. Noudat my ma oud is en haar kinders en kleinkinders die nodigste het, het my suster haar verwerp. Sy hou ook haar kinders van my ma af weg.

Die kleinkinders kontak my ma nooit meer nie en beantwoord ook nie haar boodskappe wanneer sy probeer kontak maak nie.

Dit breek my ma se hart dat die kind vir wie sy so baie opgeoffer het haar sommer net so kan weggooi.

Ons mis my sussie en haar gesin. Ons het nog altyd goed oor die weg gekom, heerlik oor en weer gekuier en altyd belangrike dae soos Moedersdag, Vadersdag, verjaardae en Kersfees saam deurgebring.

Ons het saamgekuier en -gelag oor staaltjies uit die verlede en oor die kinders en hul dinge.

Ons kan nie verstaan hoekom sy so optree nie. Ons kan nie verstaan hoekom hulle ons nou, ná al die jare, verwerp nie.

Ons sal haar met ope arms terug-ontvang, want familie is kosbaar. En bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Vraagteken, Pretoria

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.