Op 16 is ’n gedragsteuring gediagnoseer by my seun, wat ook aan aandaggebrek- hiperaktiwiteitsteuring ly.

Die dokter het medikasie voorgeskryf, maar my kind het dit nie geneem soos hy moes nie. Sy gedrag het drasties verander.

Met God aan ons sy het ons sy situasie dag vir dag hanteer. Op 18 is hy in ’n rehabilitasiekliniek opgeneem omdat sy gemoedstoestand onbeheerbaar geraak het. Hy het nie die volle drie weke daar gebly nie.

Sowat vyf maande gelede het sy toestand handuit geruk.

Ons het gesukkel om hom onder beheer te kry. Hy is in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem. ’n Paar dae nadat ons hom laat opneem het, het die psigiater my gebel.

Sy woorde het my gebreek: My kind is ’n psigopaat.

Ek het dae aaneen gehuil.

Hoe en waar het dinge verkeerd gegaan? Wat het ek verkeerd gedoen? Hoe steek ek hom weg vir mense? Hoe kyk ek mense in die oë? Hoe verduidelik ek vir mense sy gedrag?

Ná byna drie weke in die hospitaal is hy ontslaan. Hy is ses verskillende soorte pille voorgeskryf.

Nêrens kry ek ’n plek wat my kind, nou 19, wil vat nie, want daar word nie vir “sulke” mense voorsiening gemaak nie. Wat maak ons nou?

Ek kan mos nie my kind vir die wolwe gooi nie. Maar ek kan hom ook nie help nie.

Hy het my hart al oor en oor gebreek, maar ek bly lief vir hom.

Hoe verduidelik jy vir jou eie kind hy is ’n psigopaat?

Wat doen ek die dag as ek die oproep kry wat elke ouer vrees – daardie oproep wat sê watter gruwelike misdaad my kind gepleeg het?

Al wat ek kan doen, is om te bid die Here sal hom red.

Anoniem