Toe die YOU-intern Cher Peterson halsoorkop op Blayzeverlief geraak het, het sy geglo dit was ware liefde. Maar toe hulle ’n paar maande uitgaan, het Blayze begin vreemd optree. Dit het Cher laat wonder of hy haar verkul.

Die term gaslighting word gebruik as iemand emosioneel gemanipuleer word om hul eie geestesgesondheid te bevraagteken. Volgens Wikipedia het die term ontstaan uit die stelselmatige sielkundige manipulering van ’n slagoffer deur haar man in die verhoogstuk Gas Light van 1938.

Nadat sy maande lank intense paranoia ervaar het – versterk daardeur dat Blayze haar sielkundig gemanipuleer het – was sy verslae toe sy uitvind haar intuïsie was heeltyd reg.

Blayze het agter haar rug weer ’n verhouding met sy eks aangeknoop.

Hier is haar storie

“Dis moeilik om jouself weer te kan vertrou nadat jy jou in ’n situasie bevind het waar jy ’n slagoffer van gaslighting was.

Gaslighting is glad nie ’n nuwe verskynsel nie – dit gebeur al ’n ewigheid lank. Dit kan ’n moeilike struikelblok wees om te bowe te kom, veral vir iemand soos ek, vir wie dit ’n eerste verhouding was. Die ervaring het my platgeslaan en seergemaak.

“Aangesien ek nog nie voorheen in ’n verhouding was nie, was ek verwikkel in ’n liefde wat ek gedink het eg en heilsaam en wederkerig was.

“Maar met terugskoue besef ek ek het altyd gevoel iets is fout. Dit het met sy kommunikasie met sy eks te doen gehad. Ek sou gedurig vir openlike en eerlike kommunikasie vra, maar al wat ek gekry het, was vae antwoorde oor hoe hy net ander vroue ‘vermaak’.

“Ek het die waarheid gesoek, maar hy het my daarvan beskuldig dat ek my neus in sy sake steek. Hy het my daarvan beskuldig dat ek na grashalms gryp deur dinge te sê soos: ‘Jy jaag antwoorde op vrae wat nie eens werklik is nie.’ 

“Keer op keer het ek dit gehoor tot ek stadigaan oortuig geraak het my soeke na antwoorde was net my eie onsekerhede wat oor my die oorhand kry. Dit was so na aan die waarheid ek het dit geglo.

“Telkens wanneer ek na aan die ware waarheid gekom het, is ek berispe. En die voortdurende beskuldigings – ‘jy is verkeerd’, ‘dis jou eie skuld’ – het ’n amper betroubare ervaring geraak.

“Hy het my so oortuig en met selftwyfel versadig dat ek verskoning gevra het dat ek enige vrae gevra het. ‘Ek is jammer’ het vir my tweede natuur geword. Die gewoonte duur vandag nog voort.

“Omdat die proses van gaslighting so subtiel en stadig was, het ek begin glo ek is gek. ‘Hy het niks verkeerd gedoen nie,’ het ek vir myself gesê. ‘Die twyfel is pure verbeelding.’

“Maar toe kry ek bewyse. Wanneer ek nie in die omtrek was nie, het hy by sy eks gekuier. Ek en sy het so te sê ’n bed gedeel.

“Teen daardie tyd was ek so gekondisioneer om te glo ek was verkeerd dat ek myself nie sover kon kry om hom prontuit te vra nie. Ek het immers reeds geweet wat sy antwoorde sou wees. ‘Jy is verkeerd, jy maak dit in jou kop op.’

“Geen ontkenning nie, maar ook geen erkenning nie. Altyd die voortdurende saai van twyfel oor my geestestoestand en my eie onsekerhede.

“Terugskouend moes ek van die heel eerste dag dat ek hom ontmoet het sy manipulerende geaardheid gesien het. Die kere dat hy my so maklik oortuig het om nog ’n drankie te drink of maniere gekry het om my ’n bietjie langer te laat bly terwyl hy geweet het ek kon nie.

“Ek moes dit alles gesien het, maar selfs toe het hy my selfvertroue afgebeitel.

“Selfs noudat ek van hom bevry is, draal die uitwerking van sy emosionele manipulering steeds. Ek hou myself steeds dikwels in my eie gedagtes gyselaar.

“Net die tyd sal leer of ek ooit sal herstel van die sielkundige skade wat hy aangerig het.”

*Skuilnaam

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.