Dit is iets waaroor ek baie skaam is. My grootste wens is dat ek Engels met selfvertroue kan praat.

Maar my Engels laat my gereeld in die steek. Dit voel vir my asof ek ’n onsigbare gestremdheid het. Asof almal Engels kan praat behalwe ek.

Ek het kleintyd gedink wanneer ek van my Afrikaanse laerskool ná ’n dubbelmedium-hoërskool toe gaan, sal ek Engelssprekende vriende kry en op dié manier my Engels verbeter.

Maar toe neem my lewe ’n onverwagte wending en ek moes hoërskool op my eie deur tuisonderrig voltooi. Daarna het ek my graad ook op my eie behaal deur ’n akademiese instelling wat selfstudiekursusse aanbied.

Nooit het die geleentheid op my pad gekom om my Engels te verbeter nie. Nou, nadat ek gekwalifiseer is, sit ek met die tameletjie dat ek nie ten volle tweetalig is nie.

Ek doen oral aansoek vir werk, maar om ten volle tweetalig te wees, is ’n voorvereiste vir alle poste. Waar laat dit my wat nie kan Engels praat nie?

Die feit dat ek dit nie kan praat nie, lê soos ’n berg voor my. Ek weet nie eens of ek ’n onderhoud sal kan voer sonder om met ’n mond vol tande te sit nie omdat ek nie die vrae sal kan beantwoord nie.

Ek het al op die internet na kursusse gesoek.

Alles word in Johannesburg en Pretoria aangebied. Op die platteland, waar ek woon, is daar nie sulke geleenthede nie. Geld vir ’n taalkursus ook nie.

Onlangs sê ’n dominee oor die radio ’n mens moenie moedeloos word wanneer jy met iets sukkel nie, want daarbuite is iemand wat jou kan help.

My hartsbegeerte vir 2019 is dat my pad met daardie iemand sal kruis wat my kan help om behoorlik Engels te kan praat.

 – Anoniem

Skryf vir ons

E-pos hgnbrief@huisgenoot.com

Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.