Ek luister na die hart van ’n vriendin wat skei. Nog ’n huwelik wat deel van die statistieke word.

Hoe hou ’n mens se liefde net op ná soveel jare? Was dit ooit liefde?

Geen huwelik is immers heeltyd maanskyn en rose nie. Wanneer hou ’n mens op baklei vir dit waarvoor jy so lank baklei het?

Wanneer iemand besluit om te skei, kan niemand meer keer nie. Die skeihof is bloot ’n formaliteit. Dit is soos ’n damwal vol gate. ’n Pap wiel op sy rim.

Hierdie lewe is so ingewikkeld en tog ook so kort. Hoe verdeel ’n mens ’n leeftyd se saam bymekaarmaak?

En dan oorbegin asof jy nie ’n verlede het nie.

Maar dis die kinderogies wat die hele verhaal vertel van woorde so hard soos groot haelkorrels wat ’n klein hart kneus.

Die rolle het verander. Die klein seuntjie het onnodig vinnig grootgeword.

Nou net die enkele pleitende versoek laat in die nag: “Pappa, Mamma. Gaan slaap eerder!”

– Lynette Strydom