Veganisme. Het ’n mens dié woord ’n paar jaar gelede gehoor, sou jy dalk dink dis iets wat net tot die wêreld van groenes en hippies behoort. Stadig maar seker het dié leefstyl egter meer deel van die hoofstroom geword.

Dis natuurlik iets anders as om ’n vegetariër te wees – veganisme behels dat jy nie diereprodukte eet nie en dit ook sover moontlik uit jou gebruikersgewoontes probeer sny.

Geen vleis, melk of eiers in jou dieet nie en ook die strewe na ’n lewe sonder, byvoorbeeld, leerprodukte.

Toe my redakteur ’n vrywilliger soek om veganisme ’n maand lank te beproef, het ek die uitdaging aanvaar. Daar is deesdae volop klaarbereide veganistiese maaltye in supermarkte, die meeste restaurante bied veganistiese opsies, en daar is ’n oorvloed blogs deur stoere veganiste op die internet – met vertellings van hoe hulle meer energie, ’n mooier vel en platter maag het.

Hoe moeilik kan dit dan nou wees om volgens veganistiese beginsels te eet, het ek gewonder. Ek leef in elk geval reeds gesond. Ek eet groen goed, ek berei maaltye, ek tel swaar goed in die gim op. Dit behoort mos maklik te wees . . .?

WEEK 1

Nadat ek die naweek deur veganisblogs gesif (beplan vooruit, sê almal) en my maaltye berei het, voel ek vreeslik selfvoldaan om met my plantkosreis te begin.

Ek kom ná my gewone oggendgimsessie met ’n reusagtige middagetesak by die werk aan. Daarin het ek hawermout vir ontbyt, twee groot appels en groente en brosgebraaide kekerertjies vir middagete.

In peuseltyd slaan ek my gewone koffie met melk oor en kies eerder groentee. Aandete is ’n groot bak groente bedek met ’n smaaklike gekoopte veganistiese patpat-en-bone-“burger”-koekie en fyngemaakte avokado.

Ek gaan versadig bed toe en slaap soos ’n baba. Teen dag vier begin lol dit effens. Die kosdrange skop met mening in. My kop swem van drome oor skuimerige cappuccino’s en gesmelte kaas.

Lensiekerrie. Foto: Verskaf

Maar ek reken ek het mos darem keuses. Amandelmelk en veganistiese kaas is verbasend maklik om in my plaaslike kruidenierswinkel in die hande te kry. Ek koop albei (al laat die prys my ineenkrimp).

Amandelmelk proe nie te goor in koffie nie, maar die kaas is minder aangenaam. Dit het ’n vreemde neutsmaak, maar ek plak ’n paar skywe op my veganistiese burger en bak dit in die oond. Toe ek dit uithaal, lyk die spulletjie soos gesmelte rubber.

Teen Saterdag is die kosdrange steeds daar, maar die moegheid wat my oorval het, is veel erger. Ek dut ’n volle drie uur – iets wat ek nooit doen nie.

Toe ek die Sondag by my ouers kuier, roep hul propvol lekkergoedkas my. En voor ek my kom kry, is ek halfpad deur ’n gewone, nieveganistiese sjokolade.

Die pluspunt is ek weeg 1 kg ligter, al het ek die Sondag gekul. Terwyl gewigsverlies nie eintlik die doel van my eksperiment was nie, sou ek gejok het as ek sê dit is nie motiverend nie.

WEEK 2

Aangemoedig deur my slanker lyf en aangevuur deur komplimente dat my gelaat goed lyk, is ek reg om die tweede week aan te pak. Maar, in alle eerlikheid, ek sukkel.

My Maandaggimsessie is veel moeiliker as gewoonlik. Ek kan nie die moegheid afskud nie en sukkel nou om by die werk te konsentreer. Ek gesels met ’n paar veganiste op Instagram.

“Maak seker jy kry genoeg kilojoules in,” gee een raad. “Ek het gedink ek het, tot ek begin rekord hou het. Dit blyk toe ek het 2 092 kilojoules te min geëet!”

Ek begin gebruik my MyFitnessPal-app en hou noukeurig tred van my maaltye (wat min of meer dieselfde as in week 1 is). Ek vaar nie te sleg nie, maar kon waarskynlik by nog ’n paar kilojoules baat vind.

Proteïen-smoothie-bakkie. Foto: Verskaf

Iemand anders beveel aan dat ek meer proteïen by my maaltye insluit.

“Lensies en bone is wonderlik,” sê sy vir my. Genadiglik is dit goedkoop.

Ek skaf ’n voorraad aan en teen die einde van die week voel ek amper weer soos my ou self. Ek mis vleis glad nie en begin selfs aan die plantkaas gewoond raak.

Kuier is nie te moeilik nie – baie Suid-Afrikaanse wyne, onder meer my gunsteling, is veganisvriendelik.

WEEK 3

Dit raak makliker. Die meeste kleinhandelaars is nougeset oor of hul produkte veganisvriendelik is; dus is kruideniersinkopies nie te moeilik nie.

Maar ek gaan steeds die etikette noukeurig na vir enige nieveganistiese bestanddele soos gelatien (wat van diere- liggaamsdele gemaak word) en heuning (’n netelige onderwerp in die veganisgemeenskap, maar die meeste veganiste vermy dit).

Roosterbrood met avokado en bros krulkool. Foto: Verskaf

Terwyl ek deur ’n paar veganisblogs lees, doen ek ’n grusame ontdekking: Baie handelsmerke kougom – my gunsteling inkluis – word van diereprodukte gemaak.

Die meeste handelsmerke lys “gombasis” as een van hul bestanddele. Dit kan van allerhande goed gemaak word, onder meer lanolien – wat basies skaapsweet is, ’n waks wat deur die sweetkliere van skape afgeskei word.

Wat energie betref, is ek weer terug na normaal. Dit lyk of my lyf by my nuwe voedselbron aangepas het.

WEEK 4

Tussen my klaarbereide maaltye en ’n baksel veganistiese brownies voel ek taamlik in beheer van sake. Kyk so vir my wat met kekerertjies soetgoed bak!

My volgende uitdaging kom toe ek saam met vriende in ’n burgerrestaurant gaan eet. Ek kyk vooraf na die spyskaart en sien hulle het ’n vegetariese kekerertjieburger. Ek skat dit sal in die haak wees as ek geen kaas of sous bo-oor eet nie.

Maar toe ek aan die burger hap, besef ek die koekie is meer kaas as kekerertjie . . . Sug.

Kom ek wees nou maar eerlik: Dit was heerlik en ek het dit in elk geval geëet. Ek is aan die ontvangkant van meer as ’n paar komplimente.

My vel lyk selfs stralender en my jeans sit losser. Ek klim op die skaal, maar ongelukkig het ek nie veel meer as die oorspronklike kilogram afgeskud nie. Maar my klere voel beslis ruimer – en is dit ’n sweempie van ’n maagspier daar?

DIE BEVINDING

Wanneer jy eers aan die beplanning gewoond is en jou kosdrange oorwin het, is ’n veganistiese leefstyl heel haalbaar. Maar selfs sonder die vleis is dit nie goedkoop nie – veral as jy al die veganistiese vleis- en suiwelplaasvervangers insluit.

Ek het dié maand heelwat meer as gewoonlik bestee, maar ek het wel baie klaarbereide maaltye gekoop, want ek wou soveel moontlik daarvan uittoets.

As ek meer lensie-en-bone-bakgeregte en groentesoppe gemaak het, sou my beursie dalk nie so lig gevoel het nie.

Wat gesondheid betref, kan ek nie sê ek het ’n groot verandering gesien of gevoel nie, maar aan die ander kant het ek reeds voorheen taamlik gesond geëet.

Sal ek daarmee volhou?

Ek weet daar sal beslis nou minder vleis en meer peulgewasse op die spyskaart wees, maar ek dink nie ek sal vir altyd ’n veganis word nie.

Ek besef dit met die eerste maaltyd wat ek op die eerste dag van week vyf in ’n restaurant bestel: “’n Spekpizza, asseblief. Met ekstra kaas.”

’n Kenner se raad

Volgens Sarah Gouws, ’n geregistreerde dieetkundige van Munchwize in Kaapstad, is dit nie ongewoon om in die eerste paar weke van ’n veganistiese dieet uitgeput te voel nie.

“Enige drastiese verandering in eetgewoontes kan ’n mens effens anders laat voel,” sê sy.

Sy beveel aan jy vul jou dieet met vitamien B12 aan, wat “ ’n belangrike rol in die senustelsel en die vorming van rooibloedselle speel en net in diereprodukte natuurlik voorkom”.

Sy beveel ook ’n DHS (dokosaheksaënoësuur) aan, ’n omega-3-vetsuur wat in vis voorkom en vir ’n gesonde brein belangrik is.

Gesondheidsvoordele word met ’n gebalanseerde veganistiese dieet verbind, sê Sarah, onder meer dat dit die voorkoms van vetsug, hartsiektes, hoë bloeddruk, hoë bloedcholesterol, tipe 2-diabetes en sekere soorte kanker kan verminder.