JOHAN VAN DEVENTER (65), APTEKER 

Ek was my eie klere. Ek week my spierwit aptekersjas oornag in daardie pienk wasmiddel wat ’n mens kry. 

Wat’s daai goed se naam nou weer? Dan haal ek my jasse die volgende oggend uit en was dit. 

Ek stryk glad nie; ek het gelukkig iemand wat dit vir my doen. 

Ek wou my lewe lank ’n predikant word. Tot in matriek, toe verander ek van plan. Ons buurman was ’n apteker. 

Ek het altyd gedink hy het die beeld van hoe ’n apteker moet lyk: mooi, klinies en skoon, en ek het vreeslik van sy jas gehou. 

Ek het glad nie geweet wat dit als behels om ’n apteker te wees nie, maar ek het aansoek gedoen by die PUK en keuring gekry. 

Toe ek uitvind wat dit behels, kry ek amper koue voete. Ek moes fisika as vak in my eerste jaar neem – en ek haat fisika. 

Ek kon dit nooit, selfs op skool, heeltemal verstaan nie. Fisika het my gepootjie, en dis die enigste vak wat ek twee keer moes oordoen. 

Ek is glad nie lief vir lees nie; ek hou net nie daarvan nie. Ek het boeke gelees omdat ek moes, ge-swot omdat ek moes. 

Die dag toe ek my laaste vak geskryf het, toe belowe ek om nooit weer ’n boek oop te maak nie. Behalwe vir ’n koerant.

Ek het altyd gedink hy het die beeld van hoe ’n apteker moet lyk: mooi, klinies en skoon, en ek het vreeslik van sy jas gehou.

Daardie tyd het die universiteit uitslae in die koerant gepubliseer. Ons was in Durban met vakansie, op die strand. 

My pa het die koerant gekoop en almal soek my naam. En my naam was nie daar nie. Toe begin ek twyfel, want waar het ek verkeerd gegaan? 

Ek gaan toe na ’n tiekieboks en bel ’n maat van my wat in Potch bly.

Ek vra toe vir hom hy moet op die kennisgewingbord gaan kyk of my punte daar is; hy moet terugbel; ek wag net hier by die tiekieboks. 

Ná ’n paar minute bel hy en sê ek is deur, en ek het redelik goed gedoen. My pa het sommer dadelik ’n bottel sjampanje gaan koop en ons het dit op die strand gedrink. 

Hy het die datum op die kurkprop geskryf: November 1984. Ek het daardie prop al die jare gehou en het hom nou nog.

Toe ek besig was met my praktiese jaar, kom daar ’n posseël uit van die eiland Gough. 

Dit lê tussen Suid-Afrika en Suid-Amerika en ons land het ’n weerstasie daar gehad. 

Toe ek die seël sien, sê ek vir die apteker by wie ek gewerk het ek wil soontoe gaan. Bloot vir die avontuur. 

Ek het toe by my ma-hulle aan huis gebly en ek het niks vir hulle gesê nie.

hierdie lewe,apteker
Foto: Corrie Hansen

Ek het aansoek gedoen, en uit die 3 000 aansoeke het hulle 15 gekies, en toe ’n span van agt wat 15 maande op die eiland sou bly. 

Ek het al die toetse geslaag en was deel van daardie agt. Die dag toe ek gekies is, het ons almal daardie aand in die kombuis gesit en aandete eet. 

Ek het my ouers gesê en hulle het sommer ophou eet. Hulle was verslae en het gedink ek grap. Hulle was só bly vir my. My pa was trots. 

Ek was ’n weerkundige waarnemer op die eiland en het ballonne opgestuur, seetemperature gemeet, hoe hoog die golwe is en hoe gereeld daar branders is. 

Daai tyd het ons teleksmasjiene gehad. Al ons waarnemings word in kodes omgesit en deur teleksmasjiene na Pretoria gestuur. 

Ons het 15 maande se kos­voorraad in groot vrieskaste gehou. Daar was meer as 4 of 5 miljoen voëls op die eiland. Dit was die lekkerste besluit wat ek gemaak het. 

Terwyl ek op die eiland was, is pa oorlede. Dit was ’n hartaanval. Hulle het my spanleier laat weet deur ’n teleksboodskap. 

Ek kon nie af van die eiland gaan en sy begrafnis bywoon nie. Dit was baie erg vir my; ons was baie na aan mekaar. 

Ek het nou nog ’n foto wat my ma van ons geneem het by die ou Paasskou in Johannesburg. Pa het altyd ’n hoed gedra en ’n netjiese baadjie as hy uitgaan, selfs al gaan hy na ’n plaaslike rugbywedstryd. 

Op die foto staan ek met my hand in sy hand met die mallemeule op die agtergrond. 

Terwyl ek op die eiland was, is pa oorlede. Dit was ’n hartaanval. Hulle het my spanleier laat weet deur ’n teleksboodskap.

Ek het ’n meisie gehad. Melinda. Sy was ’n spraakterapeut. Ek kon haar elke tweede Sondag van die eiland bel. 

Ons het vier jaar uitgegaan en het al gepraat van trou. Ses maande nadat ek terug­gekom het van die eiland, loop dinge toe skeef. 

Ek het ’n sleutel na haar woonstel gehad, en toe ek instap, toe sit mnr. Nuwe daar saam met haar op die bank. Ek was verslae. 

Ek het die sleutel net daar neergesit en uitgeloop. My hart was gebreek. 

Ek neem toe ’n lening uit en ek koop ’n apteek in Port Shepstone. Ek was 28 jaar oud. Ek was nog nooit daar nie, maar ek wou net kus toe trek. 

Ek wou wegkom. Ek het 10 jaar daar gewerk en het nooit vakansie gehad nie. Ek het sewe dae ’n week gewerk; dit was moeilik. 

Ná 10 jaar soek die aptekersvereniging toe ’n apteker by een van hulle takke in Durban. Ek doen aansoek en kry die pos. 

Die ure was lank. Ek het in die aande nagskof gewerk van sesuur tot elfuur en oor naweke van agtuur die oggend tot elfuur die aand. 

Wanneer ek by die huis kom, was ek so verskriklik moeg. As ek af is, het ek by ’n lieflike hotel gaan sit op sulke groot, gemaklike stoele. 

Die kelner het reeds my Hansa reggehad en ek sou daar sit, by die oop skuifdeur, waar jy die see kon ruik en hoor, en koerant lees. 

Ná 10 jaar soek die aptekersvereniging toe ’n apteker by een van hulle takke in Durban. Ek doen aansoek en kry die pos.

Toe trek ek Kaap toe 19 jaar gelede. En van toe af werk ek by hierdie klein, private apteek. Baie mense kom hier aan wanneer hulle klaar is met werk. 

Die ure is baie beter en ons maak ons deur eers toe wanneer die laaste persoon hier uitloop. Ek is hierdie maand 39 jaar ’n apteker en ek is lief daarvoor. 

Nie een dag is dieselfde nie. Daar is altyd verskillende mense met verskillende probleme. Ouers met skreeuende kinders of altyd ’n ander drama. 

Ons personeel word nie maklik siek met verkoues of griep nie. Ek dink ons het oor die jare immuun geword teen dit. 

Ek het net parasetamol in die huis vir die odd hoofpyn. Dis al. My ma het geglo in gesonde kos en gesond eet. 

Ek hou nou nog van gesonde kos, en ek dink daardie eetgewoontes hou my ook gesond. 

Ek ken my pille goed; ek raak nie deurmekaar met dit nie. Ek kan die name van die aktiewe bestanddele van ’n pil maklik onthou, maar dis soms moeilik om al die pille se handelsname te onthou. 

Ons moet voortdurend op datum bly en elke jaar voldoen aan ’n sekere puntestelsel. 

Soms kan jy sien hoe ongeduldig mense is. Hulle kan sien hoe besig jy is, dan kry jy “daai vuil kyk”, hulle kyk op hulle horlosie, of hulle gesigte is lank.

Ons klein apteek is regtig baie besig; ons kan nie met groot supermarkte se apteke kompeteer nie. 

Ons personeel word nie maklik siek met verkoues of griep nie. Ek dink ons het oor die jare immuun geword teen dit.

Ons gee persoonlike dienste, ons doen aflewerings, het spesiale persoonlike kontak met ons kliënte, en ons ken mense se hele familie. Ons is baie informeel. 

As ek nie werk nie, weet almal hulle moet my nie pla of eens bel nie – dit is my tyd. 

Ek sal langs die kus gaan ry, koerant lees en al die sport op televisie kyk en so herlaai. Dis die lekkerste.

Ek huil soms oor my hond wat so twee jaar gelede dood is. Dit was ’n yorkie; sy naam was Pickles. Hy was 18 jaar oud. 

Ek het nog altyd net katte gehad. Ons het ’n ongelooflike band gehad. Hy het verstaan wat ek vir hom sê en ek het presies geweet wat hy wou hê. 

Hy’t orals saam my gereis en ek sou nie na ’n restaurant bedags gaan as hy nie daar welkom is nie. 

Hy het siek geword van ouderdom, en die veearts het my hier by die werk gebel. Hy’t gesê ek moet ’n keuse maak. Ek kon hom nie gaan haal nie. 

My buurman gaan haal hom toe, grawe vir hom ’n graffie by die huis, en toe ek daardie aand by die huis kom, het hulle kerse op sy graffie gesit. Dit was so mooi. 

Ek het nooit getrou of kinders gekry nie. Ek dink die teleurstelling met Melinda was net te erg vir my; dit het die wind uit my geslaan en ek wou nóóit weer deur so ’n teleurstelling gaan nie. 

My ma is nou 91. Ons bel mekaar elke Sondag. Sy het musiekklasse gegee. 

Soms kan jy sien hoe ongeduldig mense is. Hulle kan sien hoe besig jy is, dan kry jy “daai vuil kyk”, hulle kyk op hulle horlosie, of hulle gesigte is lank.

Ek het klavier gespeel as kind, maar kon nooit note lees nie en het net op gehoor gespeel. 

Die mense wat bo my bly, het nou die dag ’n klavier gekoop. Hulle was weg vir die naweek en ek moes hulle katte oppas. 

Ek speel toe so ’n bietjie op hulle klavier, maar dit het stadig gegaan; dit sal lank vat voor ek weer kan speel. 

Miskien sal ek ’n klavier vir my koop. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.