ROSALEEN VAN AS (63), OFTEWEL TANNIE POPPIE, ROOSTERBROODBAKKER, LAINGSBURG 

Laingsburg en Touwsrivier bots met mekaar oor waar Tannie Poppie nou eintlik vandaan kom noudat ek famous is. 

Maar ek is ’n boorling van Touwsrivier. Dit is daar waar ek destyds seisoenale werk op die uie- en wingerdplase gedoen het. 

Ek moes maar gaan werk, want ek het mos myself in gr. 5 uit die skool ba­klei; ek was nie eintlik lus vir skool nie. 

My oorle pa, Gert, het toe op die spoorweg gewerk, en my ma, Rachel, was ’n huishulp daar op Touwsrivier. 

Dertien jaar gelede het ek my man, Frikkie van As, ontmoet.

Hy is van Laingsburg, maar het vir ons op Touwsrivier kom wys hoe om padwerke te doen. 

Sjoe, hy was ’n kwaai voorman en het my hard laat werk.

Die ander werkers het agtergekom iets broei tussen my en Frikkie. Hulle het ons lekker gekoggel. 

Een aand besluit Frikkie hy gaan nie terug Touwsrivier toe nie. Toe kom trek hy daar by my en my ses kinders in. 

Ek het eintlik sewe kinders gehad, maar die een se man het haar doodgesteek toe sy 19 jaar oud was. 

Laingsburg en Touwsrivier bots met mekaar oor waar Tannie Poppie nou eintlik vandaan kom noudat ek famous is.

Ek het gevoel ek is te oud vir ’n tweede man; ek was al reg vir die ouetehuis.

Maar die ander werkers het my gekoggel dat “ouma” maar die man moet vat. 

Ek is baie gelowig, en die mense op Touwsrivier ken my nie as iemand wat net met ’n man sou bly sonder dat ons getroud is nie. 

Ek en Frikkie het daardie selfde jaar op Worcester getrou en op Laingsburg by Frikkie gaan woon.

Toe ek steeds op die plase gewerk het, moes Frikkie ophou werk. 

Een van sy kinders het hom geslaan dat hy vir ’n ruk verlam was. Hy loop nou nog met ’n kierie. 

Dit was moeilike tye, maar ek het nooit my swaarkry op my voorkop gedra nie, want ek kon altyd op die Here staatmaak. 

Twee jaar voor hy aangerand is, wou ek ’n bakkery op Laingsburg begin, want daar was altyd ’n tekort aan brood op die dorp. 

Toe skenk iemand van Touwsrivier my ’n ou oond, menger en tafel met trollies en panne. Die oond kon 120 brode op een slag bak. 

Dit was ’n massiewe oond, maar ek moes gelukkig net die R2 500 vir die vervoer van Touwsrivier na Laingsburg betaal. 

Dit was moeilike tye, maar ek het nooit my swaarkry op my voorkop gedra nie, want ek kon altyd op die Here staatmaak.

Ek het daardie geld gespaar van my plaaswerk en die soutvis, twak en pynappelbier wat ek onder die werkers verkoop het.

Maar die oond was so groot dat dit nie in ons klein huisie kon in nie. Ek besluit toe om ’n hamer te vat en die muur uit te slaan. 

Ons het daardie een aand met ’n afgebreekte muur en gat in die huis geslaap. Die volgende oggend het die oond gekom, toe bou ek en Frikkie weer die muur toe. 

Nou was die oond daar, maar ek het nie ’n pakkie meel se geld gehad nie. Toe besef ek die ding is stukkend. 

Ek het drie keer na Touwsrivier ge-hike om ’n ingenieur te loop soek om dit vir my te kom regmaak. Maar sy kwotasie was R15 000. 

As ek nie eens ’n pakkie meel se geld het nie, waar sou ek daai geld kry? Toe breek ons maar weer die muur af en loop gooi die ding op die vullisjaart. 

Ek en Frikkie is toe deur een van sy familielede uit ons huisie gesit. Ek het van my spaargeld R1 500 gevat om ’n karavaan by oom Piet Geldenhuys te koop.

En nege jaar terug toe sien ek in die plaaslike koerant die Laingsburg-vloedmuseum het ’n kontrak vir broodbak in ’n buiteoond. 

Ek het die kontrak gekry, hoewel ek glad nie geweet het hoe ’n buiteoond werk nie. 

Ek het vir die Here leiding gevra oor hoe om dit te doen. Dit is toe dat Tannie Bib, wat vir jare by die museum gewerk het, my gewys het hoe om die buiteoond te gebruik. 

tannie poppie,roosterbrood,laingsburg
Met die hulp van haar dogters verkoop Tannie Poppie nou oor die 200 roosterbrode per dag. Sy gaan nou ook in Italië by ’n fietswedren proviand lewer. Foto: Stan Engelbrecht

Daai dag voor ek begin werk het, het my suster, Helen, vir my twee pakkies meel, twee pakkies yeast en een pakkie sout by die Spar op Touwsrivier gekoop en gebring sodat ek daarmee kon bak. 

Daai Vrydagoggend toe ek begin brood bak, was my vuur te hoog en die kole was nie reg nie. Toe ek die brood uithaal, was die brood gerys, maar dit was spierwit. 

Ek kon mos nie rou brood verkoop nie. Ek het gou die brode uit die oond gehaal en binne by die museum se elektriese oond ingedruk om dit lekker bruin te maak. 

Toe die eerste kopers kom, was my brood lekker bruin, lig en gaar. Daarna het ek gou geleer hoe om die buiteoond reg te gebruik. 

Toe begin ek om van my brood na oom Piet Geldenhuys te neem om in sy kroeg te verkoop.

Hy het gesê R9,50 is te min. Oom Piet het gesê dié brood is te lekker en ek moet R25 vra. 

Ek het toe nie geweet hy gaan my leer hoe om ’n besigheidsvrou te wees nie. 

Hy het my ’n ou rooi Coca-Cola-stoot­waentjie uit sy stoor gegee om daarmee onder ’n boom langs die museum se kuierkraal te staan en my roosterbrood te verkoop. 

Ek het R15 vir ’n gebakte brood en R10 vir ’n roosterbrood met wors en smoortjie gevra. ’n Gewone roosterbroodjie was R5. 

Ek het destyds 30 roosterbrode per dag verkoop, maar ek is mos deesdae famous.

Stan Engelbrecht het ses jaar terug verby my waentjie gery en twee roosterbrode by my gekoop. 

Hy het gesê R9,50 is te min. Oom Piet het gesê dié brood is te lekker en ek moet R25 vra.

Nadat hy klaar geëet het, het hy kom vra of ek nie brood wil bak en aan die mense in die fietstoer wil verkoop nie. 

Ek verkoop nou vir die afgelope ses jaar roosterbrode aan hulle as hulle ’n fietstoer daar doen.

Nou is ek glad genooi na Italië om by die Eroica-fietstoer my roosterbrood te verkoop. 

Ek is nou deesdae gereeld in die koerante en op TV; nou verkoop ek oor die 200 roosterbrode per dag. 

Maar my twee dogters Naomi en Chantil help my gelukkig daarmee.

Mense is baie gelukkig met my brood. Dit is doeksag en jy kan dit lekker lank vries. Ek voel baie trots op my roosterbrood. 

Dit voel asof ek elke dag vir mense nagmaal gee. “Neem, eet, dit is My liggaam,” sê die pastoor in die kerk as hy nagmaal aan die gemeente bedien. 

Hy bedien brood. Dit verteenwoordig die Here se liggaam. 

As ek dit so op die ope vuur bak, dan praat ek met die Here of sing ’n koortjie en roep gedurig na die Meester. 

Nou is my broodjies se pryse eindelik dit wat oom Piet wou gehad het ek moes daarvoor vra. ’n Roosterbroodjie kos nou R25 en R35.

Dit voel asof ek elke dag vir mense nagmaal gee. “Neem, eet, dit is My liggaam,” sê die pastoor in die kerk as hy nagmaal aan die gemeente bedien.

Ek en Frikkie woon steeds in daardie karavaan wat ek by oom Piet gekoop het. Ek staan steeds onder dieselfde boom waar oom Piet gesê het ek moet staan en my roosterbrood verkoop. 

Hy is ’n paar jaar terug huis toe. Hy is nou by die Here.

My hart was baie seer, maar ek weet hy sou die trotsste op my wees om te hoor ek gaan einde September Italië toe om daar my roosterbrood by ’n fiets-event te verkoop. 

As hy vandag hier was, sou ek hom sy roosterbrood met kaas en jêm gegee het.

Daai was sy gunsteling. Hy het altyd gesê dis “blerrie lekke”. 

Ons sou nou lekker sit en tee drink het met ’n stukkie roosterbrood, en ek sou hom graag wou vra om saam met my Italië toe te gaan. 

Maar ek is reg vir die trip oorsee. Dis my eerste keer oor die waters en so hoog in die lug. 

Wie sou kon dink dat iets so klein soos ’n roosterbroodjie my so hoog sou laat vlieg? 

Maar die Here het dié deur vir my wawyd oopgemaak. Ek is reg vir Italië.

Ek weet hoe om ciao te sê. Maar ek kan nie eintlik so lekker Engels praat nie. Actually, here comes Tannie Poppie, Italy! ” 

  • Tannie Poppie van As reis einde September na Gaiole in Chianti, Italië, waar haar roosterbrode by die Eroica-fietswedren voorgesit sal word. Die SA weergawe van dié fietsren word gereël deur Stan Engelbrecht, wat Tannie Poppie genader het om haar brood op sy fietsrybyeenkomste te verkoop.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.