NATASHA STADLER (52), VROEDVROU

Elke keer wanneer ’n babatjie gebore word en daardie eerste asem inasem, is dit asof die wêreld vir ’n oomblik net ’n bietjie stop. 

Ek onthou die eerste babatjie wat ek gevang het; ek was seker so 20. 

Ons het heeltyd vir die ma verduidelik hoe sy moet kraam pleks van om te luister hoe sy wou kraam. Wat het dit gehelp ek sê vir haar om te druk, maar sy voel nog nie reg nie? 

In 2006 begin ek toe my eie privaat praktyk as vroedvrou. Ek was geskei, met drie seuntjies van vier, nege en 12 jaar oud. 

Ek wou so graag natuurlik die lewe skenk, maar weens komplikasies het elkeen op ’n keisersnee uitgeloop. 

Ek is nie teen ’n keisersnee nie, maar dit kan soveel komplikasies inhou. 

Ek sal my eerste tuisgeboorte nooit vergeet nie. Die paartjie se huis was so 15 km van my, maar ek het doodsangs gehad. Daardie kort rit in die kar het soos ’n uur gevoel. 

Ek het al duisende babatjies gevang, maar dit was die eerste keer dat ek alleen verantwoordelik sou wees vir ma en babatjie. 

Dit was toe ’n pragtige, mooi geboorte. Dit was ’n seuntjie. Hy is nou 12 jaar oud en hy en sy ouers sit elke Sondag voor my in die kerk. 

Met sy geboorte het ek toe besef hier is dit nou; dit is my calling. Daardie iets in my lewe wat ek al so lank soek. 

Ek is nie teen ’n keisersnee nie, maar dit kan soveel komplikasies inhou.

Ek vang gemiddeld 60 babatjies per jaar, hier in my huis of in die ouers se huis. Die hospitaal steun my geweldig.

Met elke kraam het ek ’n back-up-dokter wat ons kan bel indien iets verkeerd sou gaan en die mamma moontlik vir ’n keiser moet ingaan. 

Deur my werk het ek God gevind. Ek is nie gelowig grootgemaak nie; glad nie. 

Toe ek jonk was en babatjies so in die lewe sien inkom, het ek altyd so ’n gevoel gehad daar moet iets groter as ek wees. 

In 2007 het ek ’n baie moeilike kraam gehad. Ná die tyd het ek buite gaan staan en bloot gesê: Somebody better have my back. 

En net daar het my lewe verander. Ek glo ek word in my werk beskerm en dat ek dit nie sonder God kan doen nie. 

Ek weet dinge kan in ’n kraam maklik skeefloop – daar is nie ’n ander werk in die wêreld waar jy so gereeld so verantwoordelik is vir twee mense se lewe nie. 

Maar ek is nie meer bang nie. Ek is net bly ek is nie alleen verantwoordelik vir alles wat gebeur in daardie kamertjie tweeuur in die oggend met ’n ma wat moeg is, ’n pa wat moeg is en ’n babatjie wat kom nie. 

Natasha staan soms al die vroue in ’n familie by.
Natasha staan soms al die vroue in ’n familie by. Sy het ’n hegte band met die vroue en word gereeld na die kinders se verjaardagpartytjies genooi. Foto: Verskaf

Ek is al 30 jaar ’n vroedvrou en praktiseer nou 12 jaar alleen. Ek het net drie slegte geboortes gehad in dié 12 jaar. 

Dit was wanneer die babatjie dood gebore word. Daar was verdrietige tye, maar dit gebeur min. Daar is magic elke keer wanneer ek ’n baba vang. 

Om te sien hoe ’n ma wat nie gevoel het sy kan iets doen nie die geboorte own. 

Sy word ’n pragtige, selfversekerde vrou wat die lewe skenk. Dan, die oomblik wanneer die baba rustig op haar bors lê . . . daardie oomblik is ongelooflik. 

Die emosies tussen die mamma en die babatjie is wonderlik. 

‘Die ogies gaan oop en ons oë sien mekaar...Dit is die mooiste blik wat jy in jou lewe kan kry’

Elke ma is anders. Jy kry dié wat onmiddellik liefdevol die babatjie vat en almal is rustig oor die nuwe lewe wat in die wêreld ingekom het. 

Dan is daar mammas wat lank gekraam het en moeg is. 

Ander het so vinnig gekraam, hul liggaam het vinniger beweeg as hul gees en hulle vat eers ’n ruk om oor die skok van die baba te kom. 

Wanneer ek die babatjie vir die eerste keer ondersoek en ek daardie koppie so in my hande vashou; die ogies gaan oop en ons oë sien mekaar...

Dit is die mooiste blik wat jy in jou lewe kan kry. 

Niks is stukkend nie; daar is geen vrees nie. Dit is rein, wys en oop. Om dit so te sien is vir my net ongelooflik. Elke keer. 

Die geboortevertrek in die vroedvrou se huis waar
Die geboortevertrek in die vroedvrou se huis waar die babas gebore word. Dit het ook ’n opblaasswembad vir watergeboortes. Foto: Verskaf

In sommige families het ek al die kinders gevang. Ek kry gereeld verjaardaguitnodigings na die kinders se partytjies. 

Wanneer ek die seun of meisie sien, is dit humbling vir my om te weet ek het gehelp om hulle in die lewe te bring. 

Geboorte, asem, life itself het my geleer hoe klein en weerloos ons eintlik is. 

En dat dit belangrik is om tyd te vat om liefde aan mekaar te gee. 

Ek het geleer om een dag op ’n slag te vat. Want asem kan net so maklik weggevat word.