THARIEN BASSON (30), SKOONHEIDSTERAPEUT 

Ek’s ’n Kalaharikind, so verskoon my aksent. 

Ek het op ’n plaas buite Upington grootgeword. Ek was ’n vloedbaba. 

Ek is gebore in die Gordonia-hospitaal in November ’88 toe daar hierdie huge vloed met die rivier in die dorp was. 

Op die plaas was ek vry. Ons het geswem in die dam en perdgery; ons het onder die sterre aan die slaap geraak, partytjies op die plaas gehou en vierwiel gery. 

Ek dink nie stadsmense ken daai lekker plaaslewe nie. My pa het geboer met lusern, wild, koring en mielies. 

Ons het ’n padstal en ’n gastehuis ook gehad. You name it; my pa het dit gedoen.

My ma is ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut, maar sy het nooit rêrig as een gewerk nie. 

Ná skool het ek nie mooi geweet wat om te doen nie; toe gaan swot ek ook maar skoonheid op Potch. Jis, dit was lekker. 

Ek het ’n kamer gedeel met ’n vriendin wat ’n bietjie van ’n perfeksionis was, en ons het met die Pampoenboere gesleep. 

Dan langarm ons net die aande om. Jeez, Louise, die stories wat ek kan vertel... 

Ná skool het ek nie mooi geweet wat om te doen nie; toe gaan swot ek ook maar skoonheid op Potch. Jis, dit was lekker.
 

Ek was op die SR, so sosiaal was my díng. Wanneer ek in die klas gekom het, het die dosent gesê sy kan sien wie het nou weer ’n laat aand gehad.

My eksamens was die moeilikste, want dan kry hulle mense in op wie jy moet oefen, en dan kom sulke Ingelse vroutjie en evalueer jou om te kyk of jy jou werk ken. 

Dan staan sy hier langs jou en kap jou Ingels. Ek’s ’n Kalaharikind, en ek moes vir haar als verduidelik wat ek doen in Ingels.  

Met die een eksamen het daar ’n vrou gekom op wie ek moes oefen. Sy het nét sulke groot, harde abs gehad. 

Sy wou glad nie relax nie. Sy het op die bed gaan lê en haar abs heeltyd ge-flex.

Ek gee toe vir haar ’n japon en sê sy moet asseblief ontspan, want ek gaan punte verloor. Maar sy wou niks weet nie. 

Toe staan sy op en loop, maar toe stamp sy haar toon teen ’n kas en kreun van die pyn. In die middel van my eksamen. 

Die sweet het by my afgeloop, want die Ingelse vroutjie het gekyk hoe jy as terapeut die situasie hanteer. 

As jou kliënt nonsens aanjaag, verloor jy punte. Ek het die vrou kalm gemaak, en eers ná die toonstampery, toe relax sy uiteindelik. En toe doen ek darem goed in die eksamen. 

As student was ek nooit goed met waxing nie. Ek meen, krisis, dit was ’n moeilike, taaierige situasie. 

hierdie lewe,tharien basson,skoonheidsterapeut
“My eerste Brazilian wax was nogals ’n vreemde ervaring,” sê Tharien. “Maar nou doen ek ’n wax tjoeftjaf.” Foto: Corrie Hansen

Dan werk jy met daai dun stokkies, en die wax sit aan jou hande vas, en die kind se hare groei in alle rigtings in. Dit was gewoonlik ’n gemors. 

My eerste Brazilian wax was nogals ’n vreemde ervaring. Ek het gevoel soos ’n ginekoloog. 

Maar nou doen ek ’n wax tjoeftjaf: Jy kom in en gaan uit en ek vergeet van jou.

Ek is baie familievas. Toe ek my kwalifikasie klaargemaak het, het ek teruggegaan na Upington, waar ek my eie salon oopgemaak het. Dit was so lekker.

Die ou tannies het gereeld daar ingeloer en ’n teetjie of koffietjie gedrink. Maar drie jaar later, toe sê my pa dit is genoeg. 

Ons moet die plaas verkoop, want boetie wil nie aangaan met die boerdery nie, en met als wat nou op die plase aangaan, het my pa-hulle besluit om Kaap se kant toe te gaan en op Yzerfontein te gaan aftree. 

Ons was baie hartseer om weg van die plaas te trek. Ek het toe ’n salon hier in die Paarl oopgemaak. 

Ek is glad nie ’n stadsmens nie, so dit was moeilik vir my om hier aan te pas, want ek het niemand geken nie. 

Die vrouens het my so op en af kyk en gewonder waarom ék in die skoonheidsbedryf is. 

Gelukkig het ek ’n ou vriendin van my in ’n restaurant hier raakgeloop, en deur haar het ek ander mense ontmoet. Een aand toe nooi sy my vir ’n braai. 

My eerste Brazilian wax was nogals ’n vreemde ervaring. Ek het gevoel soos ’n ginekoloog.

Ek wou daardie aand eintlik by die huis wees en series kyk, maar sy het so aangehou, toe gaan ek tog. 

Toe daag daar so ’n lang, grootgeboude rugbyspeler by die braai op. Kobus. 

Daardie aand het ek en Kobus so lekker gesels, ons het later die hele gesprek oorgeneem, en die ander het net vir ons gesit en kyk. 

Nou sien, my pa se naam is Kobus; my broer se naam is Kobus – en ek gaan nie die ou óók Kobus noem nie. Toe noem ek hom Kola. 

En van daardie dag af het hy seker gemaak ek sien hom elke dag.

Hy het elke dag na my salon gekom om koffie te drink, en hy het vir massages gekom. 

Later toe sê hy niemand het hom al so hard gedruk soos wat ek hom gedruk het nie. Hy was smoorverlief op my en ek op hom. Vier jaar later, toe trou ons. 

Naweke gaan kuier ons by my ma-hulle op Yzerfontein. Dan help ek my ma met haar tinting en doen microneedling

My pa is ’n regte boer-boer, maar wanneer ek daar is, sal hy sê sy vel voel nie lekker nie, en watter roompie sal ek aanbeveel. 

Ek is baie passievol oor skoonheid. Ek doen lash extensions, microneedling, waxing, tinting, massages, microblading, spray tans en chemical peels. 

By my gaan dit oor meer as net skoonheid. As jy sleg voel wanneer jy hier instap, moet jy wonderlik voel wanneer jy hier uitstap.

Jy is nie net daar vir ’n facial nie. Jy is ’n sielkundige, ’n mentor en ’n vriendin. Jy moet kan luister en jy is daar om ander te dien; om hulle mooi te laat voel.

Soms kan my dae moeilik wees wanneer jy kliënte nonstop sien. Jou voete pyn en jou rug is in sy chops in. 

En jy kry spatare van heeltyd op jou voete wees. Ek huil soms van rugpyn, want jy sit in slegte posisies sodat jy jou werk perfek kan doen. 

Ons besef nie hoe baie mense is depressief nie.

Kliënte kom in en praat oor dinge wat nie goed gaan by die huis nie en oor seer wat hulle in hul lewe het. 

Jy is nie net daar vir ’n facial nie. Jy is ’n sielkundige, ’n mentor en ’n vriendin. Jy moet kan luister en jy is daar om ander te dien; om hulle mooi te laat voel.

Ek het nie perfek grootgeword nie. Ek was nie die mooiste of die maerste nie en het gereeld gekyk watter diet-pille ek kan drink om ’n bietjie maerder te word. 

Ek het al baie teleurstellings beleef en het van skooldae af gevoel ek pas nie heeltemal in nie. 

Ongelukkig is ek in ’n bedryf waar jy elke dag perfek moet lyk, want jy dra ’n spesifieke beeld uit, en dit sit soms druk op ’n mens.

Ek moes leer om myself te aanvaar. Ek het geluk binne myself gevind. 

So what as ek ’n ronding het of twee? Dit pla Kobus nie, en dit gaan my nou nie pla nie. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.