BURGERT MULLER (36),VLIEËNAVORSER  

Ek het een van daai spesialisvelde as beroep wat geen man op straat sal weet wat dit is nie. Mense frons as ek sê ek is ’n dipteroloog. Ek werk op vlieë, antwoord ek dan. 

As ek verder verduidelik dit beteken ek vang en doen navorsing op vlieë, frons hulle nog meer. 

“Hoekom vlieë?” is die vraag wat ek seker die meeste kry. Ek verstaan daardie onkunde, want vir die mens is ’n vlieg niks meer as ’n zoemende pes wat dadelik met Doom gespuit moet word nie. 

Almal dink die enigste goeie vlieg wat jy kry, is ’n dooie vlieg. ’n Vlieg het mos geen doel op aarde nie, is ook iets wat ek gereeld hoor.

Kortom: Hierdie insek speel ’n groot rol in die ekostelsel; hulle is belangrik as bestuiwers, en hulle help met die ontbindingsproses van dooie diere in die veld. Ja, alles in die natuur het ’n doel, selfs al dink mense dit is eintlik ’n pes.

“Hoekom vlieë?” is die vraag wat ek seker die meeste kry. Ek verstaan daardie onkunde, want vir die mens is ’n vlieg niks meer as ’n zoemende pes wat dadelik met Doom gespuit moet word nie.

Vlieë word wêreldwyd as so belangrik in die ekostelsel beskou dat daar in 2018 ’n internasionale kongres van dipterologie in Windhoek aangebied is en verlede jaar tot die Internasionale Jaar van die Vlieg verklaar is.

Ek werk vanaf 2016 as ’n senior museumwetenskaplike en entomoloog by die Nasionale Museum in Bloemfontein, waar ek navorsing op ’n verskeidenheid van insekte doen – met vlieë as my spesialisveld. 

Werk in dié veld is maar skaars; daarom spesialiseer nie baie entomoloë as ’n dipteroloog nie. 

Ons is maar ’n skaars spesie, en in Suid-Afrika is daar net sowat 10 dipteroloë.

Dit is eintlik toevallig dat ek in dié veld beland het; dis nie asof ek vanaf skooldae af daaroor gesit en droom het om eendag navorsing op vlieë te doen nie.

Almal dink die enigste goeie vlieg wat jy kry, is ’n dooie vlieg. ’n Vlieg het mos geen doel op aarde nie, is ook iets wat ek gereeld hoor.

Ná skool het ek in 2002 B.Sc. (Entomologie) aan Kovsies studeer en in 2008 by die KwaZulu-Natal-museum in Pietermaritzburg begin werk. 

Op daardie stadium was dit die enigste museum in Suid-Afrika wat navorsing op vlieë gedoen het, met sowat 200 000 vlieë in hul versameling. 

En dit is waar die gogga my gebyt het. Of moet ek sê die vlieg?

In daardie tyd het die Nasionale Museum in Bloemfontein ook hiermee begin, en hulle het vandag self ook ongeveer 200 000 vlieë. 

En dit is alles versamel binne sowat 10 jaar, wat nogal ’n prestasie is. Ek het in 2016 hier begin werk, waar dit maar net een van my take is om vlieë te versamel.

burgert muller,hierdie lewe,vlieë
Alle foto’s wat hy van vlieë neem, word op rekenaar geliasseer. Foto: Fani Mahuntsi

Ek en my assistent gaan so een of twee keer per jaar veld toe, vir sowat twee weke per ekspedisie, waar ons vlieë vang en identifiseer. Dié plekke kan op enige plek in die land wees. 

Die vangstrik bestaan uit fyn gaas wat in ’n driehoekvorm opgestel word. Wanneer die vlieg daarin vasvlieg, beland hy in ’n bottel met ’n mengsel van 96% alkohol, waarna hy binne oomblikke vrek. Die alkohol preserveer ook sy DNA.

Dis interessant dat wanneer mense gaan kamp hulle daardie Doom-bottel kan uithaal en die vlieë in hul tent of karavaan spuit. Wanneer dipteroloë vlieë vang, moet ons eers ’n permit daarvoor kry.

Dit is in alle entomoloë se gene om dinge te wil versamel. Jy kan enige entomoloog vra en hulle sal vir jou sê dat hulle al van skooldae af die een of ander versameling het, of selfs ’n paar verskillendes. 

Dinge soos klippe, seëls, muntstukke of wat ook al. Solank jy net kan versamel, is jy tevrede. 

Ek en my assistent gaan so een of twee keer per jaar veld toe, vir sowat twee weke per ekspedisie, waar ons vlieë vang en identifiseer. Dié plekke kan op enige plek in die land wees.

Ekself het ook versamelings van spinnekoppe en akkedisse gehad.

Mense vra my ook hoekom ’n vlieg so lief is vir jou kombuis. ’n Kombuis tiek al die regte boksies vir ’n vlieg se instinkdrang. 

Om dit  eenvoudig te verduidelik: Hy identifiseer die kos op die tafel eerstens as voedsel vir hom en tweedens as iets in die natuur, soos ’n dooie dier wat hy moet help ontbind. 

Die ontbindingsproses gebeur wanneer die vlieg eiers in die vleis of karkas lê. Die wurms of maaiers wat uitbroei, vreet dan aan die vleis, wat ontbinding veroorsaak. 

Sonder vlieë sal die natuur maar ’n groot, stink plek van karkasse gewees het.

En nee, vlieë pla my nie. Dit sal my wel pla wanneer daar nie meer vlieë in die natuur is nie.

Jy moet daarom oopkop oor vlieë dink: Hulle irriteer jou dalk in jou kombuis, maar hulle is ook in jou tuin besig om te sorg dat jy ’n blommeprag het. 

Ja, mense besef nie dat vlieë net so ’n belangrike rol in bestuiwing as bye speel nie.

Sommige plante kan juis ook net deur vlieë bestuif word en glad nie deur bye nie. 

Die kakaoplant is een van hulle wat net deur ’n spesifieke vliegspesie bestuif kan word. Sonder daardie vlieg sou ons nie sjokolade gehad het nie.

Mense dink ook ’n vlieg is maar net ’n vlieg en almal is dieselfde. Maar in Afrika kry ons meer as 20 000 verskillende vliegspesies. 

burgert muller,hierdie lewe,vlieë
Die vlieë word vasgespeld en in laaikaste gebêre. Foto: Fani Mahuntsi

Een van die grootste vlieë is die renosterbotvlieg, wat van sy kop tot stert ’n allemintige 2,5 cm lank is, en 5 cm van punt tot punt wanneer hy sy vlerke uitsprei. 

Die kleinste is so klein dat jy dit nie met die menslike oog kan sien nie. Kleiner as ’n millimeter.

Vlieë is uiters interessant; daarom gaan ek hierdie jaar ook my doktoraal in dipterologie doen. 

En nee, vlieë pla my nie. Dit sal my wel pla wanneer daar nie meer vlieë in die natuur is nie.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.