DS. LEON FORSMAN, LERAAR BY DIE NG KERK GREYMONT

Wanneer die ou kerkbankies elke Sondagoggend skuins voor negeuur kreun en ’n skielike stilte oor die siersteengebou uitsak, onthou ek dit: Ek wou my rug op Hom keer. 

Sondag ná Sondag duik dit elke keer in my gedagtes op: hoe kwaad ek was omdat ek my lewe aan die Here wy, maar ten gronde was; hoe verwoes ek gevoel het toe ek siek word; hoeveel vrae my aand ná aand geteister het; hoe verbitterd my hart was omdat ek my gemeente noodgedwonge moes verlaat. Dit was vroeg in 2013. 

Ek het met die verskriklikste pyn wakker geword; ’n dokter het ná die skandering bevestig dis nierstene. 

Daar was aanvanklik vrese dat dit kanker kon wees. Dit was nie.

Maar dit was steeds ’n lewenslange vonnis: ’n outo-immuunsiekte bekend as ankiloserende spondilitis. 

Die immuunsiekte tas die sagte weefsel van die liggaam aan; my rug was eerste aan die beurt. 

Hy het as’t ware aanmekaargegroei. Dis ’n geweldige, onbeskryflike pyn. Later tas dit ook jou oë aan, dan jou hart, dan jou niere. 

Die fisieke pyn was nooit die seerste nie. Ek was my werk in die bediening kwyt. 

Dokters kon my siekte maande lank nie gediagnoseer nie. Ek was in een stadium 60 dae lank in die hospitaal. 

Ag, en soveel jare later is ’n mens steeds emosioneel wanneer jy daaroor praat. Daar was drama. 

Maar dit was steeds ’n lewenslange vonnis: ’n outo- immuunsiekte bekend as ankiloserende spondilitis.

Baie ook, en eindelik is ek by die kerk weg. Maar ons moet vergeef; so sê die Skrif. En ek het. Ek het geweldig met die Here gestoei. 

Ek weet nie of ek ooit vrae gehad het soos hoekom die siekte dan juis vir my tref nie – so kan ’n mens ook nie dink nie – maar ek wou weet wat die Here se plan was; waarmee Hy besig was. Ek het ’n geloofstryd gehad. 

My lewe lank wou ek ’n dominee wees; wou ek siele vir God wen. 

Maar toe, skielik, is ek 45 jaar oud, werkloos en ten gronde. En ek wou weet hoekom en wat nou. 

Ek kon dit nie oor my hart kry om God in my lewe te verloor nie. 

Ds Leon Fronsman
Leon sê hy het geleer alles gaan eintlik oor die mense en dat die kerk na die mense geneem moet word. Foto: Fani Mahuntsi

Al was die hele ding ontsettend tough en onverstaanbaar, moes ek glo dat God ook my belange op die hart gedra het. 

Nou, hier waar ek vandag sit, is ek dankbaar dat ek nie totaal moed verloor het nie. Want dan het ek myself ook heeltemal verloor, want om te preek was al wat ek my lewe lank wou doen. 

Dit was Pinkstersondag op 2 Junie 1968 toe ek in die NG Kerk gedoop is. Ek sê altyd God het my daardie dag, toe ek maar drie maande oud was, kom roep. 

As klein seun het al die kinders onnie-onnie gespeel. Nie ek nie; ek het gepreek. En my sussie, Liezl (48), was op die klavier. 

Dit was fire and brimstone vir dié wat nie na ons wou luister nie. Joeg, ons was wild. 

Ek was in matriek toe my pa se motorhandelaar bankrot speel. Dit het ’n geweldige impak op ons gehad, maar in daardie tyd het ons nog nie besef hoeveel swaar jare wag nie. 

Ek, toe ’n jong man, het ’n ooreenkoms met die Here aangegaan: Ek het vir Hom gesê ek sal my lewe aan Hom wy as Hy dinge met my pa beter maak. 

Dit het nie beter geword nie. Nooit. Inteendeel, ek was ’n eerstejaarteologiestudent aan die Universiteit van Pretoria toe my pa in ’n motorongeluk dood is. 

Ons het alles verloor; elke laaste ding is van ons gestroop. Ek kan nie onthou dat ek toe verbitterd was nie. 

Dalk het ek anders oor die lewe gedink. Maar daardie jare het my gevorm. 

My lewe lank wou ek ’n dominee wees; wou ek siele vir God wen.

As eerstejaarstudent het ek oor naweke by ’n maksimumsekuriteit-mansgevangenis gaan preek. 

Daar was nog geen moratorium op die doodsvonnis nie, en ek moes gaan help om die manne vir hul teregstelling gereed te maak. 

Dit was ongelooflik erg; pynlik ontstellend. Baie van hulle was kwaad; sommige betraand. Niemand wou skuld beken nie. Party het hul lewe vir die Here gee. Maar almal het een ding gemeen gehad: vrees. 

Wat kon ek vir hulle sê? Wat gedoen is, is gedoen. 

Die Here het ons reeds kom vergeef; ons moet die vergifnis net aanneem deur Hom te ken. Dis al wat ek vir hulle kon sê. 

Ek wou self nooit ’n enkele teregstelling sien nie. Ek het nie gedink ek sou daarvan herstel nie. 

Ek het in daardie selfde jare oudpres. Thabo Mbeki se lyfwag ontmoet. ’n Yslike man. Hy was 17 jaar in die tronk vir politieke misdade. 

Op ’n dag sê hy vir my: “Ek kan nie aan die wit mense se God glo nie.” Ek wou weet hoekom. Toe sê hy: “Want ek sien Hom in niemand se lewe raak nie.” 

Ek het vir hom ’n nuwe Bybel gaan koop en dit met ons volgende ontmoeting vir hom gegee. 

Die yslike man het soos ’n baba gehuil. Hy het gesê niemand het al ooit vir hom ’n splinternuwe ding gegee nie; net ou goed waarvoor hulle nie meer nut het nie. 

"Ek moes leer wat die Here my wou leer voor dinge kon beter gaan"

Dit was die jare wat my sterk gemaak het; die jare wat gekeer het dat ek later in my lewe my rug op die Here sou keer. 

Later jare was ek die land vol: Bloemhof, Oudtshoorn, Mafikeng...Ek het moeilike omstandighede leer ken. Arm mense gesien; mense wat swaarkry. Mense wat alles verloor het. 

Soms het die polisie my gebel en vir my gesê daar’s huismoles êrens; ek moet kom. 

Hulle kon nie aan die deur gaan klop nie, dan word die mense kwater. Ek moes gaan preek, soms vroegoggend, soms laataand. 

Voor ek in 2013 siek geraak het, is ek in 2007 na ’n gemeente in Gauteng beroep. 

Dit was geseënde jare. Maar weer moes dit my op moeilike tye voorberei: my siekte en dat ek my werk sou verloor. Ek was maande lank werkloos – en natuurlik sonder inkomste. 

Ek het opleiding as mediator (bemiddelaar) gekry en lank my en my gesin so aan die lewe probeer hou. 

Maar ek moes eers leer wat die Here my wou leer voor dinge weer kon beter gaan: dat ons die bediening moet herdefinieer; dat dit nie oor ons gaan nie; nie oor die kerk nie; nie oor die skenkings nie; nie oor die gebou nie. 

Dat alles eintlik oor mense gaan en dat die kerk na die mense geneem moet word. Ek weet nie of dit meer wys is om huisbesoeke soos in die ou dae te doen nie. 

Ons het die lidmate lui gemaak; ons het hulle geleer hulle moet bedien word. 

Dit was die jare wat my sterk gemaak het; die jare wat gekeer het dat ek later in my lewe my rug op die Here sou keer.

Baie dinge in my lewe moes omvergegooi word sodat ek kon besef ons moet weer in Jesus se skoene gaan staan en na die mense toe gaan: dié wat honger is, dié water dors is, dié wat siek is. So sê die Here tog. 

Dit alles kom op selfopoffering neer: Aan die einde van die dag moet jy jou hele self tersyde stel. 

Dis Hy wat my deur elke storm sterk gehou het.

Dis nie altyd maklik nie. Ek is deesdae ’n tentmaker. Dit gaan met my goed, selfs al drink ek dag ná dag chroniese medikasie om die immuunsiekte onder beheer te hou. 

Ek is hier, want ons het nog baie werk om te doen. En dis ’n uitdaging: Het jy al ’n ou tannie hoor kla? Die bediening kan uitputtend wees. 

Want vandag moes ek hier sit en ruiterlik sê: Dis nie die sterkstes wat gaan oorleef nie; dis die aanpasbares.

Soveel van ons is bang om die kerk te ontstig. Bang om die oom kwaad te maak wat die grootste dankoffer gee. Dit tap jou. 

Maar die bediening kan ook net so vervullend wees: Dit is ’n weergalose ding om te ervaar hoe jy aan iemand betekenis gee. 

Daarom, wanneer die houtbankies voor my kreun en honderde oë na my op die kansel staar, en ek dink aan daardie keer toe ek so amper my rug op Hom wou keer, vra ek myself: Het ek voldoen aan daardie belofte wat ’n 18-jarige ek destyds met my pa se bankrotskap aan God gemaak het – dat ek my lewe aan Hom sou wy? Ja. Ek het.