ALIDA LUUS (21), SANGERES

Ek was ’n baie gelukkige kleuter wat letterlik dag-­in en-uit geloop en sing het. 

My ma het my vertel dat ek gesing het nog voor ek behoorlik kon praat. 

Ek het sommer vir almal gesing; al wat saak gemaak het, is dat die lewe vir my ’n lied was en musiek vir my soos suurstof was. 

Ek het in ’n huis grootgeword vol Afrikaanse musiek en ’80’s-musiek wat heeldag gespeel het. 

Om te sing was my heel grootste droom, ten spyte van gehoorprobleme wat ek op laerskool gehad het en dat spesialiste gedink het ek gaan eendag heeltemal doof wees.

Ek was nog altyd lief vir water en kon ure lank in die swembad baljaar. 

Op die ouderdom van sewe het ek weer op ’n Vrydagmiddag geswem toe ek begin oorpyn kry. 

Daardie nag raak ek wakker van ’n absolute pyn in my ore. Ek het gehuil van die pyn. 

My ouers het my ongevalle toe gevat, en die dokter het gesê daar is niks fout met my nie; ek soek net aandag.  

As ek nou terugdink, dink ek: Hoe kan ’n dokter dit vir jou sê?

Om te sing was my heel grootste droom, ten spyte van gehoorprobleme wat ek op laerskool gehad het en dat spesialiste gedink het ek gaan eendag heeltemal doof wees.

Die pyn het oor die naweek erger geword en ’n vloeistof het begin uitloop. Ek was van balans af en het kort-kort geval. 

Die Maandagoggend het my ma my na ’n oorspesialis gevat. Hy het gesê my oordromme het gebars toe ek geswem het en dat ek daardie dag nog teater toe moet gaan om grommets in te sit. 

Dit het wel nie permanent gehelp nie, want dit het kort-kort uitgekom en dan moes daar weer nuwes ingesit word. 

In die 12 maande daarna was ek elke maand by die spesialis. Twaalf operasies en prosedures in een jaar.

Ek onthou eenkeer toe ons gesin gaan uiteet het, het iets my in my oorskulp gepla en ek het dit uitgekrap. Toe ek sien, is daar so ’n blou dingetjie in my hand.

In daardie 12 maande het my balans gekom en gegaan, en ek was die meeste van die tyd vol blou kolle soos ek geval het.

Op laerskool wou ek so graag net sing dat ek aan elke sangkompetisie en elke oudisie vir die skool se revues deelgeneem het. 

Met my gehoorprobleme het die oudisies nie altyd goed gegaan nie, en ek het onder die ander skoolkinders se gespot deurgeloop. 

Ek is gereeld geterg dat ek nie kan sing nie en nooit sal kan sing nie.

Gedurende die volgende twee jaar – dit was van gr. 2 tot gr. 4 – was daar weer omtrent 12 operasies en prosedures. Dis ook toe dat my gehoor begin verswak het. 

alida luus,sangeres,hierdie lewe
Hoewel sy kleintyd met ernstige gehoorprobleme gesukkel het, het Alida nooit ophou droom nie. Vandag sing sy haar hart uit waar ook al sy die geleentheid kry. Foto: Verskaf

Dit is amper soos wanneer jy jou ore toedruk en iemand praat aan die ander kant van die vertrek. Alles wat jy hoor, is dof en ver. 

Die spesialis het toe gesê dat my gehoor besig is om te verswak en dat die skade permanent is. 

Ek het begin sukkel op skool, net omdat ek nie ordentlik kon hoor nie. Ek het gesukkel met spelling, want daar was ’n probleem met my klankvaslegging. 

Ek kon byvoorbeeld nie tussen ’n D en B onderskei nie, want ek kon nie die klanke hoor nie. 

My spelling en koördinasie het so agteruitgegaan dat ek ’n jaar lank arbeidsterapie moes kry.

Toe ek in gr. 6 kom, was dit so erg dat die TV op sy hardste moes wees, anders hoor ek niks. Alles om my moes op die hardste wees. 

Wanneer my ma met my gepraat het, het ek gereeld gesê: “Askies, ma, sê weer, ek kan nie hoor nie.” Daarna is ek weer na ’n ander spesialis. 

Ná baie ondersoeke en dinge het die uitslag gekom dat die beentjies in my oor besig is om te verbrokkel en dat dit die rede vir my oorpyn is. 

Die beentjies moes met kunsmatige beentjies vervang word, het hy gesê.

Ek onthou ook hoe hy gesê het: “Alida, ek kan alles regmaak wat stukkend is, maar ek sal nooit jou gehoor kan teruggee nie.”

Daardie nag raak ek wakker van ’n absolute pyn in my ore. Ek het gehuil van die pyn. My ouers het my ongevalle toe gevat, en die dokter het gesê daar is niks fout met my nie; ek soek net aandag.

Daai woorde het seergemaak. Vir ’n 12-jarige meisie wat nog altyd ’n sangeres wou word, was dit ’n skok. 

As jy doof is, kan jy nie sing nie. En ek het net daar besluit: Ek gaan nie vir dié operasie nie.

Die spesialis wou dit twee weke later doen. Gedurende daardie twee weke is baie gebid. 

By ons in die huis, in die kerk se selgroepe en in gebedsgroepies van vriende en familie. 

Net voor die operasie is ek weer deur ’n klomp toetse gesit, maar in my hart het ek net geweet die operasie sal nooit gebeur nie. 

Toe al die toetse klaar is, is ons na die dokter se spreekkamer. Hy het so na al die scans voor hom gekyk en gesê: “I don’t trust people.” 

Ons het nie geweet wat hy bedoel nie. Toe lig hy een van die scans op en sê: “My credibility is on the line.”

Dis eers toe dat hy ons vertel die beentjies in my ore is besig om te herstel. En dat die operasie nie meer nodig is nie. 

Tot vandag toe getuig ek en vertel mense God het my genees.

My balans en gehoor het verbeter, en toe ek in die hoërskool kom, kon ek weer skryf. Ek het ook sanglesse geneem. 

Toe al die toetse klaar is, is ons na die dokter se spreekkamer. Hy het so na al die scans voor hom gekyk en gesê: “I don’t trust people.”
 In gr. 9 was ek saam met vier ander tieners in Victory 5, die eerste tiener-popgospelgroep in die land. Om as kind openlik oor jou geloof te wees is moeilik. Kinders kan so wreed wees. 


In daai tyd het een meisie na my en ’n vriendin op die skoolgrond gekom en sarkasties gesê: “Julle is mos die Christene.” En ek het baie bekkig geantwoord: “Ja, ons is.”

Ek is nou ’n eerstejaaronderwys­student in die grondslagfase wat met afstandonderrig by Potch swot.

Wanneer ek eendag voor my klassies staan, sal dit deel van my opvoeding aan hulle wees om nooit ander kinders te boelie of af te knou of met hulle te spot nie. 

Ek wil hulle inspireer om hul drome te volg ongeag wat hul omstandighede is, want ’n mens moet nooit ophou droom nie.

Vandag sing ek my hart uit waar ook al ek die geleentheid kry.

Ek is nou ’n student en ’n sangeres, maar 10 jaar gelede kon ek nie meer ordentlik hoor of skryf nie.

Almal het toe gedink ek gaan eendag doof wees, en kyk nou net hier.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.