ANTON LE ROUX (55), TANDARTS

Dis moeilik om tande te tel. Ek doen nog wat ek doen drie dekades nadat ek gekwalifiseer het. As ek moet raai: vyf tande per dag, 300 dae per jaar – 45 000.

My vrou, Charlene Saayman, is ook ’n tandarts. Ons is van ons universiteitsdae op Stellenbosch af saam. Wanneer ek ’n probleem met my tande het, gaan ek na haar toe. En sy kom na my toe om aan haar tande te werk.

Ons het nie kinders nie. Daar is mense wat hul neus optrek en my vra hoe jy by iemand se mond kan inkyk as al die tande vrot is? Of as sy asem ruik na gister se brekfis?

Die openinkie waarin jy werk, is hoe groot die pasiënt sy mond kan oopmaak – maksimum 50 mm by 50 mm. Dis waarmee jy elke dag werk. Dís die toegang.

En dan werk jy aan iets wat nie groter as jou nael is nie. ’n Tand. ’n Ou kom in met ’n klomp verrotte tande, maar as jy begin werk deur daardie opening . . .

Jou konsentrasie is so intensief op daardie deel wat jy doen, daai goed is bysake. Jy dink nie eens meer aan hoe die tande lyk nie. As student het ek baie erger goed gesien.

In privaat praktyk is mense se tandheelkunde-IK hoër. Dis baie skaars dat iemand instap en sê 20 van sy tande is verkrummel. Dit hang ook af waar jy werk.

Die eerste ding waarna jy kyk wanneer jy iemand sien, is oë en tande.

’n Ou in ’n kliniek in ’n rural area gaan meer sulke erge gevalle sien. Vrot tande is iets wat my nooit regtig afgesit het om iemand te sien nie.

’n Ou kom in met pyn of ongemak – jou prioriteit moet wees om dit so gou moontlik uit te sort sodat hy happy is. Die laaste ding waaraan jy dink, is die reuk.

As iemand gastriese probleme in hul verteringstelsel het, kan hulle 10 keer per dag tande borsel; dit sal nie die slegte reuk wegvat nie. Dan is dit nie ’n tandarts se werk nie.

Die eerste ding waarna jy kyk wanneer jy iemand sien, is oë en tande. Dis waar jy jou eerste indruk kry. Daar is dikwels nie finansies om tande te vervang nie, so jy kan nie regtig mense daarop judge nie.

Ek het nog nooit iemand ontmoet wat sê hulle wil nie ’n mooi glimlag hê nie. Vir party mense is tande soos ’n liggaamsdeel.

Ek het mense gehad wat gehuil het; nie oor die prosedure nie, maar omdat hulle die tand moet verloor. Asof ek haar hand gaan afsit.

Jy werk met ’n menslike faktor en emosies. Mense moet jou amper 100% kan vertrou. Baie mense wat my kom sien, praat oor nagmerries dat tande op ’n streep uitval . . .

Ek wou hier in die stad werk. Ek is eintlik ’n kind van die platteland. Ek het grootgeword op Ceres. In die stad is jou scope ’n bietjie beter met gespesialiseerde prosedures, implantate, brugwerk. Dit het verander.

In my dae op plattelandse dorpies was ’n laboratorium, wat kan help met krone en so aan, ’n probleem. Met moderne tegnologie kan jy met 3D-tegnologie die tande by jou praktyk maak.

Ons noem dit milling – van ’n porseleinblokkie tot ’n tand. Die masjien is duur, maar tandartse op dorpies kan dit saam koop. Op die platteland is dit ook meer persoonlik. Jy het meer ’n gesinstipe-praktyk. Ma, pa en die kinders kom.

Hy probeer om die ervaring onder sy bekwame hande in die tandartsstoel so gemaklik moontlik te maak. Hy skat hy het al aan sowat 45 000 tande gewerk. Foto: Jacques Stander

In ’n stedelike praktyk soos hierdie een het jy meer werkende jong mense en afgetrede mense. Die middestad en plekke soos die noordelike voorstede verskil ook. Daar is dit ook meer families.

Ek is in die stad omdat dit is hoe my lewe uitgewerk het. Ek het eers my diensplig klaargemaak by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg, Kaapstad. Soos al die ander troepies het ek eers my drie maande basies gedoen saam met die ouens wat uit die skool kom.

Omdat ek ’n kwalifikasie gehad het, het ek die geleentheid gekry om my offisierskursus te doen vir nog so twee of drie maande. Dan het hulle jou in ’n kliniek gesit. Jy het gewerk op outjies wat inkom vir hulle diensplig.

Toe is ek verplaas na 2 Militêre Hospitaal. 1991. Ek was so 23. Met die verandering in die land moes jy skielik hoor jy is binne ’n week of twee klaar met jou diensplig; dit word afgeskaf.

Jy het gedink jy het nog tyd om te beplan, en skielik is dit nie net jou groepie wat uitklaar nie, maar honderde mediese mense. Daar was ’n opeenhoping. Die mark was so ’n bietjie oorvol.

Eie potjie krap

Ek het grootgeword met die idee as jy kwalifiseer, is jy uit die huis en jy moet jou werk begin doen; nou moet jy jou eie potjie krap. Deesdae is kinders 31 en nog in die huis.

Studieskuld om terug te betaal sodra jy begin werk – sulke goed maak jou vinnig groot. ’n Maand nadat ek uitgekom het, het ek my praktyk hier in die middestad begin.

Ek het dit gekoop van ’n tandarts wat geëmigreer het. Dit was eers in die mediese sentrum oorkant die fontein by die stasie. Nou is dit hier in die gebou oorkant die pad.

Van kleins af wou ek in ’n mediese rigting ingaan. Ek is lief om met my hande te werk. As kind het ek baie houtwerk gedoen. My speelgoed het ek vir myself gemaak. Karretjie en trokkies.

Dit was om my kreatiwiteit uit te oefen. Daardie tyd was daar nog nie iets soos shadowing om te kyk hoe jy gaan werk nie. Gelukkig was ons buurman op Ceres ook ons tandarts en kon ek hom ’n bietjie uitvra.

Ek het besluit omdat dit ’n mediese rigting is en jy elke dag opereer, is dit ’n goeie kombinasie. Daardie jare het jy gaan studeer vir ’n prokureur, dominee, onderwyser of dokter of ouditeur.

Stokperdjies

Die spektrum is baie wyer deesdae; beroepe bestaan wat destyds nie bestaan het nie. As ek weer kon kies, sou ek graag ingenieur wou word.

Een van my hobbies is om karavane te bou. Van scratch af. Of ek koop ’n Land Cruiser-bakkie, dan haal ek die bak af en bou ’n camper daarop.

Ons hou daarvan om Botswana en Namibië toe te gaan, maar dan sit ons onder ’n boom en nie in ’n hotel nie.

Een ding van ’n beroep as tandarts is dat jy moet bybly met die nuutste verwikkelinge, anders gaan kompetisie vir jou ’n probleem raak. Daarom gee ek twee dae per week klas by die Universiteit van Wes-Kaapland.

Dit help my om op die hoogte te bly met die nuwe tegnologie en tegnieke en materiale. Ek gebruik nog een soort materiaal waarmee ek gekwalifiseer het. Die ander goed wat ek gebruik, is alles nuut.

As jy nie bygebly het nie, is jy ver agter met dié goed.

Stopsels en stres

Amalgaam – daardie silwer stopsels – was 90% van die stopsels wat ek ingesit het toe ek begin het. Die wit stopsels het pas uitgekom en ons het dit net op voortande gebruik.

Nooit agtertande nie. Sedertdien is daar soveel verwikkelinge; nou is dit sterk genoeg om die gewig van die kake na agter te dra. Dit wat jy deur die jare leer, kan jy nie in ’n teksboek leer nie.

Ek geniet dit om vir die studente te leer uit my ondervinding. Dis ’n probleem deesdae; studente en pasiënte google ’n YouTube-video. Dikwels is dit net 20% reg.

Jy kan nie in jou praktyk gou gaan google vir die regte tegniek nie. Hulle sal opstaan en uitloop. Wat ek deesdae baie sien: Weens stres en druk en persoonlike sake kraak die tande mettertyd weens ekstra drukking en die kners van tande.

Daai tand het nie eens ’n gaatjie ingehad nie, maar kraak middeldeur weens spanning. Die ergste ding wat jy kan doen om jou tande te verswak is om nie om te sien na mondhigiëne nie. Borsel en vlos.

’n Ou kan maar eerder rook en sy tande laat geel word as om nie die regte dieet te volg nie. Dis nou volgens my. Ook mense wat heeltyd pepermente suig terwyl hulle werk. Dit doen ongelooflik baie skade. Kougom kan goed wees, solank dit suikervry is.

Vermy gaskoeldrank en uitermatige soet goed. As jy ’n plak sjokolade in vyf minute se tyd opeet en jy spoel jou mond uit, gaan dit zero effek op jou tande hê.

Maar as jy dit blokkie vir blokkie oor ’n halwe dag voor jou rekenaar eet, dan bly daardie soetsuur omgewing. Dis kritiek vir tande. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.