DEBBIE GREWE MANHULA (54), KUNSGALERY-EIENAAR 

Van kleins af het ek geteken – eers in die sand met stokkies. 

My eerste kunsonderwyser was my tannie Bib Marais, my ma se oudste suster. Dit was op ’n kleinhoewe buite die Paarl. 

Haar man, oom Hannes, het by die Nederburgwynplaas gewerk en Tannie Bib het vir my prentjies in die wolke gewys. 

Sy het my leer diep kyk. Sy is nou amper 90, en ek kuier gereeld by haar en oom Hannes in die Paarl.

Ek het in st. 7 ná ’n motorfietsongeluk en toe ek uit ’n koma kom in die hospitaal begin kuns neem. 

Dis asof die ongeluk die kreatiewe deel van my brein aangeskakel het weens die harsingskudding. 

Ek kon nie aangaan met wiskunde of biologie nie.

Paul van Niekerk van die Paarl-kunsskool het my aangemoedig om skilderkuns, tekstielontwerp en kunsgeskiedenis te neem met die woorde: “Jy het hard genoeg geval; kom paint.”

My ma is Martie Grewe, ’n verpleegster. My pa, Jackie Grewe, ’n skrynwerker, het sy eie lewe geneem in die Desember­vakansie nadat ek in st. 5 was. 

Ek was vir jare sy seuntjie wat saamgejag en visgevang het. Hy het mooi gesing en gedigte geskryf. Hy was ook bipolêr. Soos ek.

Dis asof die ongeluk die kreatiewe deel van my brein aangeskakel het weens die harsingskudding.

Ná skool het ek in raamwinkels begin werk. Die eerste een was op Groentemarkplein in Kaapstad in 1985. 

Later was dit in Wynberg en oral in die Kaap. Ek het vir Deon Botha ontmoet wat tot vandag toe my ramer is. 

Elke dag was daar nuwe kleure, prente en kunstenaars om mee te werk. 

Ek is mal daaroor om met kunstenaars te gesels. Dis interessante mense wat interessant aantrek. 

Twee jaar lank het ek op Kalbaskraal net buite Malmesbury gaan woon en net geskilder. ’n Kunstenaarsbestaan gevoer en ’n klerewinkeltjie ook bedryf. 

Ek het op ’n dag manies geraak en vir almal vertel ek wil woestyn toe om ’n boek te gaan skryf. 

My ma het my laat opneem in Stikland. Dit het drie polisie-vans gekos om my van Kalbaskraal tot by die psigiatriese hospitaal te kry. 

Die dokter het dadelik besef wat fout is.

Daar is mos mense wat meen: Inspirasie vir kuns kom dikwels met ’n mal muse. Maar dit beteken nie ek en ander kreatiewe siele is mal nie, hoor.

Vier jaar gelede was ek weer baie siek met bipolêre steuring. Ek kon glad nie slaap nie. 

Ek het my winkel afgeskeep en snaaks aangetrek. Ek was baie luidrugtig. Ek het op die sypaadjie voor die winkel gesit met min klere aan. 

debbie grewe
Debbie hou ’n foto vas van haar en haar man, Marcelino Manhula, met wie sy in 2011 getroud is. Hy is ook ’n kunstenaar en maak driedimensionele kunsstukke van gebreekte teëltjies. Foto: Mish Jordaan

My man het my in Somerset-hospitaal gesit. Ek was daar vir drie dae. Die medisyne waarop hulle my gesit het, is nog baie suksesvol. 

Drie jaar voor ek my eie galery hier in Seepunt geopen het, het ek gewerk by winkels wat net afdrukke verkoop. 

Ek het my voorgeneem om net oorspronklike kuns te verkoop as ek my eie plek het. Ek het dit aan God belowe. 

Maar ek was bang. Tot ek 30 jaar oud geword het op 30 Julie. 

Ek het dit as my eerste teken gesien dat die tyd reg was. “Wat nou, God? Ek het genoeg ander mense ryk gemaak,” het ek gebid. 

Op ’n stappie deur Seepunt loop ek verby ’n ou skoenwinkel met ’n helder lig wat die To Let-sign belig. Nog ’n teken. 

Dit was 24 jaar gelede – en hier is ek. My kliënte en inwoners meen ek is ’n instelling. 

Hulle het vir jare lank my tuin en fontein voor die winkel verdra. 

As daar ongeskikte mense in die galery is – mense sonder geduld en ander wat moet betaal vir iets wat gebreek het; ongelukkige getroudes en mense wat nie hou van hul plooie nie – dan stap ek uit na my tuintjie op die beton en bewonder die nuwe blommetjies.

My grootste doel met die galery is om kunstenaars se peanut butter in salami te verander. 

Die dokter het dadelik besef wat fout is. Daar is mos mense wat meen: Inspirasie vir kuns kom dikwels met ’n mal muse. Maar dit beteken nie ek en ander kreatiewe siele is mal nie, hoor.

Ek wag nie 30 dae om vir kunstenaars hul geld te gee nadat dit verkoop is nie. Dis sweetgeld wat hulle weer terugploeg in hul nuwe werk. 

Mense in Seepunt wou my galery laat slaag en het aan die begin vir my kuns gegee wat hulle nie meer wou hê nie om te verkoop.

Kunstenaars het seisoene wanneer hulle gewild is. 

Hulle bid dat die regte persoon by die galery verbyloop en aanklank vind by hul kunswerk met die regte kleure en tema. Dis ’n wonderwerk.

By die Maurice Mbikayi-uitstalling het my rok my toekomstige man, Marcelino Manhula, gevang. 

Hy is van Mosambiek en werk met gekleurde teëltjies wat hy breek en in driedimensionele kunsstukke omtower. 

Die aand van Loyiso Mkize se uitstalling het ek vuur gemaak in ’n konka in die servitude van die gebou. 

Ek het vroeër ’n dokumentêr oor die vermoorde sanger Lucky Dube gekyk en besef ek het as kind niks beleef soos wat hy in syne het nie. 

En daar kom sit toe daai aand ’n man met Lucky Dube-dreadlocks langs my en sit sy arm om my skouers.

Marcelino vertel my toe dat hy daardie rok van my onthou. “Jy is baie mooi. Moenie dit wegsteek nie,” het hy by my gepleit. 

Ek dink ons liefde vir mekaar, geraam met respek, is die indrukwekkendste kunswerk in die galery.

Ek het aan die Skepper gesê ek gaan nie meer ’n Jannie Jammergat wees nie.

Marcelino het ses maande lank by my kom kuier uit Woodstock, waar hy in ’n kommune gebly het. 

Op Valentynsdag van 2011 vra hy of hy saam met my in my “boomhuisie” op die boonste vlak van die galery kan intrek. 

Vyf maande later is ons getroud in die gang langs die galery. 

Saam met ons bly Esther die kat, wat ek by ’n vriend gekry het toe ek die galery geopen het. 

Aanvanklik was haar naam Jin-Jang omdat sy hierdie perfekte swart-en-wit patrone aan haar lyf het. 

Kliënte meen toe: “Hoe kan ’n boeremeisie wat in ’n Joodse dorp bly ’n kat met so ’n naam hê?”

Hulle noem ’n paar name uit die Bybel, en toe haar oortjies op “Esther” spits, word dit haar nuwe naam.

Soos ons hier sit, is Marcelino op pad terug op die bus van Mosambiek af waar hy ’n groot muur op kommissie moet verfraai met sy kuns. 

Ek moet die bed in die boomhuisie gaan opmaak waar Esther geslaap het. Hy kom nou enige uur huis toe. 

Ek dink ons liefde vir mekaar, geraam met respek, is die indrukwekkendste kunswerk in die galery.