HETTIE LÖTZE (67), BAKSTER

Dit het alles met vier koeke begin. Twee vanilla- en twee sjokoladekoeke. 

Ek het op Upington gewoon en was ’n gekwalifiseerde haarkapster.

Ek het my eie haarsalon gehad, maar dit het nie lank gehou nie. Ek het vinnig verveeld geraak en dieselfde snitte begin sny. 

Op ’n dag vra my buurvrou my of ek nie koeke vir die tuisbedryf op die dorp wil bak nie, want hulle kort koeke. Dit was nou in 1983. 

Ek sê toe: “O nee, genade, nooit!” “Nóóit,” sê ek vir haar. “Cillie, ek kan nie koeke bak nie.”

“Man,” sê Cillie, “kom, ek sal jou wys.” 

So gaan ek toe na haar, en my eerste beslag kom reg uit. Ek gaan koop toe vier panne en ’n menger – ’n Bosch nogals – en bak toe die vier koeke. 

Kyk, ek het niks geweet van kos maak of bak nie. Ek was van kleins af in die koshuis op Olifantshoek en mamma het nie kans gehad om my te leer nie. 

Pa het net geboer en het ge-struggle vir water in die Kalahari vir die skapies. Ek het eenkeer rys en vleis probeer maak; alles was sommerso deurmekaar- gegooi. 

Pa het al sit en wag op die bord kos, maar die bord was vreeslik warm en het my hande gebrand.

Dit het alles met vier koeke begin. Twee vanilla- en twee sjokoladekoeke.

Toe ek by pa kom, laat val ek die bord. Pa was ’n bietjie geïrriteerd; ma het help skoonmaak. 

Oor Kerstyd het mamma wel koekies gebak in een van daardie stofies met die vuurtjie. Dan bak sy koekies vir Afrika. Maar dit was eintlik al wat ek van bak geweet het. 

Nadat my vier koeke vir die tuisbedryf reg uitgekom het, gaan ek toe aan. En toe raak dit vir my lekker. Ek het dit net vir ’n ekstra geldjie gedoen. 

Min het ek geweet hoe koekbak my nog op my pad vorentoe sou dra. Ek was ’n enkelouer en moes my twee klein kinders alleen grootmaak. 

In 1990 trek ek af Kaap toe, maar ons het baie aande nie kos gehad om te eet nie.

Ek wou nie weer bak nie omdat dit verskriklik harde werk is en jy heeldag op jou voete is. 

Ek begin toe hare privaat sny, maar dit was net nie genoeg nie. Dan kom my kinders van die skool af en ek weet nie wat ek vir hulle gaan gee om te eet nie. 

Dan sny ek maar iemand se hare vir so R10. Dan koop ek maar ’n brood en sit partykeer gemengde konfyt daarop. Daar was nooit margarine in die huis nie. 

Later het die NG-dominee opgetel daar is moeilikheid by die huis. Die kerk het toe vir ons elke dag begin kos gee. Dit was sleg vir my; ek het vreeslik skaam gekry. 

Toe, op ’n dag toe ek weer pastorie toe gaan om ons kos te gaan haal, sê die dominee vir my dat hy eintlik daardie kos moet kry. Ek het daarna nooit weer gegaan nie. 

Nadat my vier koeke vir die tuisbedryf reg uitgekom het, gaan ek toe aan. En toe raak dit vir my lekker. Ek het dit net vir ’n ekstra geldjie gedoen.

Jy kan nie dink hoe voel ’n mens nie. My kinders se vriende se ma’s het vir ons begin bakke kos stuur. 

Ek was by ’n kruispad. Ek wou weer begin koeke bak, maar ek het nie selfvertroue gehad nie.

Ek en my dogter stap toe eendag in ’n tuisnywerheid in, maar ek was te bang om met die vrou te praat. 

Toe ek wou uitstap, sê my dogter vir haar: “Tannie, my ma kan ook koeke bak.”

Die vrou was so bly om dit te hoor, want sy ry haar koeke van ver af in. 

Sy bestel toe agt koeke by my. Ek gaan leen toe geld by ’n welsynorganisasie om die bestanddele te koop om daardie koeke te maak.

Al agt verkoop toe in die winkel – en toe is dit vuur en vlam. 

Later kon ek nog agt panne koop om alles vinniger te doen. Vier panne was in die oond, vier in die wasbak en vier het deeg ingehad, gereed om in die oond gesit te word. 

Dit was so ’n kettingloop wat lekker gewerk het. Ek was toe so vlak in my 40’s.

Ek het nooit op ’n Vrydagaand geslaap nie, want die bestellings moes die volgende dag uit.

Ek het ’n Jetta gehad. Wanneer ons klaar was by die winkels, het die boot so swaar gelê met al die sakke versiersuiker en meel. 

Ek het nooit op ’n Vrydagaand geslaap nie, want die bestellings moes die volgende dag uit.

Een Paasnaweek moes ek 400 koeke vir agt winkels bak. Ek was so besig, die kinders het geweet van my, maar hulle het my nie gesien nie. 

Toe soek ek huis. Ek wou nie so aanhou in die kombuis bak nie, want later begin alles na koek ruik. Jou gordyne, jou beddegoed, jou kaste. Alles stink na koek. 

Ek het die eiendomsagente gesê ek soek ’n huis waar ek kan aanbou, maar hulle luister mos nie wat jy sê nie en gaan wys my toe al die verkeerde plekke. 

Maar later, eindelik, kry ek die regte huis waar ek toe kon aanbou vir ’n bakplek en vir blyplek vir twee werkers. 

Ek het ’n lening by die bank gekry. Maar dit was moeilik, want ek het nie payslips nie. Ek het hulle net my faktuurboekies gewys. 

Ek het baie hard gebid. Wraggies, toe gee hulle vir my die lening. Toe gaan dit nou lekker. 

Almal in die huis was gelukkig. Dan kyk die kinders die fliek, dan hoor ek hoe lag hulle.

Dan loer ek so om die hoek van waar ek besig is met die koeke. Ons het vreeslik gelag in daardie huis. 

’n Ruk daarna ontmoet ek vir Gustav. Dan call hy by my. Die kinders het my doodgespot daaroor. Hierdie ou vrou wat nou weer begin vry. Ek en hy is nou amper 20 jaar getroud. 

In 2000 toe verander alles. My seun, Jaco, is in ’n motorongeluk dood. ’n Dag voor sy 22ste verjaardag. 

Een Paasnaweek moes ek 400 koeke vir agt winkels bak.

Ek was in die gutters. My vlerke was heeltemal af. Ek was teen die grond. 

Op sy verjaardag moes ek sy kis gaan uitsoek. Hy wou daai hele week nog sy verjaardaggeskenke oopgemaak het, en ek het gesê nee, hy moet wag. 

Op sy verjaardag, toe ek klaar die kis gekies het en by die huis kom, sien ek al die geskenke nog presies so lê. Onoopgemaak. 

Ek was van my trollie af. Ek het gehelp om die kis te dra. Ek het hom in die graf laat sak. Dit is my kind. Ek het hom in die lewe gebring. Ek sal hom ook uit dit vat. 

Sewe jaar lank het ek ’n kruis op die plek gaan sit waar hy verongeluk het. Ná sy dood moes die besigheid maar aan. 

Ek het gehuil van tuisbedryf tot tuisbedryf. Ek het net geëet en geëet. Ek het 30 kg in daai jaar aangesit. 

Ons moes die huis verkoop, want ons kon nie byhou met die paaiemente nie. 

Ek het nog my standaardkoeke afgelewer, toe vra die vrou vir my of ek nie spesiale koeke wil bak nie. Jy weet, die aanneemkoeke, doop- en troukoeke. 

Maar ek was skrikkerig, want ek het niks geweet van plastic icing en blommetjies maak nie. Daai tyd het ons nie YouTube gehad wat jou enigiets kan wys nie. 

Maar ek sê toe ja en ek gaan koop toe ’n roos en haal hom so stadig stuk vir stuk uitmekaar. So leer ek toe myself. 

Ná my seun se dood het ek gehuil van tuisbedryf tot tuisbedryf.

Die koeke was toe die hele tyd my redding. Dit was iets waarop ek kon fokus.

Ek het besef ek kan nie gaan lê nie, want as jy gaan lê, dan staan jy nie weer op nie. 

Vandag bak ek al my koeke in hierdie wendyhuis agter ons huis. Gustav het hom vir my gebou.

Dit is my koninkryk, my refuge, my bidplek. Ek herstel hier binne. 

Ek sit die radio aan op RSG en dan bak ek. Ek maak hoenderpasteie, worsrolletjies, handpasteie en soutterte ook. Melkterte, lemoenkoeke, sjokolade- en vanillakoek. 

Af en toe sal ek ’n wortelkoek maak. Gustav help met die verpakking van die koeke, hy sny die borde en hy lewer hulle af. 

Ek bak al 36 jaar koeke, en my koeke flop steeds. Maar nou weet ek darem waarom hulle flop, soos as daar te veel bakpoeier in is. 

Of hulle brand in die oond as die telefoon lui en ek raak so aan die praat, ek vergeet heeltemal van die koeke. 

Ek ken al die resepte uit my kop uit; ek werk nie uit ’n resepteboek nie. My gunstelingkoek is ’n plaatkoek, want dis die maklikste om te bak. 

Soms sal ek vir my man en kinders ’n sjokoladekoek bak wanneer hulle my vra. Soms sal ek van die afsnystukke met kondensmelk vir hulle gee. 

Ek bak al 36 jaar koeke, en my koeke flop steeds.

Maar ek is al so moeg vir koeke, hulle kry nie koeke vir hul verjaardae nie. Gustav word nou 70 en hy gaan beslis nie ’n koek kry nie. 

Ek het my kinders baie afgeskeep met die bakkery. Ek is spyt daaroor, maar ek moes kos op die tafel sit. 

En ek is spyt ek het my liggaam so verniel met die etery en dat ek so baie op my voete is. Ek het nooit vir myself tyd gemaak nie.  

Maar niks het eintlik verander nie; ons pensioen is hopeloos te min om van te leef. Ek en Gustav lewer ook elke dag koerante af. 

Ons staan soggens tweeuur op en gaan lewer dit in die verskillende buurte af.

Ons kom dan so vyfuur by die huis. Dan gaan slaap ek tot so agtuur, staan op en begin koeke bak. 

Ek wens ek hoef nie meer koeke te bak nie. Ek wens ek kon op ’n vakansie iewers in die berge gaan. 

Ek wil net ’n plekkie hê waar ek kan sit en ’n bietjie brei.