LIZETTE CROUCH (43), KASSIERE EN TOESIGHOUER 

Ek werk nou al 18 jaar vir Pick n Pay. Ek het begin deur sakkies te pak. Dié tyd van die jaar raak dit mal hier. 

Die winkel raak besig oor die Kerstyd, en ­almal wat hier kom inkopies doen, lyk so gelukkig en opgewonde. 

Dis ’n plesier om met Kerstyd al die opgewonde gesiggies in die winkel te sien. Ons almal kry die Kersgevoel as die winkel opgedoen word met die Krismis-trimmings en -bome. 

My Krismiskos is gelukkig al gekoop. Ek is van jongs af geleer om altyd ’n maand vooruit te koop. Al wat ek nou nog moet kry, is die Krismisvleise: die boud, soutvleis, tong, gammon en natuurlik die sticky hoendervlerkies.

Dit is hartseer om dié tyd van die jaar te sien hoe die ma’s met hul dogtertjies kom inkopies doen. 

Dan wonder ek hoe my Kelly-Ann nou sou wees. Sy sou nou 11 jaar oud gewees het...

Ek is in die Paarl gebore, in Paarl-hospitaal, natuurlik. Die groenigheid van die dorp, die mooi wingerde en die uitsig oor die dorp vanaf die Taalmonument is asemrowend. 

Die weer is ook pragtig dié tyd van die jaar, alhoewel ons soms kla oor die hitte. 

My ma en pa het in 1987 geskei. Ek en my pa is nie baie na aan mekaar nie. Maar ek en my ma, Debra, was en is nog altyd na aan mekaar. 

My ma was nog al die jare ’n huisvrou. Sy is ’n bobaasbakker – en dit op 65. Sy bak die lekkerste koeke. 

My Krismiskos is gelukkig al gekoop. Ek is van jongs af geleer om altyd ’n maand vooruit te koop. Al wat ek nou nog moet kry, is die Krismisvleise: die boud, soutvleis, tong, gammon en natuurlik die sticky hoendervlerkies.

Dié tyd van die jaar is sy bekend vir haar Krismiskoeke. Haar vrugtekoek is veral nou ’n treffer by haar kliënte. 

Ek is al 20 jaar getroud met Rodney. Ons het drie kinders. Brogan is nou 17 en Kim-Lynn is 24 jaar oud. 

En dan is daar Kelly-Ann. Sy is my engelkind. Sy is daar bo in die hemel. Sy was vier toe sy afsterf. Dit het my lewe geruk.

Sy is in 2012 met leukemie gediagnoseer. Op 28 Januarie daardie jaar het ek haar dokter toe gevat omdat haar juffrou my laat weet het dat Kelly net in die klas sit en nie aan aktiwiteite deelneem nie. 

Sy het daardie Saterdag bleek gelyk. Die dokter het my onmiddellik na Paarl-hospitaal verwys, waar sy toe opgeneem is. 

Sy het dringend bloed benodig. Die Sondag is sy na Tygerberg-hospitaal geneem vir verdere toetse. 

Ek onthou nie die datum so goed nie, want ek wil dit nie eintlik onthou nie. Wag, dit was 2 Februarie toe sy gediagnoseer is. 

My hele lewe het vinnig uitmekaargeval. Alles het so gou gegaan. Sy het onmiddellik met haar chemobehandeling begin. 

Sy het altyd geglimlag as sy ­chemo kry met daai klein driejarige liggaampie van haar. Maar sy kon dit hanteer. 

Ek kon ongelukkig nie meer werk nie. Kelly moes gereeld in die hospitaal wees. Ek het nog langs haar hospitaalbed my bedankingsbrief vir Pick n Pay geskryf. 

lizette crous,kelley-ann crous,hierdie lewe
Lizette en Kelly-Ann, wat nou 11 jaar oud sou gewees het. Foto: Verskaf

Toe ek middel-Februarie terug werk toe gekom het, het ek die brief aan my destyd­se bestuurder, Faldi Rylands, gegee. 

Hy het onmiddellik nee gesê en vir hoofkantoor gevra of ek ’n jaar onbetaalde verlof kon vat om na my dogter om te sien, en dit was goedgekeur. God is goed. 

Dit het daardie jaar moeilik gegaan sonder my inkomste. My man is ’n langafstandtrokdrywer en was baie weg van die huis af. 

Maar my vriende, familie en bure was altyd daar om ons finansieel by te staan. 

Soms moes ek drie keer ’n week Tygerberg toe gaan met Kelly, en dan was my kar se tenk kwart. 

Ewe skielik sou daar iemand wees wat klop aan die deur en geld in my hand stop. Dan kon ek weer daardie week hospitaal toe ry. 

Maar ek was ’n afwesige ma vir my ander twee dogters. Brogan was toe nege en Kim was 16. 

Daardie ses maande van behandeling het gedraai om my en Kelly. My ander kinders moes hul eie toebroodjies insit soggens en alles self begin doen het. 

My ma was ook daar om ouma en ma vir hulle te wees. Ek en Kelly was in ons eie kokon. 

In April daardie jaar het sy al haar pik­swart hare verloor. Dit was oor die Paasnaweek toe haar hare uitgeval het. 

My hele lewe het vinnig uitmekaargeval. Alles het so gou gegaan. Sy het onmiddellik met haar chemobehandeling begin.

Haar immuunstelsel het begin agteruitgaan omdat Kelly nooit regtig geëet het nie. Maar weens die steroïede het sy begin swel. 

Op een stadium het my dogter­tjie soos ’n Oros-mannetjie gelyk. Haar kleertjies het gegaan van ’n twee-tot- drie-grootte tot ’n agtjarige se grootte. 

By haar laaste partytjie, toe sy vier word, was haar tema Dora the Explorer. Sy was mal oor Dora en die Bokke. 

Sy het vyf Boktruie. Daar lê nog vier van haar Boktruie by die huis. Die ander een het sy aangehad toe sy oorlede is. 

Sy het dit aangehad toe sy haar laaste asem uitgeblaas het. Ongelukkig moes die verpleegsters dit van haar lyfie afknip om haar skoon te maak. 

As ek haar in ’n Boktrui kon begrawe het, sou ek. Sy was ’n trotse Bok-ondersteuner. Sy sou so trots op hulle gewees het met die Wêreldbeker-wen. 

Dit was Augustus 2012 toe sy net begin koors op koors kry. Ons was gereeld in en uit by die hospitaal. 

Die Vrydag het sy begin kolle reg oor haar lyf uitslaan. Ek, Rodney en Brogan was daardie aand by haar. 

Sy het vir haar pa gesê hy moet vir Spunky, ons hond, sê hy moet haar in die hospitaal kom besoek, want sy gaan nie weer huis toe kom nie. 

Die Saterdagoggend is Brogan dokter toe, want sy het waterpokkies opgedoen. Kelly het haar aangesteek. 

Ek het in die gang gewag terwyl hulle haar aan die masjien wou koppel. Nog voor hulle dit kon koppel, het sy haar laaste asem uitgeblaas. Hulle het 20 minute gesukkel daardie dag op 18 September om haar weer lewendig te kry.

Daar was ’n kindjie in die saal naby Kelly se kamer wat in haar kamer gekom het terwyl ek daar was wat waterpokkies gehad het. 

Sy het net by die deur ingekom toe die verpleegster haar gou kom verwyder het. Maar dit was genoeg om vir Kelly aan te steek. Haar waterpokkies het binnetoe geslaan en het haar hart affekteer. 

Die dokters het kom sê hulle gaan Kelly aan ’n asemhalingsmasjien moet koppel omdat sy begin swaar asemhaal het. 

Ek het in die gang gewag terwyl hulle haar aan die masjien wou koppel. Nog voor hulle dit kon koppel, het sy haar laaste asem uitgeblaas. Hulle het 20 minute gesukkel daardie dag op 18 September om haar weer lewendig te kry. 

Haar pa was op Bloemfontein toe die dokter hom met die nuus gebel het. Ek kon nie. 

Hy was stukkend. Maar die Here het besluit dit was tyd om haar te kom haal. Al verstaan ons dit nie.

Ek onthou nog Kelly se laaste Kersfees. Sy het ’n opblaas-swembad en daardie gekleurde plastiekbolle gekry wat sy in die swembad gegooi het. 

Sy was baie lief vir Kersfees. Behalwe die Bokke, was Vader Krismis haar ander hero. 

Kelly was baie oor poppe met mooi hare. Ek sou haar seker dié Kersfees ’n haarsalonstel as geskenk gegee het. 

Al haar klere en haar Boktruie lê nog by die huis. Ek kan nog nie myself sover kry om daarvan ontslae te raak nie. Ek is nog nie gereed nie. 

Sy was baie lief vir Kersfees. Behalwe die Bokke, was Vader Krismis haar ander hero.

Elke jaar op haar verjaardag gaan eet ons pizzas by haar graf. Sy was baie lief vir pizza. 

As ek een wens van Vader Krismis kon vra, net een, sou dit wees dat Kelly vir een dag aan my teruggegee kan word. 

Dat daardie mooie blom net weer vir een dag in my tuin gesit kan word. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.