Wilma Liebenberg (45), paramedikus

Sowat 12 of 13 jaar gelede is een van my vriendinne aan ’n hartaanval dood.

Sy was jonk; sy was 21. As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek haar kon help. Maar ek het nie geweet wat om te doen nie en sy is dood.

Sy kon nog geleef het; ek glo so.

Maar ek verwyt myself nie.

As jy jouself moet verwyt oor elke pasiënt wat jy verloor, sal jy dit nooit maak nie.

As ’n paramedikus in Suid-Afrika het ek al te veel mense en vergruisde lyke uit karre gehaal.

Ek het al gejok vir mense wat besig is om dood te gaan en vir hulle gesê dat alles orraait sal wees terwyl ek hul hand vashou en sien hoe die lewe uit hulle gaan.

Mense het al op my geskree terwyl ek desperaat was om iemand se lewe te red en te keer dat die persoon doodbloei.

Mense het al op my gespoeg – my useless en incompetent genoem – terwyl ek kalm moes bly.

"My skoene het al meer bloed as lae politoer gesien."

Ek het al in die reën gestaan terwyl ek deur ’n dronk motoris sleggesê word.

Ek het al vir mense gebid wat ek nie ken nie.

Ek het Kersdae en ander vakansiedae misgeloop. En soms het ek eenkant gestaan en gehuil.

My skoene het al meer bloed as lae politoer gesien.

Party dae is dit lekker om werk toe te gaan; ander dae glad nie.

Dit is nie soos ’n gewone werk waar jy opstaan en jy het al jou boekies en papiertjies wat in ’n kantoor op jou wag en jy weet presies wat jy gaan doen nie.

Elke dag is anders.

Jy hoop elke dag vir ’n goeie dag: ’n dag waarop daar geen padongelukke is nie, waarop niemand mekaar met ’n mes gesteek het nie en waarop die ou mense wat siek is nie op die derde vloer in ’n woonstelblok bly nie.

’n Dag waarop mense nie op jou skree en jou met dinge wil gooi nie. Dit is ’n goeie dag.

Ons kry elke dag tussen 12 en 20 calls van mense wat hulp nodig het.

Wat sleg is, is wanneer jong kinders met ’n mes doodgesteek word.

Wanneer jy daar kom, kan jy sien die kind is oorlede, maar die ma en familie is histeries en hou aan hoop. Wat doen jy? Begin jy CPR?

Ja, al is dit net om closure te gee.

"Ek het al vir mense gebid wat ek nie ken nie."

Dit is beter as om dadelik vir hulle te sê: “Jammer, jou kind is dood.”

Die agony wat daarmee gepaardgaan, is terrible. You are the bearer of bad news.

Baie mense het al voor my doodgegaan. Soms kom ek by die huis en wonder of dit nie beter sou wees as ek iets anders gedoen het nie.

Dalk as ek dít gedoen het of anderkant toe gegaan het, sou hulle nog lewe?

Maar dan besef jy nee, hulle sou nie; dit sou nie help nie. Jy het als gedoen wat jy kon.

Die staat het sielkundiges met wie die medics kan praat as hulle sukkel om dinge te verwerk, maar nie almal gebruik die diens nie.

Ek gebruik dit nie.

’n Mens deal maar op jou eie manier met die dinge wat jy sien.

Ek is al ses jaar lank ’n medic.

Voor dit was ek in die destydse onluste-eenheid in die polisie in Soweto. Toe los ek dit, want dit was in daardie stadium gevaarlik.

Ek het daarna gewerk by ’n glasplek waar hulle glasies maak.

Toe het ek twee jaar lank in Doebai in ’n restaurant gewerk. Toe ek terugkom, wou ek ’n paramedic wees.

Ek het toe nog ’n droom gehad om te trou en my eie gesin te hê, maar daardie droom is lankal weg.

Ek wil nie meer my eie kinders hê nie.

Ek is in elk geval ’n ma van vele babatjies: Ek het al babatjies van die teerpad opgetel; hulle gevang in die straat, in die wingerde, op die ashoop, in ordentlike huise en in die ambulans.

"Ek het toe nog ’n droom gehad om te trou en my eie gesin te hê, maar daardie droom is lankal weg."

Ek het my eie droom prysgegee. Ek dink medics is die forgotten tribe.

’n Mens hoor baie van wat die polisie en brandweer doen. Maar ek dink die paramedics is die forgotten ones. As jy in ’n ongeluk is of by die werk omkap, bel jy die ambulans.

Dis die eerste ding waaraan jy dink. Maar ons daag nie net op met ons noodhulp en ambulans nie.

Ons is ook human.

Nou die dag was die eerste call oor ’n outjie wat met ’n mes gesteek is. Jy sien hy is dood en die polisie is daar.

Jou volgende call is ’n drowning. Jy doen CPR; die pasiënt is oorlede.

Jy moet vir die eerste pasiënt se ouers sê: “Jammer, jou kind is dood.”

Jy moet vir die tweede pasiënt se ouers sê: ‘Jammer, jou kind is dood.”

Daarna kry jy weer ’n call van ’n tannie wie se knieg al twee weke lank seer is.

Sodra jy by die huis kom, skel hulle jou en wil jou met kookwater gooi omdat jy twee uur lank gevat het om daar aan te kom.

“Ek het pas twee kinders as dood gesertifiseer. Dis waar ek twee uur lank was nadat jy gebel het.”

Soms help ’n koppie koffie en jy probeer maar daarvan vergeet. Jy bêre dit.

Op my rusdae, wanneer ek sterk en energetic voel, haal ek dit uit en dink aan als.

Die eerste twee jaar was ek permanent histeries. Nou is dit ’n alledaagse ding.

Partykeer kry jy ’n uitsonderlike geval waar jy dink: “Sjoe, wat het hier gebeur? Wat het die ou gedoen om so in stukke oor die pad te lê?”

Aan die begin het ek nagmerries gekry, maar dit het darem opgehou. Ek is ’n bietjie bang om in die aand te werk. Die nag maak ’n mens vulnerable.

Maar ek is nie bang vir die dood nie. Almal van ons gaan dood, maar jou siel hou aan lewe.

Hierdie belief help my om deur trauma te werk. As jy ’n medic wil word net om ander te help, is jy op die verkeerde pad.

Jy jaag van punt A na punt B in ’n poging om iemand se lewe te red, maar as jy daar kom, is hulle reeds dood.

That’s not helping.

"Ek is nie bang vir die dood nie. Almal van ons gaan dood, maar jou siel hou aan lewe."

Jy declare die babatjie dood; jy help nie.

Jy gaan na ’n ongelukstoneel en ’n 17-jarige meisie is dood; jy help nie.

Die ou wat uit die boom geval het, het ’n back injury. Jy vat hom hospitaal toe; hy is verlam. Het jy gehelp?

Aan die ander kant kry jy die ou wat ’n hartaanval gehad het. Jy het ge-resus, ge-resus, adrenalien gegee – en hy kom dan by. Jy het hom gehelp.

As jy nie daar was nie, was hy dood.

Die een wat amper in die rivier verdrink het – jy het hom uitgehaal en ge-resus en hy lewe.

Jy word nie ’n medic om mense te help nie. Jy word een om ’n verskil in iemand se lewe te maak; iemand wat dit in daardie stadium die nodigste het.

Dis nie altyd ’n maklike werk nie. Vanaand kom jy huis toe en probeer met als deal.

Môreoggend staan jy op en doen dit weer. Maybe sal iemand vandag vir jou hulp dankbaar wees.