PIETER DELPORT (26), DJ

Dié musiekding is amper iets soos ’n verslawing. 

Ag, man, jy kan net nie daarsonder nie. Dit kom al van my kinderdae af. 

Ek dink ek het my ma mal gemaak, want wanneer ek wakker word, moes die musiek altyd aan...

Ná skool het ek elektries ge-swot, en my en my pelle se gereelde kuierplek was die The Joker Pub & Grill hier in Roodepoort. 

Maar hulle het nooit ’n DJ of ’n sanger gehad nie en dit het my heavy gepla. 

Ek vra toe vir die eienaar: “Ons soek musiek.” En hy sê nee, dit kos te duur. Ek sê toe vir hom maar ek het toerusting; ek sal verniet kom speel. 

En ja, so het ek amper ’n jaar lank een of twee aande per week daar gaan speel. Ná ’n maand het hy my darem ietsie begin betaal. 

Dit is vyf jaar terug, maar toe het ek nie geweet daai verniet gigs sou die begin van my DJ-loopbaan word nie. 

Vandag DJ ek wyd. Sommige funksies is tot 300 km van Jo’burg af. 

Dié musiekding is amper iets soos ’n verslawing.

Mense sê partykeer: “Maar jy het ’n lekker job; jy speel net musiek.” 

Maar onthou, jy werk met kliënte, en party van hulle kan maar moeilik wees.

So doen ek ’n troue verlede jaar hier iewers in Gauteng, en die seremonie­meester wil nie na my luister om die mike nader aan sy mond te hou nie. 

Die mense agter in die saal kan hom nie hoor nie en die bruid se ma is glad nie gelukkig nie. 

Sy bestorm my en skreeu: “Dis nie waarvoor ons betaal het nie!” Ek vat toe die mike, hou dit teen my mond en sê: “Testing, testing, testing.” 

Ek wou die mike nog afsit, maar toe glip dit uit en almal hoor hoe ek sê: “Kan jy sien die f***** mike werk!”

Hulle het my ná die tyd op Hello Peter gaan verkla!

Net soos in enige werk kom daar ander probleme ook maar. Ek het verlede jaar 500 000 liedjies op my rekenaar gehad. 

Toe crash dit begin hierdie jaar en ek verloor alles. Ek moes van voor af begin opbou op die nuwe laptop

Ek dink daar is nou so 20 000 liedjies op.

Ek wou die mike nog afsit, maar toe glip dit uit en almal hoor hoe ek sê: “Kan jy sien die f***** mike werk!”

Mense sê ons pirate liedjies waaruit ons dan geld maak om te DJ; dit is nie so nie. 

’n Wettige DJ koop al sy liedjies, want ons is geregistreer by Sampra. 

Hulle check jou laptop en hardeskywe en jy moet kan bewys dat jou musiek nie onwettig afgelaai is nie. 

Dan kry jou laptop ’n sticker op wat sê dat jy ’n Sampra-lisensie het. 

Al hoe meer venues vereis dit deesdae voordat ’n DJ op ’n troue of funksie by hulle kan kom speel, en ek dink dit is ’n goeie ding.

Wanneer ’n jong outjie my vra wat die eerste ding is wat hy moet koop, want hy wil ook DJ, dan sê ek kry eers ’n 4x4, want jy weet nooit hoe die paaie gaan lyk wanneer jy na gigs toe ry nie. 

So was daar mos die troue op die platteland op ’n plaas, en dis al die pad grondpad. 

Rof, man! En daar neuk ek ná die gig, ná middernag, van die pad af. Die steering racket breek en daar sit ek. 

Ek kon darem uiteindelik iemand in die hande kry om my terug plaas toe te sleep.

So, om te DJ is nie net altyd ’n vet jol nie. Daar gebeur sulke ongelukkies langs die pad, en wanneer jy speel, dan wérk jy. 

hierdie lewe,dj,musiek
Pieter het aanvanklik gratis musiek gemaak voor sy loopbaan as DJ vlam gevat het. Deesdae ry hy selfs tot 300 km om vir mense musiek te maak. Foto: Jacci Coetzee

Jy moet heeltyd die gaste se vibe lees en heeltyd presies weet watter tipe liedjies elke spesifieke groep op die dansbaan gaan hou. 

Dis nie maar net “druk ’n USB-stick met ’n playlist in jou laptop in en sit dan agteroor” nie. 

Terwyl die een liedjie speel, hardloop daar heeltyd ander liedjies deur jou kop. 

En jy moet jou musiek kén. Want daar is mense wat ’n spesifieke liedjie soek, maar hulle ken nie die titel of die kunstenaar nie. 

Dan sing hulle ’n gedeelte van die koor, en jy moet weet waarvan hulle praat. 

Die een tannie wou hê ek moet die “voëltjieliedjie” speel, maar ek het nie geweet waarvan sy praat nie. 

Sy het haar selfs vir my vererg, want sy het gedink ek is dom of ’n stupid DJ, of dalk sommer al­twee. 

Eers nadat sy dit vir my gefluit het, het ek besef sy praat eintlik van die Clap Clap Song.

Ek gee glad nie om as mense spesifieke liedjies versoek nie. Dit is hulle paartie, en hulle moet dit geniet. 

Dit is hoekom daar so baie liedjies op my laptop is: sodat daar iets vir elkeen se smaak kan wees.

Jy moet heeltyd die gaste se vibe lees en heeltyd presies weet watter tipe liedjies elke spesifieke groep op die dansbaan gaan hou.

Daar is kere dat jou gedagtes dalk ’n bietjie wegdwaal: Hang net af hoe mooi die boude op die vloer is.

My volgende stap is om te beweeg in die rigting van live music waar ek vir die gaste gaan sing ook in plaas van om net te DJ. Sing is my ander passie. 

Ek sing mos Sondae in die kerk se lofprysingsgroep, en ek dink ek kan dit ook beskou as een van my week se hoogtepunte. 

Daardie talent wat die Here aan my gegee het, gebruik ek om sy naam te eer. 

En o ja, en ek wil ook net sê: As mense dink ek werk net op Saterdae wanneer ek gig – ek werk ook elke middag by die Koningskinders-nasorgskool hier in Helderkruin. 

Jy gaan dit nie glo nie, maar ek merk die laerskoolkinders se huiswerk.

Ek los die grootste hoogtepunt van my hele lewe vir laaste. 

Ek was 18 toe ek my pa vir die eerste keer ontmoet het. 

Hy en my ma is geskei toe ek nog ’n baba was, en daar was baie faktore wat veroorsaak het dat ons mekaar nooit kon sien nie. 

Maar ná my 18de verjaarsdag het hy my opgespoor en ons het onmiddellik gekliek. 

En o ja, en ek wil ook net sê: As mense dink ek werk net op Saterdae wanneer ek gig – ek werk ook elke middag by die Koningskinders-nasorgskool hier in Helderkruin.

Ten spyte van daardie 18 verlore jare is ons vandag baie close en praat seker maklik elke tweede dag oor die foon. 

Hy bly in die Oos-Kaap, maar wanneer ek ’n kansie kry, dan gaan kuier ek.

Die grootste verrassing toe ons ontmoet het, was toe ek uitvind dat hy ook ’n DJ is. 

Ons deel daarom ons liefde vir musiek, maar hy is meer ’n classic rock-fan en ek meer iemand vir country.

Wanneer ek by hom kuier, sal ons maklik sy karaoke-stel opslaan en sommer heelaand saamsing. 

Hy speel ook by troues, net soos ek. As ek by ’n troue of klub musiek maak – as ek sien hoe geniet die mense dit op die dansbaan; as daai bass deur die luidsprekers vibreer – dan voel ek hoe vloei daai ritme deur my lyf. 

Dit is ’n gevoel van totale geluksaligheid. 

Ander mense sal dit dalk nie verstaan nie, maar ek dink dit is die beste hoe ek my lewe as ’n DJ kan beskryf.