ELSIE BRITZ, HIPNOTERAPEUT

Mense dink hipnoterapie is iets van die bose; hulle bel gereeld die NG kerk se dominee om te hoor of dit veilig is om na ons toe te kom. 

Dan sê die dominee: “Ja, gaan!” 

Sy vrou was self onder hipnose en het niks oorgekom nie. 

Ek is ’n Christen. Ek het elke Sondag kategese by die NG kerk gegee, en ek doen elke oggend stiltetyd. Kyk, hier lê die Bybel in my laai. 

Ek en my man, Chris, is al die afgelope 20 jaar geregistreerde hipnotiseerders. Ons plaas mense onder hipnoterapie om hulle te help met depressie, trauma, gewigsverlies, pyn en woede. 

Mense dink dis onheilig en iemand anders beheer jou. Wanneer mense hoor wat ons doen, tree hulle heeltemal anders teenoor ons op.

Maar daar is ’n stigma rondom hipnoterapie. Mense dink dis onheilig en iemand anders beheer jou. Wanneer mense hoor wat ons doen, tree hulle heeltemal anders teenoor ons op. 

Een middag kuier ons by mense en ons eet aan tafel. Die vrou oorkant my maak toe geselsies en vra wat ek vir ’n lewe doen. Toe sy hoor ons doen hipnose, spring sy op en wil nie naby my sit nie. 

Ons lag nog gereeld daaroor. Baie mense wat vir die eerste keer hier instap, is skrikkerig. 

Daar het eenkeer ’n fris man ’n afspraak by my gemaak. Hy was ’n regte spiertier – ’n bodyguard vir VIPs. Hy het jare lank gerook en wou ophou. 

Maar hy was so bang vir my. Toe hy hier inkom en ek sy hand skud, was dit natgesweet. Die sweet het van die man se voorkop afgetap, en ’n mens kon die sweetmerke onder sy arms op sy hemp sien. Hy was verskriklik bang. 

Nou ja, ek het die groot man onder hipnose gesit, en hy is hier uit. Ná die sessie het ek hom nooit weer gesien nie. Maar ’n mens het net een sessie nodig as jy wil ophou rook. 

Heelwat mense kom na ons om op te hou rook. Ons suksessyfer is hoog. Maar niks is ewig nie. Daardie persoon kan weer erge spanning ervaar en later weer na ’n sigaret gryp. 

Chris doen shows waar hy ’n paar mense op ’n slag sal hipnotiseer. Hy sit hulle dan in ’n diep trance en laat hulle allerhande snaakse dinge doen. Dan weet die persoon gewoonlik nie wat hulle doen nie. 

Maar hipnose werk nie op almal nie. Jy kan nie daarin geforseer word nie; dit moet jou eie besluit wees. Ons kan jou ook niks teen jou wil laat doen nie. 

Terapeutiese hipnoterapie werk heeltemal anders as die vermaakdeel. Jy weet te alle tye wat jy doen en wat rondom jou gebeur, en ek kan nie net allerhande persoonlike dinge vir jou vra nie. 

Elsie glo hipnoterapie verander lewens deur negati
Elsie glo hipnoterapie verander lewens deur negatiewe gedagtes om te swaai in positiewe energie. Foto: Verskaf

Jy bly in beheer. Dit is net ’n diep ontspanningstyd vir die brein en liggaam. 

Al is mense skepties oor hipnose, beleef hulle daagliks ’n ligte trance in die vorm van sit en staar en dagdroom. Dit is ’n ligte vorm van hipnose. 

In terapie plaas ek jou in ’n medium trance. Jy ontspan heeltemal, van kop tot tone, en jy luister na my stem. Ek speel rustige musiek op die agtergrond. 

Ek tap dan in by jou onderbewussyn waar al jou gedragspatrone, emosies en herinneringe gestoor word. Jy ontspan en ervaar net ’n lui, swarerige sensasie. 

Ek lees dan vanaf ’n uitgewerkte script, afhangende van wat jou probleem is. Als is positief, byvoorbeeld: “Jy wil nie meer rook nie”; “jy is nie lus vir ’n chocolate nie”. 

Jy luister daarna en leef jou daarin. 

Ná hipnose is jy presies dieselfde mens. Jou probleme gaan nie oornag verander nie. 

Kliënte is soms skepties wanneer hulle opstaan. Dan wonder hulle of die hipnose gewerk het. 

Al is mense skepties oor hipnose, beleef hulle daagliks ’n ligte trance in die vorm van sit en staar en dagdroom. Dit is ’n ligte vorm van hipnose.

Maar namate hulle aangaan met hul alledaagse dinge, sal hulle sien hulle beheer situasies anders. 

Hulle neem ander soorte besluite. Hulle wil nie meer na ’n sigaret gryp nie; hulle raak nie meer so maklik kwaad nie. 

Nou die dag het ’n sanger hier ingestap. Hy sukkel ’n bietjie met selfvertroue. 

Sangers is ook maar net mense en raak ook benoud wanneer hulle op ’n verhoog voor hordes mense moet staan. Hy kom doen toe voor sy vertoning ’n sessie van so 30 minute lank, en dit het hom ’n bietjie meer selfvertroue gegee. 

Ek gee baie om vir mense en wil hulle help. Ek het jare gelede eers in die bankwese gewerk, maar het sommer gou besef finansies is nie vir my nie. 

Ek het in Durban gebly, en dit was daar waar ek vir Chris ontmoet het. Ek stop toe die finansies-ding en begin sielkunde swot. 

In ons lesings het ons aan hipnoterapie geraak, en ek het daarin begin belangstel. Ek was self eers skrikkerig, want ek het in ’n konserwatiewe huis grootgeword. 

Maar hoe meer ek daaroor geleer het, hoe meer het ek besef dit is doeltreffend vir probleme. 

My familie was destyds skepties toe hulle hoor ek wil die beroep najaag. Vir my ma en pa was dit eers vreemd. My een sus het glad nie daarin geglo nie en gedink dit is sommer nonsens. 

Maar hoe meer ek hipnose gedoen het om mense te help, hoe minder vreemd het dit vir hulle geword. 

My familie was destyds skepties toe hulle hoor ek wil die beroep najaag. Vir my ma en pa was dit eers vreemd. My een sus het glad nie daarin geglo nie en gedink dit is sommer nonsens.

Chris het besluit om saam met my die roete te volg. Ons plaas mekaar gereeld onder hipnose. 

Ons het twee dogters, en toe die een gesukkel het met angs, het ons haar ook gehipnotiseer. Hipnose help jou om positief te word, en dit verander jou denke. 

Ons is soos enige gesin en probeer elke dag positief leef. Maar soos sielkundiges ook probleme by die huis het en soos dokters se kinders ook siek word, het ons ook ons daaglikse probleme. 

Dit is nie moontlik om angsvry en sonder enige probleme te wees nie. Ons is net mense in die vlees en word soms omring deur negatiewe goed en situasies wat gedragspatrone uitlok. 

Dan, wanneer jy besef jy is negatief, dwing jy jou gedagtes weer om positief te word. Jy kan besluit om môre te verander deur bloot jou denke te beheer. Hipnose help daarmee; ek glo daarin.