GEORGE VAN ROOYEN (34), TV-REGISSEUR 

Ek het grootgeword op die plaas Geelhoutboom in die Humansdorp-distrik, waar my pa met skaap en koring geboer het. 

Die lewe daar as kind – ek dink geen woorde kan daardie totale vryheid en geluk beskryf nie. 

Ek en my suster verskil net ’n paar jaar; daarom was ons beste maatjies. 

My broer was die laatlam, so eintlik was hy te klein om saam te speel. Maar ek dink dié spelery moes my ma seker baiekeer teen die mure uitgedryf het, hoewel ons nie toe gedink het ons was stout nie. 

Daar was die keer toe ons ’n dooie slang van maklik 2 m naby die huis optel. Toe gebruik ons dit as ’n springtou! My ma was histeries toe sy dit sien. 

Toe kom daardie Win ’n Spin-program op TV en ons het gedink dis nogal cool; ons wil dit ook doen. Die probleem was net waar om ’n spinwiel te kry? 

Totdat daardie lang stroopwiel voor aan die stroper vir ons na ’n oplossing gelyk het. 

Maar ons het beurte gemaak om sommer in die wiel te klim en mekaar te draai. My ma het nié gedink dit is cool nie.

Toe kom daardie groot droogte van 2002, en my pa het uitgeboer. ’n Plaas wat langer as honderd jaar in die familie is, en skielik verloor jy dit. 

Ek was so 15 of 16 jaar oud, maar ek onthou die verslaentheid en hartseer wat toe afgespeel het. Jou hele geskiedenis is daar vasgevat, en skielik bly daar niks oor nie. 

Daar was die keer toe ons ’n dooie slang van maklik 2 m naby die huis optel. Toe gebruik ons dit as ’n springtou! My ma was histeries toe sy dit sien.

Ons het Caledon toe getrek en in ’n dorpshuis gaan bly, wat ook weer ’n nuwe avontuur was. Soos om saans uit te slip. 

Ek meen, as jy op ’n plaas bly, wat doen jy nou eintlik as jy uit-slip? Stap drie keer om die huis en klim oor ’n pofadder?

As jy op die platteland grootword, doen jy ná skool een van twee dinge: óf jy boer óf jy gaan verkoop spares by die Ford-garage. 

Ek wou nie een van die twee doen nie, toe dink ek ek moet ’n kunstenaar word.

Ek het skilderklasse op skool begin neem, maar later het die juffrou vir my gesê ek is nie eintlik baie goed nie.

Caledon, of eintlik die hele Overbergstreek, is vol legendes. Omdat ek nog altyd van volkstories gehou het, het ek my as kind destyds aan dié stories verluister. 

So is daar onder meer die storie oor die vloek van Boontjieskraal. 

Volgens hierdie storie het die oervader van die plaas in die vroeë 1920’s geweier dat ’n reisigers­gesin wat op die plaas kom skuiling soek het teen die reën daar oorslaap. 

Die gesin is toe vort, maar toe hulle die rivier wou oorsteek, oorval die water hulle. 

Van hulle het verdrink, en dis toe dat die man ’n vloek oor die oervader van Boontjieskraal uitspreek. 

JOHANNESBURG,SOUTH AFRICA : OCTOBER 15 - Profile o
George bestudeer videogrepe voor hy die perfekte skoot kies. Foto: Papi Morake

Volgens die vloek sou al die manlike nageslagte van die oervader onnatuurlik sterf. Dit is dan ook hoe dit oor die volgende drie dekades gebeur het dat vier mans in die oervader se nageslag later die een ná die ander onnatuurlik gesterf het. 

Dit was meestal in motorongelukke, as ek nou die storie reg onthou. 

Maar ek onthou die oervader se plaasopstal baie goed, want dit het ’n groot indruk op my as kind gemaak. Dit is so ’n pragtige, wit­gekalkte huis daar op die plaas.

Ek dink dit is daardie liefde om na stories te luister en dit te vertel wat gemaak het dat ek in die TV-bedryf beland het. Maar toe het ek dit nog nie geweet nie.

In elk geval, nadat die juffrou vir my gesê het my talent lê nou nie juis by skilder nie, het ek ná skool vir ’n drama-diploma by ’n kollege in Die Baai ingeskryf. Oor naweke waiter jy om klasgeld te betaal. 

Daarna het ek ’n bietjie dramaklas by die kollege gegee, maar uiteindelik het ek alles wat ek het in my stukkende Jetta gelaai en Joburg toe gekom om te kom toneelspeel. 

Ek het so 20 agente kom sien, maar hulle het seker nie gedink ek sal dit in die bedryf maak nie. Dan doen ek maar my eie ding, het ek gedink. 

Ek en ’n vriend begin toe om voorgeskrewe werke by skole op te voer, en so het ons vyf jaar lank van dorp na dorp getoer. Terwyl ons wag dat iets moet gebeur, maar niks gebeur nie.

Heeltyd het ek net geweet ek wil eintlik eendag my eie show direct, en so het ek konsepte vir TV-reekse begin skryf wat maar weer net so in my laai beland het. 

Totdat ek en ’n ander vriend een van dié konsepte drie jaar gelede aan SABC1 verkoop het. 

Heeltyd het ek net geweet ek wil eintlik eendag my eie show direct, en so het ek konsepte vir TV-reekse begin skryf wat maar weer net so in my laai beland het.

Dit het gewerk, en hulle trek nou al by die vyfde reeks. Ander reekse wat ek ook intussen direct het, is onder meer Konings van kitskos en Stem saam, al twee vir VIA. 

Ons is nou besig met die beplanning aan die vyfde Kitskos-reeks. Ons maak elke keer gebruik van min of meer dieselfde film crew, en ek kom agter hoe hul smaak vir kitskos intussen ook verander het. 

Iets is nou nie meer byvoorbeeld net ’n eenvoudige hamburger vir hulle nie. 

Behind the scenes begin hulle sommer nou al self die verskillende kosse onder mekaar ontleed.

Ek dink die een ding wat ek tot dusver in my kort lewetjie geleer het, is om nooit iets uit te stel nie. As jy iets wil doen, doen dit dadelik.

My ma wou altyd so graag saam met my in die Vallei van Verlatenheid buite Graaff-Reinet ’n glas whiskey gaan drink en ’n sigaret rook. 

Twee maande voordat ek in 2010 my diploma-papiertjie by die dramakollege kry, toe sê sy weer ek moet onthou dat ons dit eendag moet doen. 

Ek dink die een ding wat ek tot dusver in my kort lewetjie geleer het, is om nooit iets uit te stel nie. As jy iets wil doen, doen dit dadelik.

Ja, ma, ons sal nog, het ek gesê. Die volgende dag kry sy ’n massiewe beroerte en sterf. Dit het my gevang. 

Ek en sy was baie close. Ek sou graag wou hê dat sy moes sien dat ek iets in my lewe bereik het.

Sy is op ’n familieplaas van haar kant van die familie in die Gamtoosmond begrawe. 

Wanneer ek daar kom, gaan kuier ek en my sussie by haar. Dan moet jy oor drie heinings klim en om twee troppe beeste loop om by die graf uit te kom. 

Een van die kere wat ons daar was, het my sussie ’n pragtige bos proteas saamgevat en op die graf gesit.

Toe ons later terugstap, sien ons ’n blouaap deur die veld hardloop met die bos proteas in sy hand. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.