ADJUDANT-OFFISIER FRANS SPANG (47), POLISIEDUIKER  

Ek gril my dood vir vis. Dit is so snotterig en dit stink. Dis ironies, want my werk is om in damme en riviere te duik en na vermiste mense te soek.

Ek dink nie mens raak ooit gewoond aan die reuk van ’n lyk wat vir dae in die water was nie, maar mens leer om daarmee saam te leef.

Ongelukkig kan ek op my een hand tel hoeveel keer ons al die afgelope 23 jaar lewendige mense uit die water gehaal het. Dis eintlik nooit ’n rescue nie, dis maar altyd ’n soektog vir ’n persoon se lyk. 

Ek het altyd die waterpolisie se selfoon by my, so ek kry dadelik ’n oproep as iemand verdrink of vermis geraak het in ’n rivier of dam in Pretoria. My familie en vriende weet as die foon lui, moet ek gaan.

Ek het in 1996 by die eenheid aangesluit nadat my eie broer, Johan, op 19 by die Bronkhorstspruitdam verdrink het. 

Wel, tegnies het sy hart ingegee terwyl hy geswem het, maar hulle het vir meer as 12 uur na my boetie se lyk gesoek.

Voor dit kon ek glad nie duik nie, maar ek het besluit ek wil leer. Ek was reeds in die polisie en eintlik in die honde-eenheid, maar ná ek my duikopleiding gekry het, toe skuif ek. 

Ons is nie ’n permanente eenheid nie. Ons duikers werk in verskillende afdelings in die polisie en ons roep hulle dan wanneer daar ’n geval is. 

Dis soms moeilik, want die polisie het maar oral te min mannekrag. Ek moet maar baie hul ­bevelvoerders by die verskillende polisiekantore smeek dat hulle kan kom help. 

Ek is een van die enigstes wat permanent vir die waterpolisie werk. Ons het gewoonlik vier of vyf duikers op ’n toneel as ons na ’n persoon soek. 

Ongelukkig kan ek op my een hand tel hoeveel keer ons al die afgelope 23 jaar lewendige mense uit die water gehaal het. Dis eintlik nooit ’n rescue nie, dis maar altyd ’n soektog vir ’n persoon se lyk.

In my tyd by die waterpolisie was daar nog net twee keer wat ons nie ’n persoon kon opspoor of die lyk kon vind nie. 

Ons gebruik ook honde om na lyke te soek. ’n Lyk skei ’n olie af wat bo-op die water gaan lê. Ons het honde wat spesiaal opgelei is om dié reuk te herken. 

Ons laai hulle op ’n boot en ry in ’n spesifieke patroon totdat hulle vir ons die area waar die lyk is, uitwys. Dis egter soms moeilik as die wind erg waai.

Ek het vir jare ernstig gedrink. Te veel. Ek het besef ek het ’n probleem, want ek het goed begin vergeet en dit het my werk beïnvloed. 

Drank was my coping-meganisme om van al die dinge wat ek sien te vergeet. Ek het vroeër vanjaar hulp gevra en ek het nou vyf maande laas gedrink. 

In die polisie is daar sielkundiges wat jy kan gaan sien, maar die ouens gebruik dit nie regtig nie.

Ek was al op honderde tonele. Ek sou nie sê daar is een spesifieke geval wat my bybly nie, maar as ons kinders moet uitduik, is dit altyd swaar. 

Veral as die ouers nalatig was. Dis ook moeilik as die familie daar langs die oewer staan en kyk hoe jy soek. 

Hulle klou vas aan hoop en ’n wonderwerk, al is daar nie ’n kans dat jy hul geliefde lewendig gaan kry nie. 

Twee weke gelede was daar ’n seun wat in die Apiesrivier in Temba verdrink het. Ons het dae lank gesoek. 

frans spang,hierdie lewe
Frans Spang by die werk. Hy is tydens een soektog byna dood toe hy in ’n maalkolk vasgevang was. Foto: Verskaf

Sy pa het daar langs die wal gestaan en vir ons vertel ons mag nie ophou soek nie. Selfs toe dit aand raak, want die voorvaders het vir hom vertel ’n waterslang hou sy seun vas, maar hy lewe nog. 

Sulke dinge is moeilik, en die familie verstaan nie altyd hoekom ons net 40 minute op ’n slag kan duik nie. 

Maar vir ons duikers se veiligheid moet hulle vir minder as ’n uur in die water wees, anders kan hulle koolstofdioksiedvergiftiging opdoen. 

Dít het in 2006 met my gebeur. Ek was in ’n maalkolk vasgevang terwyl ons op ’n toneel was. 

Dit was in ’n dam by Bronkhorstspruit, en ek het so erg onder die water krampe gekry van die koolstofdioksiedvergiftiging dat ek nie kon uit swem nie. 

So ek weet hoe paniekbevange mense voel oomblikke voor hulle verdrink. Dis ’n vreeslike gevoel. 

Ná daardie insident het dit my twee jaar gevat voor ek weer in die water kon klim om te duik. 

Daardie einste jaar was ek ook in ’n erge motorfietsongeluk. Ek het nie gedrink nie, maar is deur ’n motor getref op pad huis toe. 

Ek was drie weke in ’n koma. Sedert die ongeluk is my een been korter as die ander. Dit pyn soms nog daar waar hy gebreek het.

Gelukkig het ek daardie jaar my tweede vrou, Marie, ontmoet. Dit was ’n tawwe jaar. Ons het vyf kinders onder 13 jaar in die huis gehad. 

Drank was my coping-meganisme om van al die dinge wat ek sien te vergeet. Ek het vroeër vanjaar hulp gevra en ek het nou vyf maande laas gedrink.

As ek nou terugkyk, glimlag ek. Ek is baie familievas, maar ongelukkig moet ek dikwels tyd weg van hulle spandeer. 

Maar op Kersdag sit ek altyd my voet neer. Daardie dag is nét familiedag. 

In die vakansietye het ons ’n rooster waarvolgens ons moet diens doen by damme. Ons patrolleer die damme en kyk dat vissermanne lisensies het of bote skipperslisensies het.

Dinge raak moeilik as daar drank betrokke is, en daar ís gewoonlik as iemand verdrink. Mense gaan sonder ’n life jacket op ’n boot of hulle vat vislyne in die water in op ’n kano. 

Die drank maak dat elke persoon op die oewer ’n ander storie het oor waar die persoon kamma onder die water verdwyn het. Dit maak ons werk moeilik. 

Ek het ook gesien hoe besoedeling ons werk deur die jare bemoeilik. Ons riviere is vieslik vuil. 

Baiekeer sien ’n mens nie die lyk nie, maar jy voel hom met jou hand. Dan gryp jy ’n arm en swem met die liggaam boontoe of maak ’n tou vas aan die persoon en gebruik ’n dryfkrag-aanpasser sodat die liggaam na bo dryf. 

’n Mens weet nie altyd hoe lank ’n lyk gaan vat voor hy begin dryf nie. Dit hang af hoe koud die water is en selfs wat die persoon geëet of gedrink het. So as ons soek, soek ons onder die water en bo-op. 

Baiekeer as mens die persoon kry, kan jy hulle glad nie meer uitken nie. Ons probeer altyd die familie teen dít beskerm. 

Ons sit hulle eers in ’n body bag voor ons die persoon oewer toe vat.

Ná al die jare slaap ek ná ’n moeilike toneel nog sleg vir twee of drie dae. 

Vriende en familie vra gereeld hoekom ek nog die werk doen. Maar ek is ’n polisieman. Dis meer as ’n job vir my. Ek wil niks anders doen nie. 


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.