Henry Slamet (78), skoenmaker  

Ek is gebore die 18de van die agste maand neëntienhonderd-en-veertig hier op Wellington. Hier grootgeword, klein gewees en oud geword.

Ek is 78 jaar oud. Ek was so ’n stoutklontjie gewees in die pad; het nog nie rigting gehad nie. Toe loop ek hier op met die straat en mnr. Goosen staan hier in die deur. Hy was die vorige eienaar van die skoenwinkel.

Toe staan ek stil en sê: ‘Oubaas, ek soek werk.’ Hy sê: ‘Nee, my kind, jy moet in die skool wees.’ Ek was seker 12 of 13.

Toe sê ek: ‘Nee, ek wil ’n skoenmaker word’, want my hele familie het skoenwerk gedoen en kom uit die skoenwêreld.

Toe sê hy nog: ‘Kan jy met ’n besem vee?’ Toe vee ek met die besem. En hy kom van agter af met die vuilgoed en sê: ‘Nee, jy vee nie jou vuilgoed by die voordeur uit nie, jy vee dit by die agterdeur uit.’

En daar het ek omgedraai met die vuilgoed na die agterdeur toe.

Ná so ’n tydjie het ek die skoene begin haal by die huise; ek het fietsgery en los werkies gedoen. Eendag word die hoofwerker siek, en die werk staan stil . . . en ek vat sy voorskoot en begin werk.

Die hoofwerker is later dood en toe gaan ek aan. Ek was seker so 15 of 16. Een Vrydag het die oubaas vir my ’n pond gegee vir die werk.

Toe ek by die huis kom met die pond, vra my ma waar ek dit kry. Sy vat my terug na mnr. Goosen om die pond vir hom terug te gee, maar hy sê vir haar dis my geld; ek het daarvoor gewerk.

Daar het ek aangehou en aangehou tot mnr. Goosen siek geword het en vir my sê hy gaan weg hospitaal toe.

Hy het gesê: ‘Henry, ek weet nie of ek terugkom nie, maar jy moet aangaan met die besigheid.’

skoenmaker
Hy het op 13 in die skoenwinkel begin werk en in 1967 die eienaar geword. Foto: Verskaf

In daai tyd gaan hy dood.

Toe hy dood is, werk ek op my eie vir mev. Goosen. Ek het begin met 7 sjielings en ’n sikspens per week. Ek het so aangegaan en aangegaan in die winkel.

Toe trou ek, en ek het vyf kinders gekry. Mev. Goosen wou nie aangaan met die besigheid nie, toe moes ek by ’n prokureur uitkom om die hele besigheid oor te koop.

Ek kom toe by die prokureur en hy sê ek moet aangaan met die skoenwinkel, ek gee net vir hom 20 pond per maand. Dit was baie geld daai tyd.Ek was 25.

So koop ek toe die skoenwinkel oor – net so, met alles. En ek het gewerk en gewerk. Daardie jare was dit apartheid. O, ek onthou baie van dit. Ons is gebore daar oorkant by die munisipale kantoor.

Die gebou is nog daar, maar dis nou ’n wynstoor. Daar is ek gebore; ek het skoolgegaan net langsaan by die munisipale kantore.

My familie het almal daar rondom ons gebly.

En daar het ek grootgeword en ’n jong man geword. Ek het eintlik stoute dinge begin doen.

Maar daar’t ’n tyd gekom waar ek ’n keuse moes maak tussen die vrinne van my en die regte lewe. Toe kies ek die beste kant, die Christelike kant.

Maar apartheid.

O, dit was baie sleg gewees. Ek het eendag in die poskantoor gekom, ek onthou dit nog goed. Daar was so ’n skeiding wat jou weghou van die wit mense se tou.

Dan staan die dame wat ons moet help daar voor. Dan help sy eerste die wit mense, en as sy klaar daar gehelp het, wag ons maar geduldig dat sy ons ook sal help.

"Daar’t ’n tyd gekom waar ek ’n keuse moes maak tussen die vrinne van my en die regte lewe."

Sy sal so in die lug staan en kyk asof ons nie daar is nie. Ek vat toe per ongeluk die seël wat ek wou gebruik en tik hom liggies op die tafel. En sy jaag my uit die poskantoor uit.

Ek onthou dit goed.

Ek het die skoenwinkel al van 1967 af en is al 65 jaar in hierdie straatjie. Baie van die geboue was nie hier gewees nie. Daar langsaan was ’n slaghuis, oorkant ’n viswinkel en daar op die hoek was ’n kafee.

Toe ek die skoenwinkel koop, het ek die naam na H&M verander. Vir Henri en Mona. My vrou se naam is Mona.

Daarna besluit ek toe dit moet net Henri wees. Hier is groot skoenwinkels op die dorp, maar ek worrie nie oor hulle nie.

Ek wil net wees wie ek is. Ek het vrede en vryheid met my skoenwinkel. Ek weet nie wie die winkel gaan oorneem nie.

My een seun sou die winkel oorgeneem het, maar toe sterf hy mos. Hy het rugprobleme gehad.

Jy moet ’n liefde hê vir die werk en vasbyt. Ek weet nie, ek sal maar kyk. Hier is manne wat belangstel, maar hulle wil hê ek moet nou al verkoop, en ek wil nie nou verkoop nie.

Ek wil nog self werk. Ek is gelukkig hier. Enigiemand kan na my toe kom. Ek maak tente heel, skoene, sakke, hierdie jeans met gate wat die jong mense deesdae dra – ek maak dit reg.

As iemand ’n behoefte het aan iets, dan maak ek dit heel.

Maar ek is oud, en as ek moet gaan, sal ek gaan, want my werk is klaar gedoen. Ek het nooit gedink die winkel sou so lank hou nie. Mense kom van ver plekke om dinge by my te leer.

As iemand iets wil weet, sal ek die man wys wat hy wil weet.