EDU HANEKOM (37), SLAGTER

Ons familieplaas se naam was Appelfontein. Dit was in die Koue Bokkeveld buite Ceres; dit was my happy place.  

Ons het kaalvoet gehardloop, ketties gemaak en draadkarre gebou. Ons het gejag, windbuks geskiet en duiwe gebraai. My beste maatjies was die plaaskinders. 

Ons plaas was teen ’n helse bergreeks met ’n dam wat die hoogste dam bo seespieël in die Wes-Kaap was.

Daar was baie watervalle en ek het saam met my maatjies deur die veld daarheen gepiekel, daar geswem en vuur gemaak. Dit was ’n gelukkige tyd in my lewe.  

My ouma was ’n tipiese boervrou. Sy het alles gedoen, van diere slag tot dermpies skraap om wors te maak. 

Ons familieplaas se naam was Appelfontein. Dit was in die Koue Bokkeveld buite Ceres; dit was my happy place.

Sy het ’n vleiskamer by haar plaashuis gehad waar sy ons vleis verwerk het. Ons het so ’n kas op die stoep gehad. 

Daai tyd as jy ’n lam wil ryp maak, hang jy dit ’n paar dae in die sifkas, weg van die vlieë. Dan word die lam gebreek en verwerk. 

Pa het gehelp. Hy was ook ’n kranige kok. Hulle het my altyd deel gemaak van die geleentheid. 

As jong laaitie kon ek altyd ’n bietjie met die vleis speel – dit in my hande rol en daaraan ruik. Dit was ’n treat vir my. 

Vandag nog wanneer ek lamsvleis ruik, dink ek terug aan daardie dae. Dit is waar my liefde vir kos en die vleisbedryf gebore is – daar, op Appelfontein. 

As jong laaitie kon ek altyd ’n bietjie met die vleis speel – dit in my hande rol en daaraan ruik. Dit was ’n treat vir my.

Ná skool het ek vir agt jaar oorsee gaan werk en ook ’n bietjie klubrugby gespeel. 

Ek het maar min geld verdien en gereeld saans 2-Minute Noodles en baked beans geëet. Soms het ek goedkoop vleis soos polonie gekoop. 

Weet jy wat was in Europa vir my die lekkerste ding om te doen? Ek het gereeld na die slaghuise geloop en net daar binne gaan staan en kyk wat hulle het. 

Ek het na al hul koue vleise en salami’s gekyk; die IberGour-, Italiaanse parma- en die capicola-ham. Ek wou sien wat hulle met die vleise doen. 

Dan kyk ek net daarna en loop weer uit. Ek het nie geld gehad om dit te koop nie, maar dit was my tydverdryf. 

Toe ek na Suid-Afrika terugkom, het ek 22 skape gehad. Dit was ’n moeilike tyd vir my, want ek was nie seker wat om met my lewe te doen nie.  

Ek het nog altyd ’n behoefte gehad om ’n entrepreneur te wees. As laaitie het ek altyd my speelgoed aan die plaaswerkers se kinders verkoop: R3 vir ’n karretjie; R5 vir ’n trekker. 

My ouers weet tot vandag toe nie wat van my speelgoed geword het nie. Naas boer was my ander groot liefde vleis. 

Ek wou graag ’n slaghuis oopmaak, maar die bank wou nie vir my ’n lening gee nie. Ek was pas terug in die land en het nie ’n kredietgeskiedenis gehad nie. 

Ek het toe so twee jaar met my skape gesmous. Ek het hul karkasse verkoop en velle gesmous. Die afval het ek ook verkoop. Dit was my brood en botter – vir lank. 

Wanneer Edu lamvleis ruik, bring dit ­herinnerings
Wanneer Edu lamvleis ruik, bring dit ­herinnerings van sy kinderdae terug – van sy ouma en vleiswerk op die plaas. Foto: Verskaf

Ná ’n ruk koop ek toe 28 skape, daarna 35 en toe 40. So het ek ge-wheel and deal en myself opgebou. Ná twee jaar is ek terug bank toe vir ’n lening, en toe help hulle my. 

In 2013 het ek my eerste slaghuis oopgemaak. Die plekkie was eers ’n haarsalon en die winkel was klein. 

Ek het net ’n yskassie en koelkamertjie gehad. Ek was nogal bekommerd, want ek het in daai jaar met baie slagters gaan praat. 

In 2013 het 53 slaghuise in die provinsie toegemaak; slaghuise is ’n dying trade. Huisvroue koop eerder vleis by Woolies en groot kettingwinkels, want dis gerieflik. 

Maar ek moes ’n kans vat. Ek was in ’n hoek gedryf. Ek het nie ’n graad gehad vir ander werk nie. Ek móés eenvoudig die slaghuis laat werk.  

Daardie tyd het ek till geslaan en met die vleis gewerk en self gestop. Dit was net ek en twee ander mense.  

In die tweede week dat ons oop was, kom so ’n regte Afrikaanse oom hier ingestap. My broek het so gebewe; ek het gewonder wat ek nou verkeerd gedoen het. 

Hy sê toe: “Boeta, ek dink jy het baie moed, maar ek gee jou vier maande.” Die oom draai toe om en stap weg.  

Kyk, ek was toe reeds onseker oor als en het gewonder waarin ek myself begewe het. Maar daardie oomblik het my later so gemotiveer. 

Twee jaar later het ons so goed gedoen dat ek die slaghuis uitgebrei en groter gemaak het. Die oompie kom toe terug. 

In 2013 het 53 slaghuise in die provinsie toegemaak; slaghuise is ’n dying trade. Huisvroue koop eerder vleis by Woolies en groot kettingwinkels, want dis gerieflik.

Ek het hom nie herken toe hy hier instap nie, maar toe hy my hand skud, weet ek wie hy is. Hy sê toe: “Boeta, vandag wil ek net jou hand skud en jou gelukwens. Oom was verkeerd.” 

Weet jy hoe dankbaar ek was? Toe weet ek: Raait, ek is dalk op pad na iets toe. Nou het ek die oom se nommer op my foon; ons praat gereeld. 

Vandag het ek drie slaghuise in die Wes-Kaap met so 60 mense wat saam met my werk. 

My pa het my leer skiet. Ek was agt jaar oud. Ek het een aand agter op die bakkie gestaan met ’n .22 en my pa het tussen die vrugtebome gery, want die bokke het die bome beskadig. 

My pa het so met die spotlight gery tot ons ’n bok gesien het. “Waar moet ek die bok skiet?” het ek my pa gevra. Ek het nie geweet waar om te skiet nie. 

“Man, skiet hom sommer tussen die oë,” het my pa so deur die venster geskree. Toe skiet ek die bok – tussen die oë. Dit was my eerste bok. 

En ek het dit daarna nooit weer reggekry om een tussen die oë te skiet nie. Ek wens soms ek kon voltyds boer; ek mis die plaas baie. 

Planttyd is een van my mooiste herinneringe. Wanneer ’n mens die landery moet voorberei en jy breek die grond...

Die reuk daarvan bring vir my mooi dinge terug. As kind het ons ook ’n plaas in die Tankwa-Karoo gehad. 

Net voor die winter het ons al ons skape, so 600 van hulle, soontoe oorgetrek. Ons het so vier dae saam met die veewagters agter die skape aangestap en in die veld geslaap. 

Vandag het ek drie slaghuise in die Wes-Kaap met so 60 mense wat saam met my werk.

Daardie oomblikke koester ek. Ek ken van swaarkry. My ouers het geskei toe ek vyf jaar oud was; dit was moeilik. 

Al doen my besighede hoe goed, gaan jy my nie in ’n nuwe Land Cruiser sien nie; jy gaan my nie op ’n smart estate sien woon nie. 

My Landy het ek tweedehands gekoop en sy is 17 jaar oud. My huisie is 100 squares en ek waardeer alles wat ek het. 

My ouers is vandag trots op my; ek weet dit darem. Nadat hulle geskei het, was ek ’n onsekere klein seuntjie; ek het gewonder waar pas ek nou in. Soms het ek onbelangrik gevoel. 

Ma het getreur en pa was op die plaas. Ek dink dis waarom ek en my sussie so tight is; ons het mekaar emosioneel gedra.  

Maar ek het heeltyd hierdie gevoel gehad: “As ek my mense net kan trots maak...” 

Ek het gedink ek sou hulle trots maak deur rugby te speel. Ek het flank gespeel; klubrugby tot ek 32 was. Maar toe skeur ek albei my knieë se kruisligamente. 

Ek wou net sukses behaal en my ouers trots maak op my. En nou doen ek dit op ’n heel ander manier. 

Maar as jy ’n pa is, wil jy elke dag ’n pa wees, nie net elke kwartaal ’n week lank nie.

My pa en ma sal gereeld vir my ’n WhatsApp stuur en dit vir my sê. Ek het ’n seuntjie. Hy bly saam met sy ma in Skotland. 

Toe ek in 2013 na Suid-Afrika teruggekom het, het sy saam met my gekom. Maar hulle is kort daarna terug en sy is later getroud. 

Dit was moeilik om te cope: dat ek nie elke dag by hom kan wees nie; dat daar ’n ander pa in sy lewe is. 

Dit is steeds sleg vir my. Ek sien hom elke kwartaal. Maar as jy ’n pa is, wil jy elke dag ’n pa wees, nie net elke kwartaal ’n week lank nie.  

Wanneer ek hom sien, probeer ek alles saam met hom doen wat ons hier sou gedoen het. Enigiets in die buitelug. Ons sal gaan kamp, of op ’n plaas gaan bly.