Ashley Uys (38), biotegnoloog

Ek het met karretjies en tyres gespeel toe ek klein was. Nes al die ander kinders op die Cape Flats. Ek het maar eers op skool begin lief raak vir biologie. Dit was later my passie op skool. Ek het wetenskappe ook geniet.

As kind het ek altyd baie vrae gehad. Ek wou altyd weet hoe alles werk. En hoe virusse en siektes in mense in werk. Dit was my groot belangstelling oor wetenskappe. Want daar is kanker in my familie.

Toe ek jonger was, het daar mense in my familie aan kanker doodgegaan, en ek wou altyd meer weet oor dié siekte en oor virusse.

My ma is verlede jaar met kolonkanker gediagnoseer, en al werk ek nie vandag direk in die kankerbedryf nie, kon ek haar ten minste help met natuurlike medisyne.

Sy het steeds vir die chemo en radiation gegaan. Dit was moeilik om haar so te sien.

Maar sy het positief gebly en is ’n baie sterk vrou. Ek het gereeld saam met haar gegaan wanneer sy behandeling moes kry.

Ashley se ma, Desiree Uys, werk ook vandag vir sy
Ashley se ma, Desiree Uys, werk ook vandag vir sy maatskappy. Foto: Verskaf

Net soos sy altyd saam met my gegaan het as ek toekennings vir my werk ontvang het.

My ma was altyd baie trots op my. My pa ook.

Toe ek ses jaar oud was, het hy my die koerant laat lees.

Ek het nie geweet wat ek lees nie, maar ek het maar. Hy wou nie hê ek moet myself underestimate nie.

In my matriekjaar het my ma en pa geskei. Ek en my vier broers en suster het nie in Belhar op die Cape Flats met ’n silver spoon in die mond grootgeword nie.

Ons het nie baie gehad nie. Maar daar was liefde.

In die skoolvakansies het ek altyd saam met my pa, wat ’n boubesigheid gehad het, gaan werk.

Ek het die sement aangemaak. Dit was harde, fisiese werk. Maar my pa se besigheid het gevou.

Hy het probleme met dwelms gehad. Dit is ook hoekom my ouers geskei het.

Toe hy uit die huis is, het dit swaar gegaan, want my pa was die broodwinner.

My ma het nie daai tyd gewerk nie. Dit het swaar gegaan.

Dit het my gemotiveer om op ’n jong ouderdom werk te gaan soek.

Ek het begin burglar bars bou vir mense, en ek het toe besluit ek moet gaan studeer en my eie besigheid begin.

Ná skool het ek in 2000 biotegnologie by UWK vir vyf jaar gaan swot.

Toe dit so swaar met ons gegaan het, het my ma in die Oos-Kaap ’n hoër pos gekry. Sy het in 2003 vir ’n jaar daar gaan werk terwyl ons kinders in die Kaap gebly het.

Ek het in daai tyd studeer. Nou is ons net vyf broers.

My suster was 16 jaar oud toe sy vyf jaar terug dood is. Haar outjie was met verkeerde goed betrokke.

Hulle het verbygery en op sy kar geskiet. My suster was saam met hom in die kar. Sy is doodgeskiet.

In 2010 het ek my eie besigheid begin.

Ek is vandag die CEO van Medical Diagnostech. Ek is ’n biotegnoloog en ons doen navorsing en vervaardig nuwe rapid tests vir verskillende virusse soos malaria en HIV.

Ons het onlangs ’n 15-minute-COVID-19-bloedtoets vervaardig.

Ek is baie happy met die performance van dié toetse. Ons wag net vir die lisensie om uitgesorteer te word sodat dit uit kan gaan na die hospitale.

Die toetse wat ons hier maak, is nie wat mense wil hê nie; dit is wat mense nodig het.

Dit verander lewens. Vandag werk daar 35 mense vir my. Al my broers en my ma werk vir my.

Ashley het biotegnologie aan UWK studeer. Foto: Ve
Ashley het biotegnologie aan UWK studeer. Foto: Verskaf

My suster sou ook vir my vandag gewerk het. Sy is ’n jaar voor haar matriekjaar doodgeskiet.

Maar sy het in vakansietye by my maatskappy gewerk. My broers het van die Cape Flats af getrek en bly nou in Kuilsrivier. Ons gesin is al deur baie dinge.

Ons verwerk nou nog my suster se dood.

Dis baie moeilik. Sy was die ekstrovert. En baie fashionable.

Dis hartseer dat een van my broers, die middelkind, ook in die strik geval het soos my pa.

Hy was op dwelms en is nou in ’n mental institution, want dit het sy brein beskadig. Hy het verlede jaar ’n chemical imbalance gehad oor die dwelms wat hy gebruik het.

Hy gaan nou vir die res van sy lewe op medisyne moet wees. My broer doen nou goed. Sodra hy weer gesond is en terug na normaal is, sal hy weer by my kom werk.

Jy kan eintlik sê ek is nou die broodwinner vir die gesin, want my hele gesin werk by my maatskappy. Ons sien nog nou en dan ons pa.

Hy bly in die Kaap.

Ek is ook geskei en het ’n sesjarige seun. Daar is ook nou weer iemand in my lewe. Sy ondersteun my in alles wat ek doen en is awesome.

Ons trek binnekort na ’n nuwe huis in Kuilsrivier.

Maar ja, wetenskap was nog altyd my groot liefde. Dit het my ook al gehelp in my persoonlike lewe.

Jy kan wetenskap in baie dinge in jou lewe toepas. Ek het al baie seergekry by mense, en ek het begin mure om my bou.

Maar hoe ouer jy raak, hoe wyser word jy en leer jy om te vergewe.

Want jy kry ervaringe waar dinge misluk, net soos in ’n laboratorium.

Dinge misluk soms, maar jy leer steeds uit jou foute en jou ervaringe. Maar jy gaan uiteindelik sukses behaal, want die mens is soos ’n boom.

Net soos ’n boom kan groei, kan mense ook.

Baie mense sien wetenskap en God apart.

Maar ek is baie gelowig. Ek het die afgelope paar jare al hoe meer gelowig geraak. Daar was dinge wat ek net nie met wetenskap kon verduidelik nie.

Die moeilikste ding was om my suster te verloor en ook die dwelmmisbruik in ons gesin.

Maar deur elke moeilike ding in my lewe was daar steeds baie seëninge op my lewe. My ma is weer fris en gesond. God was altyd aan my kant.

Hy het my elke keer laat opstaan en aanhou veg. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.