Cathedral bell ringer Eddie Esau
Eddie staan bo in die kloktoring buite die katedraal by een van die 10 klokke wat tot 1,5 ton kan weeg. Foto: ER Lombard/Gallo Images

“Baie dinge het die afgelope tyd hier verander, veral dié dat ons meestal nie eredienste gehad het in die tyd van die pandemie nie.

Maar ek bly die klok deur die week lui. Elke dag om twaalf smiddae. Net om mense se spirits te lig. So saam met die noon gun wat daai tyd ook afgeskiet word. Ek wag vir die noon gun en dan trek ek die tou aan die klok dat die twee so saam-saam gaan.

Ons het twee dae ná die eerste lockdown daarmee begin. Ek lui hom volgens ’n spesifieke method. Drie luie, vier keer ná mekaar, en dan nege strokes. Dis volgens die Angelus-gebed wat ons sê.

Cathedral bell ringer Eddie Esau
Touwys. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Ek lui die klok van Maandag tot Donderdag as deel van die interfaith community se daaglikse minuut van stilte. Dis deel van ons gebede vir vrede in ons land in hierdie tyd wat daar so baie onruste is. Net op Vrydae hou ons terug met die klokluiery sodat ons kan deel in die Moslem Jummah.

Vir my is dit baie inspirerend om die klok vir die mense te lui, want dit help die mense daarbuite om soos wat ek vasklou aan die tou wanneer ek dit doen, hulle vashou aan hul geloof, ’n kersie kan aansteek en hul eie gebede kan opstuur.

Dis uplifting vir die meeste mense wat die klokke hoor. Hulle kan nie kerk toe kom nie, maar hulle kan darem iets hoor van die kerk. Ons kry oproepe van mense wat baie dankbaar is.

Cathedral bell ringer Eddie Esau
Eddie Esau is die koster van die St. George-katedraal in Kaapstad en lui al sedert 1996 dié kerk se klokke. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Ek is die koster van die katedraal sedert 1992. Ek is al van ‘96 hier in die tower. Dis nie alle kosters wat klokke lui nie.

Ons het tien klokke hier. Die kleinste een weeg 215 kg. Die grootste is 1,5 ton. Almal kom van Engeland af.

In 1905 was die klokke buite. Voor hulle in 1972 binne-in die toring gesit is om hulle teen die elemente te beskerm, is dit eers Engeland toe gestuur om te “re-cast”, soos hulle sê. By The Whitechapel Foundry.

Al die klokke het name: Joy, Love, Peace, Faith, Charity, Patience, Sacrifice, Redemption en dan die tenoor, die grote: Good Hope. ’n Vorige archbishop van Kaapstad, Joost de Blank, het die name gegee.

Die een wat ek nou so deur die week sedert lockdown lui, se naam is Service.

Cathedral bell ringer Eddie Esau
Tydens die inperking lui Eddie elke dag om 12 die klok as bemoediging vir gelowiges, en om hulle aan te moedig om te bid vir die beskerming en gesondheid van mense tydens die pandemie. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Ek waarsku altyd mense wat die kloktoring kom besoek dat as jy nie styf vashou nie, en die stay wat die klok stop, breek, dan gaan jy met jou kop deur die gat waar die tou hang. En jy kan ’n rope burn opdoen wat dae lank brand.

Ons oefen in normale tye op Dinsdae en daar is ses tot agt mense wat saam lui aaneen. Maar van covid af is dit net ek en die clergy hier by die katedraal.

Soos bladmusiek praat ons van die method. Maar dis nie musiek nie. Daar is nie ’n tune in nie. Dis die volgorde waarin ons die verskillende klokke moet lui soos die dodge wat 1-2-3-4 en dan weer 4-3-2-1 is.

Cathedral bell ringer Eddie Esau
’n Model van hoe die klokke elk in ’n houtraam hang. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Een van my hoogtepunte was om in 2010 saam met change ringers van Engeland ’n “Peal” te lui. Hulle het een lid makeer en ek moes die ropes leer en instaan. Dis verskillende methods, variations en ander volgordes soos die Reverse Canterbury en Pleasure Bob. Dit hou vir twee ure en langer aan en dis ’n groot eer om dit agter jou naam te kan skryf.   

My ander highlight was in 2005. Ek moes Engeland toe gaan en het daar in die Westminster Abbey in die middel van Londen klokke gespeel. Ek het darem ook die kans gekry om Liverpool toe te gaan.

Dis my soccer team daai. Die season was klaar en ek moes maar kiekies neem voor hulle homeground Anfield-stadium. Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie, maar ek het iemand gevra en is ingelaat sodat ek darem net die veld kon sien.

St. Mary’s in Woodstock het agt klokke. Die ander kerk met baie klokke is op Grahamstad waar daar twee torings met tien klokke is.

En die volgende kerk met so baie klokke is in Zimbabwe.

In die UK is dit in elke kerk op elke hoek.

Ek is lidmaat van die Anglikaanse kerk sedert 1972. Wat gebeur het, ons het ’n kerk gehad op die hoek van Waterkantstraat en Langstraat. But it was demolished and we came over to the cathedral.

Die vorige kerk was in die destydse District 1. My ma Gladys – sy is dood op 81 – het daar grootgeword in Loaderstraat, todat sy met ons Distrik 6 toe is.

In ‘81 is alles daar afgebreek en moes ons Mitchells Plain toe trek weens die wette daai tyd. Ek was 21. Dit was baie hartseer. Jy verloor jou huis. Jy verloor jou plek. We never used public transport voor daai. Ons was toe ver van ons kerk, St. George’s. My pa was toe reeds oorlede. Dit was net ek, my ma en my siblings. Ons is twee susters en twee broers.

Ons het grootgeword in die kerk. My hele familie. Ons het almal iets gedoen in die kerk. My ma was ’n part time koster.

Op skool het ek gedink ek gaan ’n mechanic word. Ek het eers policies verkoop, maar in 1992 het die destydse dean my gevra om die koster hier by die cathedral te word.

Dis vir my lekker om hierdie te doen vir die liefde daarvoor.

Ek het ’n klomp changes gesien hier in die kerk. Vir Archbishop Desmond Tutu wat ingekom het in 1996. Daai was ’n inspiration vir my, want the church was changing. Daar was nooit segregation in die kerk nie. Dit was ’n ander wêreld hier tussen die mure van die kerk as daarbuite. Dit was maar altyd meestal wit lidmate, maar toe nie meer nie.

My dogter, Carmen Hector, is 39. Sy is ’n onderwyseres. My seun, Garth, is op 19 aan Hodgkin's disease dood. Hy was lief vir surf. Dis vir my lekker om te hoor daar by Sea Point Primary ken die mense my nog en onthou hom.


Maar my kinders deel maar nou net nie dié passion van my vir die klokke nie. Dit sou lekker gewees het vir my ma om te sien ek lift die mense se spirits met die klokke gelui.

Alles is die moeite werd. We call people to prayer met die klokke. En as ons Sondae mag kerk toe kom, we call people to service. Dis ’n voorreg.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe