Sy het altyd teen my opgespring wanneer ek gaan kuier het – die klein, besige hondjie Ounooi.

Haar opgewondenheid oor my kuiertjie het my altyd welkom laat voel. Sy was deel van daardie familie – baie meer as wat sy ooit in haar hondehartjie kon weet.

Maar vandag was ’n slegte dag.

Sy het in ’n onbesonne oomblik by die hek uitgeglip en deur die heining by die erf oorkant ingegaan . . . en vergeet van die groot hond wat dié erf bewaak.

Dit was ’n fatale fout en het haar lewe gekos. Haar mensfamilie huil vanaand soos ’n gesin wat ’n regte kind verloor het.

Bejaardes se honde is meer as net ’n troeteldier; hulle word soos kinders en familie.

’n Tannie wat jare lank alleen saam met haar hondjie gebly het, het eenmaal gesê dit sal vir haar moeiliker wees om haar hond te verloor as om ’n kind te verloor en sy het al drie kinders verloor.

Ek kan my dit nie vir ’n oomblik indink of voorstel nie omdat ek nog nooit dag en nag alleen saam met ’n hondjie moes wees nie.

Dalk sit ek ook eendag alleen in ’n huisie of kamertjie met net my hondjie by my. En as ons elke dag saam gaan slaap en saam opstaan, saam voor die TV sit en saam ’n vleisie braai, sal ek dalk beter verstaan.

As jy by jou hondjie moet huil oor jou kinders wat nog ’n keer nie kom kuier het nie of Kersfees alleen saam jou hondjie vier, dan word ’n hondjie seker meer as ’n hondjie.

Hy/sy word familie, ’n maatjie, ’n kind of ’n berader.

Dalk het die Here juis hondjies gemaak om vir ons meer as net ’n hondjie te wees. Dalk was dit sy plan B vir ’n eensame wêreld.

Vanaand dra ek sommer al die hondjies wat meer as net ’n hondjie is aan die Here op. Coenie Calitz

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.