Juan Louis Van der Vyver.Juan Louis Van der Vyver.
Juan Louis Van der Vyver. Foto: Verskaf

Net drie en ’n half jaar later loop hy nou sonder krukke en wil hy sy storie deel om ander te inspireer. 

"Voor die ongeluk het dit gelyk of alles in plek val. Ek het altyd gedink as ek hard studeer en werk en die regte mense ken, kan ek baie geld maak en ’n goeie lewe lei.

Ek was ook baie aktief en het allerhande aktiwiteite gedoen soos hardloop, swem, rugby en kanovaart. Nadat ek in 2012 aan die Worcester Gimnasium gematrikuleer het, het ek regte en geoktrooieerde rekenkunde by die Noordwes-universiteit studeer – maar net twee weke voor ek my finale eksamen sou aflê, het my lewe vir altyd verander. 

Juan Louis
Juan Louis het sy kop in die swembad gekap en het twee dae later in die intensiewe sorgeenheid wakker geword. Foto: Verskaf

Dit was 14 Oktober 2017, en ek het by familievriende se huis geswem. Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie: Al wat ek weet, is ek het in die water geduik, my kop in die swembad gekap en twee dae later in die intensiewesorgeenheid wakker geword. 

Daar is vir my gesê ek het ophou asemhaal toe ek by die hospitaal opgedaag het en die dokters het gesê hulle moes dadelik opereer om my lewe te red.

Ek het my derde, vierde en vyfde werwels beseer. Dokters het gesê ek is verlam vanaf my nek ondertoe en die hoop was skraal dat ek ooit weer sou loop.

Hy was vir 10 dae in die intensiewe sorgeenheid.
Hy was vir 10 dae in die intensiewe sorgeenheid. Foto: Verskaf

Ek was verpletter, maar het ná die eerste week besef ek kan nie die tyd terugdraai nie. Al wat ek kon doen, was om my bes te doen tydens my herstelproses.

Ek was vir 10 dae in die intensiewe sorgeenheid voor ek oorgeplaas is na ’n rehabilitasiesentrum waar ek vyf maande lank was. Dit was baie bemoedigend om te hoor hoe almal vir my bid, selfs mense van reg oor die wêreld.

In rehabilitasie is ek geleer hoe om alles weer te doen, soos omrol, loop en eet, wat baie moeilik was.

Ek was verlam vanaf my skouers ondertoe, en dit was moeilik om my arm op te lig, en hier was ek aangemoedig om weer my hande te gebruik om te eet. Ek het geleidelik sterker geword en ’n bietjie beweging herwin. 

Ek was vir twee maande in ’n rolstoel en het in Desember 2017 met ’n loopraam begin loop, net om daaraan gewoond te raak.

’n Maand later het ek op krukke oor die weg gekom. Personeel by die rehabilitasiesentrum het gevra of hulle vir my ’n rolstoel kan bestel vir wanneer ek huis toe gaan, maar ek het gesê: “Nee, ek glo ek sal weer loop”.

Dit was harde werk, maar op 15 Maart 2018 het ek op krukke by die hospitaal uitgestap. Verlede jaar het ek ’n kierie begin gebruik en ek benodig nie meer krukke nie. 

Ek het ná die ongeluk God gevra hoekom dit gebeur het, wat die plan was en wat ek hieruit kon leer. En ek het toe besef ek was voor die ongeluk ongeduldig en skielik het alles stadiger gebeur, wat ’n reuse-terugslag was.

 Dokter het gesê die hoop is skraal dat hy weer so
Dokter het gesê die hoop is skraal dat hy weer sou loop. Foto: Verskaf

Ek het dus beslis geleer om geduldig te wees. Maar ek het ook besef die enigste ding waaroor ek beheer het, is om my beste te lewer met die herstelproses en om al die tyd te gebruik wat ek benodig om te oefen. En vandaar het ek hard gewerk. 

Die uitdagendste deel was die gedagte dat ek nie meer dinge op my eie kon doen nie, en die moeilikste tydperk was toe ek nie juis vordering in 2019 gesien het nie. Ek het gedink dis verby. Maar my familie en vriende se ondersteuning het ’n groot rol in my herstel gespeel. Ek was gelukkig omdat my hele familie my steeds ondersteun, en sonder hulle sou ek nie kon positief bly nie. 

Deel van my reis is om my leerkontrak af te handel om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. Ek het verlede jaar vir PwC begin werk waar ek my articles doen. 

My storie het my laat besef wonderwerke gebeur nog. Alles in my lewe was beplan, en ek het besef ja, jy kan ’n plan hê, maar dit sal nie altyd uitspeel soos jy gedink het nie. 

Ek dink dis die boodskap wat ek wil uitstuur, veral omdat ek ’n Christen is. God het altyd planne en Sy planne raak nooit op nie, en ek dink Hy wil jou net ’n hupstoot op jou pad gee.

Voor sy ongeluk was Juan Louis baie aktief.
Voor sy ongeluk was Juan Louis baie aktief. Foto: Verskaf

Ek wil nie regtig fokus op hoe hard ek in rehabilitasie moes werk en hoe ver ek gekom het nie – kom ons sê maar net dit bied perspektief op watter groot wonderwerk hierdie is.

Ons is dikwels geneig om te soek vir die groot deurbrake in die lewe en om die klein stappe wat jy moet neem om by daardie deurbraak uit te kom gering te skat."

Ekstra bronne: Youtube, Netwerk24.com