Werkloos en sonder enige werkvooruitsig, moes die 46-jarige man iets doen om sy situasie te verander, min wetende dat sy wanhopige daad soos ’n veldbrand sou versprei.

Nadat hy 26 jaar lank by ’n bekende maatskappy as projekbestuurder gewerk het, het Craig eendag in April vanjaar by die werk gekom en gehoor hulle benodig nie meer sy dienste nie.

Hy het vir ’n ruk lank aangevoel iets skort.

“Ons sou gewoonlik elke twee weke bywerkings oor die status van ons kontrakte ontvang, maar die weke het maande geword en ons het niks gehoor nie; daarom het ek geweet ek is in die moeilikheid,” sê hy.

Terwyl hy gewag het vir die bom om te bars, het hy vir ander werk begin soek. “Ek het my CV gemiddeld vier tot vyf keer per dag uitgestuur. En toe kry ek goeie nuus. Ek is aangestel as projekbestuurder by ’n groot maatskappy en sou op 2 Oktober begin werk. Maar ’n week voor ek sou begin is die projek onbepaald uitgestel.

“Ek en my verloofde het toe al ons spaargeld opgebruik en reeds die huishoudelike begroting soveel as wat ons kon, gesny. Ons het die laaste twee maande nie vleis in die huis gehad nie.”
- Craig Hardman

Die terugslag het hom egter nie van stryk gebring nie. Craig het aanhou aansoek doen vir die een werk ná die ander, wetend dat hy vir sy verloofde, hul 15 maande oue baba en sy twee kinders uit ’n vorige verhouding moes sorg.

Ná maande het die hoop in wanhoop verander en Craig het die idee gekry om sy werksoektog na die strate van Johannesburg te neem.

Hy sê hy het eendag wakker geword, Spar toe gegaan en ’n stuk karton gekoop om ’n plakkaat te maak. 

“Ek het vir my verloofde gesê ek het besluit om by die verkeerslig op die hoek van Hendrik Potgieter- en Fredenharry-weg te staan en my CV uit te deel. Hoewel my familie ondersteunend was, kon ek sien dit breek hul hart om my in die pad met my plakkaat te sien.”

Die eerste dag was aaklig. Craig beskryf die ervaring as vernederend.

“Dit het gelyk asof die ouens wat pamflette uitdeel meer pamflette uitdeel as wat ek CV’s uitgedeel het.

“Op die tweede dag het ’n bestuurder my geroep en ek het opgewonde nader gehardloop, net om vir aanwysings gevra te word.”

Die pa van drie sê hy wou tou opgooi en nie weer teruggaan nie, maar het geweet hy het nie ’n ander keuse nie.

“Ek het hoop verloor. Maar ek moes dit aanhou doen vir my gesin. Ons moes oorleef en dit was ’n laaste uitweg om ’n werk te kry. Ek het op die derde dag ’n bietjie vroeër na die kruising gegaan en ’n vrou het stilgehou en my CV gevra. Daarna het nog mense stilgehou. Daardie dag het ek meer as 40 CV’s uitgedeel.”

Craig is sedertdien vol bespreek vir onderhoude en het heelwat positiewe terugvoer gekry, hoewel hy nog wag om ’n werk aangebied te word.

Sy veldtog het intussen in die sosiale media versprei en mense wat hom aanlyn gesien het, het hom gekontak.

“Ek het nooit in ’n miljoen jaar gedink dit sou aanlyn versprei nie. Ek het gedink ek sal ’n paar likes en ’n kommentaar of twee kry, maar toe ek laas tel, was dit sowat 14 000 keer gedeel, en dis sowat 6 miljoen keer dat mense dit gesien het."

“Ons foon hou nie op lui nie; mense vra vir my CV, wens my sterkte toe en bel net om vir ons te bid. Die vriendelikheid van familie, vriende en vreemdelinge was oorweldigend.”

Craig hoop nou om ’n stabiele werk te kry sodat hy en sy gesin kan nesskop en hy die pot aan die kook kan hou.

“Ek beplan ook om almal wat ons gehelp het persoonlik te probeer bedank en om die vriendelikheid aan ander oor te dra op enige manier wat ek kan.”