Die inperking het ons geleer om buite die boks te dink. Oornag het ons aangepas en met stemopnames oor WhatsApp die kinders gemotiveer om te werk en hul ouers bygestaan.

Werkopdragte aanlyn gestuur, foto’s ontvang en hul werk geprys.

En toe, eindelik, kon ek regmaak vir die terugkeer van my gr. 1’tjies. En nog nooit was my hart so seer nie.

Ek moes kolle op die vloer plak om hulle en my uitmekaar te hou en te beskerm. Tafels 1,5 m van mekaar skuif en met ’n enkele stoel by elk.

My klaskamer, wat altyd ’n plek van warmte en samesyn was, het koud en klinies gevoel.

Hoe sou die kinders daarby aanpas?

Maar vandag staan ek voor my klassie, hul maskers op en hande ontsmet. My gr. 1’tjies het oornag so volwasse en verantwoordelik geword.

Ek is so trots op hulle en op hul ouers wat so hard werk, tuis en by hul werkplekke. Ouers wat geldelik noustrop trek, maar steeds hul bes doen.

Jul juffrou dink julle is wonderlik, my groot gr. 1’tjies!

– Juffrou in hart en siel