Geraldene Michaels (48), ’n tuisteskepper, dink die assistent het nie gevra of sy dink sy het dit nodig nie, maar het haar volgens haar voorkoms beoordeel en toe besluit sy het dit nodig.

Sy deel haar verhaal met Huisgenoot.com ten einde bewustheid aan te wakker dat nie alle mense wat oorgewig is, dit so verkies nie – die oorsaak is soms medies van aard.

“Ek het, sedert ek ’n jong meisie was, met my gewig gesukkel,” sê sy.

“Ek het in my groeijare baie metodes beproef om van my oortollige gewig ontslae te raak, maar my dokter het later vir my gesê ek het moontlik ’n skildklier-wanbalans – wat my metabolisme beduidend beïnvloed en wat dit vir my liggaam moeilik maak om vet vinniger te verbrand."

“Voordat ek dit geweet het, het my gewig my gehinder. Ek het tallose maniere beproef om van my gewig ontslae te raak, maar tevergeefs. Ek was nooit in staat om meer as een of twee kilogram af te skud nie, al het ek ook hóé hard probeer. Ek het altyd gewigsverliesprogramme by gimnasiums gevolg, maar het nooit enige merkbare gewig verloor nie. Ek het by Weigh-Less aangesluit en het selfs privaat- en hospitaaldieetkundiges besoek. Ek was al by ’n dokter wat my drie inspuitings per week gegee het. Ek is ook na die Instituut vir Sportwetenskap in Kaapstad vir ’n program wat 12 weke geduur het, maar ek was teleurgesteld met die resultaat."

“Ek het Herbalife, asook baie ander produkte, in die winkels gekoop, maar selfs hulle het geen verskil gemaak nie. Ek gebruik tans geen suiker nie, ek kies liewer versoeters. My man is ’n diabeet, dus braai ek glad niks in olie nie. Ek probeer om so gesond moontlik te kook. Ek is ook nogal taamlik gesond – ek ly nie aan enige gewigsverwante siektes soos diabetes of hoë cholesterol nie."

“Mense wat my etiketteer as lui of vet, is nie daarvan bewus dat ek al al hierdie dinge deurgemaak het in my poging om my gewig te beheer nie. Ek glo dit is die oorsaak van baie mense se vetsug, maar niemand hoor van hulle nie."

“My ondervindings in die openbaar as ’n oorgewig persoon is soms werklik pynlik.  Mense groet jou met die opmerking: ‘O, jy’s vet, jy voer ’n goeie bestaan, jy het die luukse van te veel eet – sonder dat hulle in werklikheid weet wat ek eet of hoe ek eet."

"Ek sê nie ek is ’n heilige nie, maar ek weet ek hou matigheid voor oë."

“Die pynlikste en beskamendste ondervindings is wanneer mense na my toe kom in winkels of inkoopsentrums en dan vra of ek nie hul produkte wil beproef om my te help om gewig te verloor nie. Hulle ken my nie, hulle weet niks van my gesondheid of die rede waarom ek vet is nie. "

“Dis nie aangenaam om heeltyd te loop en verduidelik nie. Ek verval ook soms in depressie omdat ek werklik graag gewig wil verloor – dit sou dinge soveel makliker maak vir my, want ek het artritis in my rug, skouers, arms en selfs tot in my hande. Ek voel ook daar word teen my gediskrimineer oor my gewig, selfs wat betrekkings aanbetref."

"Sommige mense het dalk ’n gesondheidsprobleem wat niemand kan sien nie, maar myne is ongelukkig sigbaar."

“Aan persone wat mense soos ek beskaamd maak oor hul vet julle weet nie hoe jul aanmerkings my laat voel nie. Ek probeer dit ignoreer, maar dit maak nog steeds seer."

"Mense behoort te probeer verstaan voor hulle oordeel – dit sal ’n yslike verskil maak aan die selfbeeld van mense met gewigsprobleme.”