Jan Simonsz-Coe het drie maande lank in die hospit
Jan Simonsz-Coe het drie maande lank in die hospitaal vir haar lewe baklei. Foto: Verskaf.

“Waarskuwingsverhale is nou noodsaaklik,” sê sy. “Dit is baie maklik om die werklikheid te vergeet van die situasie waarin ons is. Daar word ook ’n sekere vlak van stigma geheg aan die goed wat ek deurgemaak het en mense moenie verplig voel om in stilte te ly nie. Ek wil ’n kollig werp op my ervarings, vir myself net soveel as almal anders.” 

Hier is Jan se storie

“Ek en my man, Dave, het vir jare na ’n baba gehunker, maar die tydsberekening was nooit reg nie. Eindelik het ons besluit om te probeer ten spyte van die pandemie – grootliks omdat my ma vir langer as 12 jaar teen kanker gestry het en ek ’n baba wou hê voor sy sterf. 

Ek het swanger geraak, maar ek was baie siek en Dave en my ma moes na alles omsien. Ná die eerste trimester is ons kus toe vir ’n blaaskans. Ek het begin beter voel en kon die meeste van ’n bord kos baasraak. Ek het begin dink ek het ’n draaipunt bereik – min het ek geweet wat voorlê. 

Ons was nog met vakansie toe my man tekens van covid begin toon. Die volgende week was ’n warboel van chaos en kwarantyn wat daarop uitgeloop het dat 10 van ons in my familie covid gekry het. My ma en my pa, wat verskeie onderliggende siektes het, was onder hulle. 

Ek het ook positief getoets, maar eers het ek gedink ek het lig daarvan afgekom. My simptome was basies uitputting en naarheid, maar dit kon ek hanteer. Dave, aan die ander kant, het ál sieker geword. Ons moes ons na Kaapstad terughaas en het hom reguit na die Kingsbury-hospitaal gevat.

Die land was op die kruin van die tweede golf. Hospitaalbeddens was skaars en ons is met die nodige medisyne huis toe gestuur. Maar my pa is vir ’n ruk opgeneem. My baie siek ma het op die een of ander manier die ergste van covid vrygespring. 

Jan en haar man, Dave.
Jan en haar man, Dave. Foto: Verskaf.

Vir my het dinge vinnig begin skrikwekkend raak. Ek kon nie ophou opbring nie en het op 23 weke in kraam gegaan. Ek het ook erg gebloei. Dave het met my na die hospitaal gehaas, waar ek ’n verpleegster hoor sê het: “Dokter, daar’s soveel bloed.” 

Ek is na die kraamsaal geneem en op medikasie gesit om my baba, ’n seun, te probeer binne hou. Die doelwit was om 24 weke te bereik sodat hy ’n kans op oorlewing sou hê. 

Ons het nie so ver gekom nie. Skielik het ek weer gebloei en die ginekoloog het gesê ek het ontsluit en moes kraam. Dave kon nie by my wees nie. Toe die baba gebore is, was hy blou. Maar toe hy in my arms gesit is en die ginekoloog vra wat sy naam is, het dit gelyk of hy self bykom. 

Connor, dit was sy naam. Met Dave op video-oproep het ons ’n paar uur saam met hom deurgebring terwyl ons wag dat hy sterf. 

Jan besig om fisioterapie te ondergaan.
Jan besig om fisioterapie te ondergaan. Foto: Verskaf.

Ek het later ingesluimer en toe ek wakker word, was Connor dood en het ek ’n suurstofmasker op my gesig gehad. Ek het gehoor my lewenstekens het verswak en ek word na die waaksaal geneem. 

Dit is toe dat covid werklik posgevat het. Ek kon nie huil nie, want ek kon nie asemhaal nie en ek moes ’n bewustelike besluit neem om my smart op die agtergrond te skuif en te rou as ek dit anderkant uit maak. 

Ek het baie amper nie. 

My lewenstekens het verder verswak en ek is op ’n ventilator gesit. Ek is in ’n geïnduseerde koma geplaas en in die daaropvolgende maande het ek baie keer amper gesterf. Ek het vele prosedures ondergaan, vele keer orgaanversaking gehad en klebsiella opgedoen – ’n baie ernstige infeksie en een van die ergste superkieme wat daar is. Ek was septies en op die rand van die dood. 

Later het ek teen alle verwagting in wakker geword en David se liefdevolle gesig na my gesien afkyk. Ek het gehoor amper drie maande het verloop en ek kon dit nie glo nie. Toe besef ek ek kan nie my lyf beweeg nie en my stem is weg. 

Jan en haar pa, Charlie.
Jan en haar pa, Charlie. Foto: Verskaf.

Wanneer iemand vir ’n lang tyd in ’n koma of kritiek siek is, kan hulle kritiekesiekte-polineuropatie ontwikkel – periferale senusiekte wat die pasiënt slap of tydelik kwadruplegies laat buiten vir party harsingsenuwees. 

My stem was weg weens die trageotomie – die lug kom by die gat in jou nek uit pleks van deur jou stemkas. 

Dit het sowat 10 dae gevat om vir my ’n toestel te kry wat my in staat gestel het om te praat. Selfs nadat ek die toestel ontvang het, kon ek net twee woorde met elke asemteug baasraak. 

Met die hulp van kenners moes ek alles weer leer doen: my vingers beweeg, sluk, self eet, tande borsel, my bene beweeg. 

Ek was ongelooflik gelukkig. Ek het wêreldklasbehandeling by Kingsbury gehad en die dokters, verpleegsters en fisioterapeute, en so baie ander, het alles en meer gedoen, en ek is hulle ewig dankbaar. 

Ná 79 dae in die waaksaal het hulle vir my die eer gegee om vir my hande te klap toe ek ontslaan word. Ek is in ’n ambulans gelaai en na die Vincent Pallotti-rehabilitasiesentrum gebring. Dit was die eerste keer in drie maande dat ek die lug gesien het. 

Dit was ook die oomblik toe ek besef het my ma het net dae oor. Sy het deur my stryd om lewe geveg, maar eindelik, ná die grootste stryd wat baie mense ooit sal sien, het die kanker begin wen. 

Die rehabilitasiesentrum het my uitgelaat om haar te gaan groet. My familie het my op die bed langs my ma gesit en ons twee, wat meestal nie kon beweeg nie, gelos om ons laaste vaarwel te sê.

Dit was moeiliker as enigiets wat ek deurgemaak het. Dit was ’n fisieke pyn om in haar oë te kyk en te weet ek sou dit nooit weer sien nie. 

Jan en haar ma, Shelley.
Jan en haar ma, Shelley. Foto: Verskaf.

Ek het na die rehabilitasiesentrum teruggekeer waar ek weer moes leer regop sit en staan. Op die een of ander manier het my ma ’n bietjie langer uitgehou. Eindelik het my pa vir my kom sê sy was op haar einde. Sy sou daardie dag sterf. 

Ek is na haar bed teruggeneem waar my hele familie bymekaargekom het. Die laaste ding wat ek vir haar gesê het, was: ‘Ons sal nou oukei wees, Ma. Jy kan gaan.’ Tien minute later is sy dood. 

Sedertdien baklei ek vir ’n mate van ’n normale lewe. Ek kom daar, maar die vordering is stadig en ek het werklike uitdagings vorentoe. Ek is nou by die huis saam met Dave en ons geliefde hond, Toby. Maar loop is moeilik en ek sukkel om te konsentreer, wat dit vir my onmoontlik maak om nou terug te keer na my werk as bestuurder by ’n mediese praktyk. 

Ek hoop iemand leer dalk iets uit wat ek deurgemaak het. As jy ’n baba verloor, deel dit en laat ander mense jou vertroos. Om daaroor te praat sal ook die stigma verbreek wat steeds aan ’n miskraam kleef. 

Koester jou ma – sy is die enigste een wat jy het. En as sy enigiets soos myne is, is sy ’n baie spesiale mens. 

En laastens, moenie dink covid sal nie met jou gebeur nie. Hierdie ding wil ons almal hê. Dra jou masker. Hou jou afstand. Kry jou inspuiting wanneer jy kan. Moenie dink ‘dis net ’n virus’ nie. Dit is nie. Vertrou my. Jy wil dit nie hê nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe