Ek droom van ’n wit Kersfees saam met ons kinders in Kanada.

Dit is nou al jare dat ons maar dapper voortgaan terwyl ons kinders en kleinkinders anderkant die waters woon. Ons glimlag wanneer ons daaroor praat, maar diep binne-in ons is die verlange en seer groot.

Dit is veral groot in die Kerstyd; die een tyd van die jaar wanneer families eintlik bymekaar moet wees.

Ek dink terug aan my kinderdae in die 1960’s toe ons van die beste Kerstye in my ouerhuis beleef het toe die hele gesin nog bymekaar was.

Ons het dit met min geld spesiaal gemaak. Met blinkertjies en gom het ons die mooiste versierings gemaak om aan ons Kersboom te hang, ’n dennetak waarvoor pa gesorg het.

Ons het briefies aan Kersvader geskryf en ’n kussingsloop aan elkeen se kopstuk gehang vir die spesiale aflewering wat sou kom. Die kleurryke pakkies het vir ure se speel en vreugde gesorg.

Kersdag se kerkdiens was die eerste ding die oggend. Stille Nag is altyd gesing. Daarna was dit ma se Kersete by ’n tafel wat ons drie dogters met servette, rooi kerse en blomme uit die tuin verfraai het.

Maar vandag is dit anders. Families is oor die aardbol versprei en nuwe tale en kulture word aangeleer. Tegnologie maak dit makliker, maar dit vervang nie die sien, vashou en drukkies van jou kinders nie.

Jy sit ’n dapper masker op en sê dit is beter en voordeliger vir die kinders noudat hulle in die vreemde woon, maar in jou gedagtes stoei jy met die voor- en nadele van dié besluit.

So baie van ons is in dié bootjie. Ons elkeen moet op ons eie manier sy of haar verlange hanteer. Ek het nooit gedink ek sal deel van dié span wees nie.

– Milé 
Skryf vir ons